Gaan na inhoud

Reddingswese

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
NSRI

Die internasionale reddingswese is hoofsaaklik op seeredding toegespits, naamlik op skeepsrampe en vliegtuigrampe ter see. In Suid-Afrika word seereddingsoperasies deur die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika (NSRI), in samewerking met verskeie ander instansies soos die Suid-Afrikaanse Lugmag, uitgevoer. In 1960 is daar op 'n internasionale konvensie oor die veiligheid van mense ter see standaarde gestel ten opsigte van die seewaardigheid van reddingsbote en die aantal reddingsbote op skepe.

Op die gebied van ondergrondse redding na mynrampe beskik die Kamer van Mynwese oor 'n reddingsdiens wat dikwels ook hulp verleen in buurlande.

Nasionale Seereddingsinstituut

[wysig | wysig bron]

Die Nasionale Seereddingsinstituut van Suid-Afrika, wat op 29 Mei 1967 gestig is, is 'n lid van die internasionale reddingsbootorganisasie wat elke 4 jaar vergader en raad en inligting oor redding ter see uitruil. Net soos verskeie Europese en Suid-Amerikaanse lande, is die Suid-Afrikaanse reddingsorganisasie 'n private instelling - in die VSA, Japan, Australië, Nederland, België, Denemarke en die Oosbloklande word dit deur die staat beheer.

Die NSRI is op aandrang van die Suid-Afrikaanse tak van die Internasionale Vereniging van Skeepskapteins gestig en stel hom dit ten doel om veiligheidstandaarde ten opsigte van bote te bevorder en ʼn veiligheidsbewussyn by booteienaars aan te moedig. Dit oefen beheer uit oor reddingsbote en -toerusting by verskeie plekke aan die kus van Suid-Afrika en Namibië en lei bemanningslede op om opgewasse te wees in enige noodgeval.

NSRI - Stasie, Port St. Francis, Oos-Kaap

Die reddingsdiens, het aanvanklik met een opblaasboot in Kaapstad (waar die hoofkwartier is) begin. Daar is ook noue samewerking tussen die NSRI en die Suid-Afrikaanse Polisie, die Suid-Afrikaanse Vloot, die Suid Afrikaanse Lugmag, handelsvlieg en helikopterdienste en eienaars van private en handelsbote.

Die Lugmag voorsien byvoorbeeld tweerigtingradio's waarmee die reddingsbote met die helikopters en soekvliegtuie ten tye van reddingsoperasies in verbinding kan bly. Hoewel alle bemanningslede goeie swemmers moet wees, gebruik hulle dikwels 'n lewenslyn wanneer ʼn drenkeling gered word.

Baie reddingstasies het duiklong- of scubaduikgeriewe (scuba = selfcontained underwater breathing apparatus) en hoewel die reddingsbote oor die algemeen nie so gesofistikeer is soos die van die Duitsers, die Franse en die Britte nie, lewer die NSRI 'n doeltreffende diens wat wyd bewondering afdwing. Die NSRI is 'n organisasie sonder winsbejag met die president as beskermheer.

Dit ontvang 'n staatsbydrae, maar word ook finansieel gesteun deur die handel en nywerheid, terwyl Suid-Afrikaanse oliemaatskappye dit van gratis olie en brandstof voorsien. Dit maak verder op donasies van lede en op ondersteuningsfondse staat.

Helikopters

[wysig | wysig bron]

Benewens reddingsbote vervul helikopters 'n toenemend belangrike rol in die redding van mense wat ter see en elders in gevaar verkeer. Die Suid-Afrikaanse. Lugmag bedryf 'n seereddingsdiens uit Durban en verleen dikwels hulp aan buurlande.

Tydens die oorstromings in Transkei in 1978 is verskeie reddingsvlugte onderneem om noodvoorrade na inwoners van die land te bring en gestrande mense te red. Soortgelyke werk is tydens die Laingsburg-ramp in Januarie 1981 gedoen. Op versoek van die Deense regering is bystand ook indirek aan die land verleen toe 'n vragskip van die land, die Pepice, in die Mosambiekkanaal gestrand het. Die matrose is later met 'n helikopter van die Lugmag gered.

Aangesien die helikopter 'n beperkte vlugbereik het, moes dit eers uitmekaar gehaal word en per vliegtuig na Europa-eiland naby Maputo gebring word, waar dit weer aanmekaar gesit is. 'n Kommersiële helikoptermaatskappy, Court, het in 1978 143 matrose gered nadat hul skepe by die Kaap van Storms in gevaar verkeer het. Helikopters word ook gebruik om pasiënte wat dringend gespesialiseerde mediese hulp nodig het, na die bepaalde geriewe te vervoer.

Suid-Afrikaanse Lewensreddersvereniging

[wysig | wysig bron]

Die Suid-Afrikaanse Lewensreddersvereniging (SALSA), wat in 1961 gestig is, lewer oor die hele land 'n belangrike diens deur talle drenkelinge van verdrinking te red. Die vereniging bied ook onderrig oor lewensreddingsmetodes en die bybring van drenkelinge aan. Skole en swemklubs in verskeie sentra is by die vereniging geaffilieer.

Ondergrondse redding

[wysig | wysig bron]

AI die groot Suid-Afrikaanse myne het reddingsdienste wat in tye van noodtoestande, sowel plaaslik as in buurlande, hulp verleen. Reddingsopleiding word reeds vir meer as 'n halfeeu deur die Kamer van Mynwese aangebied en daar is teenswoordig opleidingsentra in Johannesburg, Dundee, Witbank en Welkom. Kandidate ondergaan streng fisieke en mediese keuring en word tydens hul opleiding aan temperature van tot 100 °C blootgestel om die toestande in 'n myn tydens 'n ondergrondse brand na te boots.

Die reddingswerk word vrywillig en teen geringe vergoeding gedoen en die spanne moet 24 uur per dag op 'n gereedheidsgrondslag wees. 'n Reddingspan bestaan gewoonlik uit vyf mense, naamlik 'n groep van vier manne met 'n kaptein in beheer wat die kritieke besluite moet neem. Die uiters moeilike werkomstandighede en die veeleisendheid van die taak word geïllustreer deur die feit dat vier reddingswerkers gewoonlik nodig is om een vasgekeerde mynwerker te red.

Daarbenewens is daar ook vrywilligers wat hulpdienste verleen, byvoorbeeld om reddingsuitrusting te vervoer en brande te blus. Hoewel dit in die verlede soms dae geneem het om 'n mynbrand te blus (in 1968 was 318 reddingspanskofte nodig om 'n brand by die Harmonymyn te blus), word die soort noodtoestand teenswoordig makliker onder beheer gebring, onder meer vanweë die gebruik van beton en glasvesel in die mynstutte en deur doeltreffender waarskuwing- en opsporingstelsels.

Die reddingsuitrusting is ook moderner en doeltreffender. Die konvensionele saamgeperste-suurstofpak, waarin yspakke dikwels gebruik word om die lug te verkoel en so keel- en longbeserings te probeer voorkom, is 'n aantal jare gelede deur 'n nuwe pak uit Duitsland vervang. Die pak bevat vloeibare suurstof wat die reddingswerkers in staat stel om koeler lug in te asem en makliker asem te haal, wat hulle ondergrondse werkvermoë verdubbel.

Die voorbereiding van laasgenoemde duur langer as in die geval van die ou pak - met die ou toerusting duur dit ongeveer 20 minute vir die spanne om ondergronds te gaan. Vroeër was daar ook geen verbinding tussen die reddingspanne en hul varslugbasisse nie, maar 'n tweerigtingradio wat deur die Kamer van Mynwese ontwerp is en waarvan die werking nie deur soliede ondergrondse rots belemmer word nie, is 'n aantal jare gelede in gebruik geneem en vergemaklik teenswoordig die reddingstaak baie.

Die varslugbasis word altyd aan die geventileerde kant van die brand ingerig. Onder meer word kanaries daar gehou sodat hulle as waarskuwing teen gasvergiftiging kan dien (hulle haal vinniger asem as mense en toon dus vinniger vergiftigingsimptome). Voordat die brand geblus kan word, moet die reddingswerkers eers die vasgekeerde mynwerkers bevry, nood-asemhalingsapparaat aan hulle koppel en hulle in veiligheid bring. Daarna word die brand met water of skuim geblus.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]