Gaan na inhoud

Christiaan IX van Denemarke

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Christiaan IX
Koning van Denemarke
Christiaan, omstreeks 1900-06.
Christiaan, omstreeks 1900-06.
Periode 15 November 186329 Januarie 1906
Voorganger Frederik VII
Opvolger Frederik VIII
Huis Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg
Vrou Louise van Hesse-Kassel
Kinders Frederik VIII van Denemarke
Alexandra, koningin van die Verenigde Koninkryk
George, koning van Griekeland
Dagmar, keiserin van Rusland
Thyra, kroonprinses van Hannover
Prins Waldemar van Denemarke
Vader Friedrich Wilhelm, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg
Moeder Prinses Louise Caroline van Hesse-Kassel
Gebore 8 April 1818, Gottorp, Sleeswyk
Oorlede 29 Januarie 1906, Kopenhagen

Christiaan IX (8 April 1818 – 29 Januarie 1906) was van 16 November 1863 tot met sy dood op 29 Januarie 1906 koning van Denemarke. Van 1863 tot 1864 was hy terselfdertyd die Hertog van Sleeswyk, Holstein en Lauenburg.

Hy was 'n jonger seun van Friedrich Wilhelm, die Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, en het grootgeword in die hertogdom Sleeswyk as 'n prins van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg, 'n junior tak van die Huis van Oldenburg, wat sedert 1448 oor Denemarke regeer het. Hoewel hy nabye familiebande met die Deense koningshuis gehad het, was hy oorspronklik nie in die onmiddellike opvolgingslinie van die Deense troon nie.

Ná die vroeë dood van sy vader in 1831 het Christiaan in Denemarke grootgeword en is hy opgevoed aan die Militêre Akademie Kopenhagen. Nadat hy nie daarin kon slaag om die jawoord van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk te kry nie, is hy in 1842 getroud met sy dubbele kleinniggie, prinses Louise van Hesse-Kassel.

In 1852 is Christiaan gekies as vermoedelike erfgenaam van die Deense troon in die lig van die verwagte uitsterwing van die senior linie van die Huis van Oldenburg. Ná die dood van koning Frederik VII van Denemarke in 1863 het Christiaan die troon bestyg as die eerste Deense monarg van die Huis van Glücksburg;[1] hy was Frederik se kleinneef en die man van Frederik se niggie, Louise van Hesse-Kassel.

Die begin van sy bewind is gekenmerk deur die Deense nederlaag in die Tweede Sleeswykse Oorlog en die daaropvolgende verlies van die hertogdomme Sleeswyk, Holstein en Lauenburg. Dit het die koning geweldig ongewild gemaak. Die volgende jare van sy bewind is oorheers deur politieke dispute, want Denemarke het pas in 1849 'n konstitusionele monargie geword en die magsbalans tussen die koning en parlement was nog nie gevestig nie. Ten spyte van sy aanvanklike ongewildheid en die baie jare van politieke onmin, waarin die koning in konflik met groot dele van die bevolking was, het sy gewildheid aan die einde van sy bewind toegeneem en het hy 'n nasionale ikoon geword danksy die lengte van sy bewind en die hoë standaarde van persoonlike moraliteit waarmee hy geïdentifiseer is.

Christiaan se ses kinders by Louise het in ander Europese koninklike families ingetrou en hy het bekend geword as die "skoonvader van Europa". Onder sy afstammelinge tel koning Frederik X, koning Filip van België, koning Harald V van Noorweë, groothertog Henri van Luxemburg, koning Charles III van die Verenigde Koninkryk en koning Felipe VI van Spanje.[2]

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Geboorte en familie

[wysig | wysig bron]
Prins Christiaan se geboorteplek, Gottorf-kasteel in Sleeswyk-Holstein, die setel van die koninklike goewerneurs van die hertogdomme Sleeswyk en Holstein (2007).

Christiaan IX is op 8 April 1818 naby die dorp Sleeswyk, destyds in Denemarke, gebore.[3] Hy was 'n prins van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck en die vierde oudste seun van Friedrich Wilhelm, die hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, en prinses Louise Caroline van Hesse-Kassel.[4]

Prins Christiaan se vader, Friedrich Wilhelm, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, van 1825 af die Hertog van Glücksburg.

Hy is genoem na sy ma se neef prins Christiaan Frederik van Denemarke, die latere koning Christiaan VIII.

Prins Christiaan se vader was die hoof van die Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Beck, 'n junior manlike tak van die Huis van Oldenburg. Die familie het afgestam van koning Christiaan III van Denemarke se jongste seun, Johannes die Jongere, Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg, wie se kleinseun hertog Augustus Filip sy bande met Denemarke verbreek en na Duitsland geëmigreer het waar hy Huis Beck in Wesfale gekoop het. Dié linie is daarna Schleswig-Holstein-Sonderburg-Beck genoem.[5] Sy seuns was in die diens van Pruise, Pole en Rusland totdat sy agter-agter-kleinseun, prins Christiaan se vader, weer in Deense militêre diens getree het. Hy was in Holstein gstasioneer.[6]

Deur sy vader was prins Christiaan dus 'n direkte manlike afstammeling van koning Christiaan III van Denemarke. Hy was 'n aanspraakmaker op die troon van die dubbele hertogdom Sleeswyk-Holstein, maar nie die eerste een nie. Hy het nie 'n aanspraak op enige Europese troon gehad nie.

Kinderlewe

[wysig | wysig bron]
Die huis van prins Christiaan se kinderdae, Glücksburg-kasteel in Sleeswyk-Holstein (2005).

Die prins het aanvanklik saam met sy ouers en baie broers en susters in sy grootouers aan moederskant se woning, Gottorf-kasteel, gewoon wat die gebruiklike setel van die goewerneurs van die hertogdomme Sleeswyk en Holstein was. Op 6 Junie 1825 het koning Frederik VI hertog Friedrich Wilhelm aangestel as die Hertog van Glücksburg. Hertog Friedrich Wilhelm het sy titel na die Hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg verander en dus die jonger Glücksburg-linie gestig.[7]

Die gesin het toe na Glücksburg-kasteel verhuis. Op 17 Februarie 1831 is hertog Friedrich Wilhelm egter op 46-jarige ouderdom dood. Hy het sy vrou agtergelaat met 10 kinders en geen geld nie. Prins Christiaan was 12 jaar oud.

Opvoeding

[wysig | wysig bron]
Prins Christiaan se surrogaatvader, Frederik VI van Denemarke, wie se koningin, Marie van Hesse-Kassel, Christiaan se tante was. Die twee prinsesse was sy niggies.

Ná die dood van sy vader het koning Frederik VI en William van Hesse-Philippsthal-Barchfeld, 'n goeie vriend van die hertog, die wettige voogde van prins Christiaan en sy nege sibbes geword.[8] Prins Christiaan wou 'n vlootopleiding kry, maar die koning en Christiaan se ma het saamgestem dat hy na Kopenhagen gestuur word om as leëroffisier opgelei te word. In 1832, die jaar ná sy vader se dood, het die 14-jarige Christiaan na Kopenhagen verhuis waar hy aan die Landkadetakademie opgevoed is. Hy het privaat lesse gekry en was selde saam met die ander kadette.[8][9] Die koninklike egpaar, wat nie 'n seun gehad het nie, het die seun egter goed versorg, want koningin Marie was sy ma se suster en koning Frederik sy ma se niggie. In 1838 is prins Christiaan se oudste broer, hertog Karl van Glücksborg, getroud met die koning en koningin se jongste dogter, prinses Vilhelmine Marie, en dit het die bande tussen hulle verder versterk.

Prins Christiaan se tuiste van 'n lang tyd, die Geel Paleis in Kopenhagen (2006).

In 1836 het prins Christiaan sy opleiding voltooi en hy het in die koninklike perdewagkasernes ingetrek. Daar het hy 'n eenvoudige lewe gelei totdat koning Frederik VI hom in 1839 in die Geel Paleis, 'n 18de-eeuse stadshuis, laat woon het. Hy het tot in 1865 daar gewoon.[8]

Van 1839 tot 1841 het prins Christiaan grondwetlike reg en geskiedenis saam met sy halfneef prins Frederik Willem van Hesse-Kassel aan die Universiteit van Bonn in Duitsland studeer. Daar het hy in Desember 1839 die nuus ontvang dat sy weldoener koning Frederik VI oorlede is en sy ma se neef koning Christiaan VIII geword het.

Die vermoedelike erfgenaam

[wysig | wysig bron]

Huwelik

[wysig | wysig bron]
Prins Christiaan se eerste huweliksaansoek was aan koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk.

As jong man het prins Christiaan die koning verteenwoordig op die kroning van koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk in Westminster-abdy.[10] Gedurende sy verblyf in Londen het hy onsuksesvol probeer om Victoria die jawoord te vra. Hoewel sy by haar familie se wense gehou het om met haar neef prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha te trou, het die jong Christiaan 'n goeie indruk op Victoria gemaak. Hy het 25 jaar later die skoonpa van haar oudste seun, die Prins van Wallis, geword.[11]

Prins Christiaan en prinses Louise in die 1840's.

In plaas daarvan het Christiaan in 'n huwelik getree wat groot gevolge vir sy toekoms sou inhou. In 1841 was hy verloof aan sy kleinniggie prinses Louise van Hesse-Kassel.[10] Sy was die dogter van prins William van Hesse-Kassel, 'n Deense generaal en die goewerneur van Kopenhagen. Prins William was getroud met die suster van koning Christiaan VIII van Denemarke, prinses Charlotte. Louise was dus die nuwe koning se niggie. Nes prins Christiaan self was sy 'n agterkleindogter van beide Frederik V van Denemarke en landgraaf Frederik II van Hesse-Kassel, en dus sy dubbele kleinniggie. Hulle is op 26 Mei 1842 in haar ouerhuis in Amalienborg getroud.[10]

Louise was 'n wyse en energieke vrou wat 'n groot invloed op haar man uitgeoefen het. Ná die huwelik het die egpaar in die Geel Paleis gaan woon en hulle eerste vyf kinders is tussen 1843 en 1853 hier gebore: prins Frederik in 1843, prinses Alexandra in 1844, prins Willem in 1845, prinses Dagmar in 1847 and prinses Thyra in 1853.[12] Die gesin was steeds redelik onbekend en het 'n beskeie lewe gelei gemeet aan koninklike standaarde.

Deense opvolgingskrisis

[wysig | wysig bron]
Prinses Louise se oom, Christiaan VIII van Denemarke, het voor 'n moeilike opvolgingskrisis te staan gekom.

In die 1840's het dit al hoe duideliker geword dat die Deense monargie op 'n opvolgingskrisis afstuur. Die opvolging van die troon is bereël deur 'n wet wat koning Frederik III in 1665 afgekondig het vir sy afstammelinge.[13]

Toe koning Christiaan VIII sy neef koning Frederik VI in 1839 opvolg, was die ouer manlike linie van die Huis van Oldenburg op die punt van uitsterwing, want die koning se enigste seun en regmatige erfgenaam, kroonprins Frederik, kon blykbaar nie kinders verwek nie en die koning se enigste broer, prins Ferdinand, se huwelik met koning Frederik VI se dogter was kinderloos.[14]

Koning Frederik VII se kinderloosheid het 'n moeilike probleem vir die Deense kroon veroorsaak, want die opvolgingsreëls in die verskillende dele van die Deense monargie het verskil, en die skeuring van die monargie het 'n moontlikheid geword.[15]

Die hertogdomme Sleeswyk, Holstein en Lauenburg voor 1864.

Die reeds ingewikkelde kwessie van die opvolging is verder bemoeilik deur ewe ingewikkelde politieke kwessies. Nasionalisme en liberalisme was aan die toeneem in Europa. Duitse nasionale liberales wou Sleeswyk en Holstein tot elke prys verenig hou en wou hê dit moet saam 'n outonome Duitse staat word, terwyl Deense nasionale liberaliste daarop aangedring het dat Sleeswyk deel van Denemarke bly en dit geskei word van Holstein, wat dan deel van Duitsland kon word. Dié uiteenlopende sienings het alle hoop op 'n vreedsame oplossing verhinder.

Christiaan Augustus II, Hertog van Seeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg, wat aanspraak gemaak het op die trone van die hertogdomme gedurende die opvolgingskrisis.

Terwyl die nasies van Europa toegekyk het, het die talle afstammelinge van Hedvig van Holstein begin wedywer om die Deense troon. Frederik VII het behoort tot die senior tak van Hedvig se afstammelinge. As die senior tak sou uitsterf, sou die Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg die mees senior tak van die Huis van Oldenburg word, maar die lede het nie van Frederik III afgestam nie. In die hertogdomme het Christiaan Augustus II, die hertog van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg, aanspraak gemaak op die posisie van erfgenaam van die trone van Sleeswyk en Holstein, omdat hy die hoof van die huis van Augustenburg was. Hy het dus die simbool van die nasionalistiese Duitse onafhanklikheidsbeweging in Sleeswyk-Holstein geword.

Die vroulike afstammeling wat volgens Frederik III se aanvanklike wette die grootste aanspraak op die trone gehad het, was die kinderlose Caroline, dogter van Frederik VI van Denemarke, en haar kinderlose suster, Vilhelmine Marie. Die volgende erfgenaam was Louise, die suster van Frederik VI, wat met die Hertog van Augustenburg getrou het. Die hooferfgenaam van dié linie was dieselfde Frederik van Augustenburg, maar hy was eers troonopvolger ná die twee kinderlose prinsesse.

'n Meer junior tak van die familie wat afstammelinge van Frederik III was, kon ook die troon van Sleeswyk-Holstein bestyg: Christiaan; sy oudste broer, Karl, wat kinderloos was; en nog twee broers wat seuns gehad het.

Prins Christiaan as troonopvolger saam met sy kinders Dagmar, Willem en Alexandra.

Aanstelling as erfgenaam

[wysig | wysig bron]

In 1851 het die Russiese keiser aanbeveel dat prins Christiaan in die Deense troonopvolging bevorder word. In 1852 is die netelige kwessie van die Deense troonopvolging eindelik opgelos deur die Londense Protokol van 8 Mei 1852, wat deur Brittanje, Frankryk, Rusland, Pruise en Oostenryk onderteken is, en deur Denemarke en Swede bekragtig is. Christiaan is gekies tot die vermoedelike opvolger van Frederik VII se oom, en hy sou dus koning word as die mees senior linie tot die Deense troon sou uitsterf.

Die regverdiging vir dié keuse was sy huwelik met Louise van Hesse-Kassel, wat die dogter van die naaste vroulike familielid van Frederik VII was. Louise se moeder, broer en ouer suster het afstand van hulle aanspraak gedoen ten gunste van Louise en haar man.

Die besluit is deur die Deense Opvolgingswet van 31 Julie 1853 in werking gestel. Prins Christiaan en sy gesin het daarna die titels prins en prinses van Denemarke gekry, asook die aanspreekvrom "Hoogheid".[16]

Bernstorff-paleis, prins Christiaan se somerwoning as vermoedelike erfgenaam (2006).

As tweede aanspraakmaker op die troon het prins Christiaan en sy gesin steeds in die Geel Paleis gewoon. Hulle het egter die reg gehad om die Bernstorff-paleis as somerwonng te gebruik. Hier is hulle jongste seun, prins Waldemar, in 1858 gebore.[12] Met sy doop het prins Christiaan en sy gesin die titel "Koninklike Hoogheid" gekry. Finansieel het dit egter nie goed met hulle gegaan nie.

Prins Christiaan se aanstelling as vermoedelike erfgenaam is nie oral ewe geesdriftig begroet nie. Sy verhouding met die koning was koel, want die kleurryke Frederik VII het nie van die reguit, militêre prins gehou nie. Hy het verkies dat Christiaan se oudste seun, die jong prins Frederik, sy plek inneem, deels omdat prins Christiaan en prinses Louise openlik hulle afkeer van die koning se morganatiese, derde vrou, die aktrise Louise Rasmussen, gewys het. Sy het die titel gravin Danner gekry.[14]

Polities het prins Christiaan ook min invloed as vermoedelike erfgenaam gehad. Dit was deels weens die wantroue van grafin Danner, in 'n mate vanweë Christiaan se waargenome konserwatisme, wat hom ook die wantroue van die magtige Nasionale Liberale Party op die hals gehaal het. Eers in 1856 het die politikus Carl Christoffer Georg Andræ, wat na aan die prins was, hom 'n setel in die staatsraad verseker.[17]

Die jaar 1863 was vol belangrike gebeure in die lewe van prins Christiaan en sy gesin. Op 10 Maart is die oudste dogter, prinses Alexandra, getroud met die Prins van Wallis (die toekomstige koning Edward VII van die Verenigde Koninkryk). Op 20 Maart is sy tweede seun, prins Willem, gekies as koning van Griekeland, en het hy die Griekse troon bestyg as George I.[12] Op 15 November 1863 het prins Christiaan self koning Christiaan IX geword.

Vroeë bewind

[wysig | wysig bron]

Troonbestyging

[wysig | wysig bron]
2 Deense riksdaler van 1863 – die dood van Frederik VII en die troonbestyging van Christiaan IX.

Op 15 November 1863 is koning Frederik VII ná 'n bewind van 16 jaar onverwags op die ouderdom van 55 jaar oorlede. Dit het 'n einde gebring aan die 415 jaar lange bewind van die hooflinie van die Huis van Oldenburg op die Deense troon. Christiaan het die troon op 45-jarige ouderdom bestyg as Christiaan IX.

Prins Frederik van Augustenburg, aanspraakmaker op die trone van die hertogdomme as Frederik VIII (1863).

Christiaan en Denemarke is dadelik in 'n krisis gedompel oor die besit en status van die hertogdomme Sleeswyk en Holstein. Prins Frederik van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg (die toekomstige skoonpa van keiser Wilhelm II van Duitsland) het reeds in November 1863 aanspraak gemaak op die trone van die hertogdomme en hom uitgeroep as Frederik VIII, Hertog van Sleeswyk-Holstein. Frederik van Augustenburg (soos wat hy algemeen bekend was) het die simbool geword van die nasionalistiese Duitse onafhanklikheidsbeweging in Sleeswyk-Holstein nadat sy pa (in ruil vir geld) afstand gedoen het van sy plek as erfgenaam van die trone. Frederik se aanspraak is nie erken deur die partye van die Londense Protokol van 8 Mei 1852, wat 'n einde aan die Eerste Oorlog van Sleeswyk gebring het, nie.

Tweede Oorlog van Sleeswyk

[wysig | wysig bron]

Christiaan het onder druk die November-grondwet onderteken, 'n verdrag wat Sleeswyk deel van Denemarke gemaak het. Dit het gelei tot die Tweede Oorlog van Sleeswyk in 1864 tussen Denemarke en 'n Pruisies/Oostenrykse alliansie. Die vredeskonferensie het geëindig sonder dat 'n gevolgtrekking bereik is. Die oorlog was ongunstig vir Denemarke en het gelei tot die inlywing van Sleeswyk by Pruise in 1865. Holstein is in 1865 by Oostenryk ingelyf en toe in 1866 by Pruise ná 'n verdere konflik tussen Oostenryk en Pruise.

Ná die verlies het Christiaan IX Pruise agter die rug van die Deense regering gekontak en aangebied dat die hele Denemarke by die Duitse Bond sal aansluit as Denemarke met Sleeswyk en Holstein verenig kon bly. Die voorstel is deur Bismarck verwerp, want hy was bang dat die etniese stryd in Sleeswyk tussen Dene en Duitsers dan onopgelos sou bly. Christiaan IX se onderhandelings was nie openbaar bekend nie totdat dit in die boek van 2010 Dommedag Als gepubliseer is deur Tom Buk-Swienty, vir wie koningin Margrethe II toegang tot die koninklike argiewe gegee het.[18]

Latere bewind

[wysig | wysig bron]

Grondwetlike stryd

[wysig | wysig bron]
Portret deur Henrik Olrik, 1871.

Die nederlaag van 1864 het vir baie jare 'n skadu oor Christiaan IX se bewind gegooi en daar is, moontlik sonder grondige rede, beweer sy houding jeens die Deense saak was halfhartig. Sy gewildheid het verder afgeneem terwyl hy onsuksesvol probeer het om die verspreiding van demokrasie deur Denemarke te voorkom deur hom te skaar by die outoritêre en konserwatiewe premier, Jacob Estrup, wie se bewind van 1875-'94 deur baie as 'n halfdiktatorskap beskou is.

Hy het egter in 1874 'n verdrag onderteken om Ysland, wat toe 'n Deense besitting was, toe te laat om sy eie grondwet te hê, hoewel onder Deense heerskappy. In 1901 het hy Johan Henrik Deuntzer teensinnig gevra om 'n regering te vorm, en dit het gelei tot die vorming van die "kabinet van Deuntzer". Die kabinet het bestaan uit lede van die Venstre-hervormingparty en was die eerste Deense regering wat nie die konserwatiewe party Højre ingesluit het nie. Dit was die begin van die Deense tradisie van parlementarisme en het sy reputasie in sy laaste jare verbeter.[19]

Nog 'n hervorming het in 1866 plaasgevind, toe die Deense grondwet hersien is sodat die land se opperkamer meer mag kon hê. Sosiale sekuriteit is ook tydens sy bewind verbeter. Pensioene is in 1891 ingestel en werkloosheids- en gesinsvoordele in 1892.

Laaste jare

[wysig | wysig bron]

Teen die einde van sy bewind het die koning se gewildheid toegeneem en het hy 'n nasionale ikoon geword danksy sy lang bewind en die hoë standaarde van persoonlike moraliteit waarmee hy vereenselwig is.[20] Die viering van sy en koningin Louise se goue huweliksherdenking in 1892 het dus 'n groot en opregte huldeblyk van die volk aan die koning en koningin geword. Dit was 'n groot kontras met die gematigde viering van hulle silwer huweliksherdenking in 1867.[21]

In 1904 het die koning bewus geword van die pogings van 'n posklerk, Einar Holbøll, wat die idee gekry het om Kersseëls in poskantore oor die hele Denemarke te verkoop om baie nodige geld in te samel vir mense met tuberkulose, wat in 'n ontstellende mate in Denemarke voorgekom het. Die koning het sy idee goedgekeur en die Deense poskantoor het daarna die wêreld se eerste Kersposseël verkoop, wat meer as $40 000 ingesamel het. Die seël het 'n foto van sy vrou, koningin Louise, bevat.[22]

Koning Christiaan IX se begrafnisoptog op 16 Februarie 1906.

Dood en opvolging

[wysig | wysig bron]

Koningin Louise is op 29 September 1898 op 81 oorlede. Koning Christian IX is sewe jaar later, op 29 Januarie 1906, vreedsaam op 87 oorlede ná 'n bewind van 42 jaar en 75 dae. Nadat hy in Kopenhagen in staatsie gelê het, is hy op 16 Februarie 1906 langs koningin Louise begrawe op die eiland Seeland, die tradisionele begraafplaas van Deense konings sedert die 15de eeu.

Ná sy dood het kroonprins Frederik hom op 62-jarige ouderdom opgevolg as Frederik VIII.

Koningin Louise op die Deense Kersseël van 1904, die wêreld se eerste Kersseël.
Christiaan IX op 'n Deense Kersseël wat in die jaar van sy dood, 1906, uitgereik is.

Europa se 'skoonvader'

[wysig | wysig bron]

Christiaan en Louise het ses besonder suksesvolle kinders gehad:

Vier van sy kinders was óf die monarg óf die vrou van ’n monarg van Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Rusland en Griekeland. ’n Vyfde, Thyra, sou koningin van Hannover geword het as haar man se monargie nie afgeskaf is net voor hy die troon sou bestyg nie. Waldemar is die troon van Bulgarye aangebied, maar moes onder druk afstand doen daarvan. Sy kinders se huwelike was nie eintlik danksy Christiaan nie, maar vanweë die ambisies van sy vrou, Louise. Sy is in daardie opsig vergelyk met koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk. Vandag is die meeste van die heersende en gewese heersende koninklike families van Europa direkte afstammeling van koning Christiaan IX, asook van koningin Victoria.

Christiaan IX saam met sy familie in 1883 in die Fredensborg-paleis, deur Laurits Tuxen.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Schleswig-Holstein-Sonderburg-Glücksburg Royal Family". Monarchies of Europe. Besoek op 15 Augustus 2016.
  2. "HM King Christian IX of Denmark". European Royal History. Besoek op 15 Augustus 2016.
  3. Hindø, Lone; Boelskifte, Else (2007). "Døbt i Gottorp Sloskapel" [Baptised in the Gottorp Castle Chapel]. Kongelig Dåb. Fjorten generationer ved Rosenborg-døbefonten [Royal Baptisms. Fourteen generations at the Rosenborg baptismal font] (in Deens). Forlaget Hovedland. p. 83. ISBN 978-87-7070-014-6.
  4. Montgomery-Massingberd, Hugh, red. (1977). Burke's Royal Families of the World. Vol. 1: Europe & Latin America. Londen: Burke's Peerage Ltd. p. 280. ISBN 0-85011-023-8.
  5. Bramsen 1992, p. 50.
  6. Bramsen 1992, p. 63.
  7. Bramsen 1992, p. 78-82.
  8. 8,0 8,1 8,2 Thorsøe 1889, p. 523.
  9. "HM King Christian IX of Denmark". Henry Poole & Co. 17 Junie 2013. Besoek op 15 Augustus 2016.
  10. 10,0 10,1 10,2 Thorsøe 1889, p. 524.
  11. Bramsen 1992, p. 117-118.
  12. 12,0 12,1 12,2 Montgomery-Massingberd, Hugh, red. (1977). Burke's Royal Families of the World. Vol. 1: Europe & Latin America. London: Burke's Peerage Ltd. p. 69. ISBN 0-85011-023-8.
  13. Ekman, Ernst (1957). "The Danish Royal Law of 1665". The Journal of Modern History. 29 (2): 102–107. doi:10.1086/237987. ISSN 0022-2801. S2CID 145652129.
  14. 14,0 14,1 Scocozza 1997, p. 182.
  15. Glenthøj 2014, p. 136-37.
  16. Royal Ordinance settling the Succession to the Crown on Prince Christian of Glücksburg. from Hoelseth's Royal Corner. Besoek op 7 November 2011.
  17. Scocozza 1997, p. 183.
  18. Hemmeligt arkiv: Kongen tilbød Danmark til tyskerne efter 1864 18 August 2010 (politiken.dk)
  19. Scocozza 1997, pp. 185–88.
  20. Scocozza 1997, p. 188.
  21. Bramsen 1992, p. 166.
  22. Ostler, 1947, pp. 35–38

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Aronson, Theo (2014). A Family of Kings: The descendants of Christian IX of Denmark (2nd uitg.). Londen: Thistle Publishing. ISBN 978-1910198124.
  • Beéche, Arturo E.; Hall, Coryne (2014). APAPA: King Christian IX of Denmark and His Descendants. East Richmond Heights, Kalifornië: Eurohistory. ISBN 978-0985460341.
  • Bramsen, Bo (1992). Huset Glücksborg. Europas svigerfader og hans efterslægt [The House of Glücksburg. The Father-in-law of Europe and his descendants] (in Deens) (2nd uitg.). Kopenhagen: Forlaget Forum. ISBN 87-553-1843-6.
  • Chaffanjon, Arnaud (1980). Histoires de familles royales : Victoria d'Angleterre - Christian IX de Danemark et leurs descendances de 1840 à nos jours (in Frans). Parys: Ramsay. ISBN 9782859561840.
  • Fabricius-Møller, Jes (2013). Dynastiet Glücksborg, en Danmarkshistorie [The Glücksborg Dynasty, a history of Denmark] (in Deens). Copenhagen: Gad. ISBN 9788712048411.
  • Glenthøj, Rasmus (2014). 1864 : Sønner af de Slagne [1864 : Sons of the defeated] (in Deens). Kopenhagen: Gads Forlag. ISBN 978-8712-04919-7.
  • Lerche, Anna; Mandal, Marcus (2003). A royal family : the story of Christian IX and his European descendants. Copenhagen: Aschehoug. ISBN 9788715109577.
  • Olden-Jørgensen, Sebastian (2003). Prinsessen og det hele kongerige. Christian IX og det glücksborgske kongehus [The princess and the whole kingdom. Christian IX and the royal house of Glücksburg] (in Deens). Kopenhagen: Gad. ISBN 8712040517.
  • Ostler, Fred J. (1947). Father of the Christmas Seal (PDF). Coronet Printing.
  • Scocozza, Benito (1997). "Christian 9.". Politikens bog om danske monarker [Politiken's book about Danish monarchs] (in Deens). Kopenhagen: Politikens Forlag. pp. 182–189. ISBN 87-567-5772-7.
  • Thorsøe, Alexander (1889). "Christian 9.". Dansk Biografisk Leksikon (1ste) III. Kopenhagen: Gyldendal. 523–526. 
  • Van der Kiste, John (1996). Northern crowns : the kings of modern Scandinavia. Stroud, Gloucestershire: Sutton Publishing. ISBN 9780750911382.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]