Gaan na inhoud

Jimmy Carter

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
James E. Carter Jr.
39ste President van die Verenigde State
Ampstermyn 20 Januarie 197720 Januarie 1981
Voorganger Gerald Ford
Opvolger Ronald Reagan
Geboortedatum 1 Oktober 1924 (1924-10-01) (100 jaar oud)
Geboorteplek Plains, Georgia
Sterftedatum
Sterfteplek
Eerste Dame Rosalynn Carter
Politieke party Demokraat
Visepresident Walter Mondale
Handtekening

James Earl Carter Jr. (gebore 1 Oktober 1924) was die 39ste president van die Verenigde State, van 1977 tot 1981. Voor dit was hy die goewerneur van die Amerikaanse staat Georgia. Hy het in 1979 die Camp David-vredesooreenkoms tussen Egipte en Israel help sluit. Carter is bekend as ’n godsdienstige persoon wat baie liefdadigheidswerk doen. Hy is ook 'n outeur en ontvanger van die 2002 Nobelprys vir Vrede.[1][2]

Belangrikste prestasies

[wysig | wysig bron]
Carter se inhuldiging as 39ste president van die Verenigde State in 1977.

James Earl Carter (Jimmy) se belangstelling in politiek kan teruggevoer word na sy pa, wat op Georgia se wetgewende liggaam gedien het. Sy politieke loopbaan het in 1962 begin toe hy vir die senatorskap van die staat Georgia gestaan het. Hy het vir twee agtereenvolgende termyne as senator van Georgia gedien. Gedurende hierdie periode het hy bekend geraak vir sy fiskale konserwatisme en sosiale liberalisme. Hy het veral daarin belanggestel om die onderwysstelsel te verbeter.

In 1974 – net voor die einde van sy tweede termyn as senator – het hy sy besluit bekend gemaak om hom verkiesbaar te stel as 'n kandidaat in die presidensiële verkiesing. Carter het die verkiesing gewen en op 20 Januarie 1977 is hy as president van Amerika ingehuldig. Kort ná die verkiesing het hy egter begin om die steun van liberale Demokrate wat nie saamgestem het met sy ekonomiese beleid nie, te verloor.

In Julie 1980 het Carter die laagste goedkeuringsyfer van enige president in die geskiedenis gehad. Die gyselaarskrisis by die Amerikaanse ambassade in Teheran – waar 50 Amerikaners aangehou is – het grootliks bygedra tot Carter se beeld van swakheid en onbevoegdheid. In 1980 het hy die verkiesing verloor en is Ronald W. Reagan as die nuwe president van Amerika aangewys. Carter het egter nog steeds aktief betrokke gebly en as vryskut-ambassadeur vir 'n aantal internasionale sendings gewerk en presidente geadviseer oor die Midde-Ooste en menseregtevraagstukke.

Later het Carter verskeie boeke geskryf, die Carter Center by die Emory-universiteit gestig en vir die Habitat for Humanity – wat huise vir die armes gebou het – gewerk. Hy het ook dwarsoor die wêreld getoer en met die verkiesing in Panama gehelp. Hy is ook baie betrokke by humanitêre aangeleenthede en het vredesonderhandelinge in Soedan, Eritrea en Ethiopië aangewakker.

Een van sy grootste pogings om vrede te bevorder, het in 1994 plaasgevind, toe hy met die Noord-Koreaanse leiers oor die kwessie van internasionale inspeksie van kernterreine vergader het. Hy het ook aan die hoof gestaan van 'n groep Amerikaanse afgevaardigdes wat na Haiti gegaan het om die militêre leiers te oorreed om op 'n vreedsame manier die leisels oor te gee aan die verkose president (wie se bewind hulle omvergewerp het). In 2002 het Carter die Nobel-prys vir Vrede ontvang vir sy volgehoue pogings om oplossings vir internasionale konflik te kry, die bevordering van demokrasie en menseregte en om ekonomie en sosiale ontwikkeling te bewerkstellig.

'n Kort lewensgeskiedenis

[wysig | wysig bron]
Carter op 13-jarige ouderdom.
Rosalynn ("Rose") Carter was die naaste adviseur van haar man tydens sy presidentskap en het ook aan kabinetsvergaderings deelgeneem. Die amptelike portretfoto het in 1977 ontstaan

James Earl Carter (Jimmy) is op 1 Oktober 1924 in Plains, Georgia, in die VSA gebore. Hy is die oudste seun van James Earl Carter en Lillian Gordy Carter. Sy ouers het 'n grondboontjieplaas en -pakhuis gehad. Carter het sy onderrig in Plains ontvang. Terwyl hy nog op skool was, het hy grondboontjies verkoop en die geld gespaar. Op dertienjarige ouderdom het hy hom as 'n sakeman bewys toe hy met sy spaargeld vyf huise gekoop en verhuur het.

Hy het sy hoërskoolloopbaan met vlieënde vaandels geslaag en het onder die hoogs presterende leerlinge van sy skool getel. Hy was so gefassineer deur die stories van sy ma se broer, wat in die vloot was, dat hy by die Amerikaanse Vlootakademie aansoek gedoen het. In 1942 is sy aansoek goedgekeur en het hy in Annapolis by die Vlootakademie met opleiding begin. Hy het ook die Georgia-instituut van Tegnologie bygewoon voor hy by die vloot aangesluit het.

Carter het in die laaste jare van die Tweede Wêreldoorlog op somervaarte gegaan en het in 1946 gegradueer. In die somer voordat hy gegradueer het, is hy met sy suster se beste vriendin, Rosalynn Smith, getroud. Hulle het vier kinders gehad: John, James Earl (Chip), Jeffrey en Amy. Carter het vir langer as ses jaar as 'n vlootoffisier in die Amerikaanse vloot gewerk. Nadat hy diens gedoen het op die USS Pomfret in die Stille Oseaan, is hy gekies as een van die offisiere om onder kaptein Hyman Rickover op die kernduikbootprogram te werk.

In 1953, ná die dood van sy vader, het hy uit die vloot bedank en na Plains teruggekeer om die familieplaas te bestuur. Aan die begin het dit swaar gegaan, maar ná 'n paar jaar het die besigheid weer begin floreer. Carter het ook op die kerkraad gedien en was 'n Sondagskoolonderwyser by die Baptistekerk in Plains.

Sy politieke loopbaan het begin toe hy op die plaaslike raad van onderwys in Georgia gedien het. In 1962 het hy hom as senator van die staat Georgia verkiesbaar gestel. Hy het die verkiesing gewen en is in 1964 herverkies. In 1970 is hy verkies tot goewerneur van Georgia. Carter het vinnig bekend geword as gevolg van die manier waarop hy op die ekologie gefokus het, sy doeltreffende regering en sy pogings om rasseskeiding te verwyder.

In 1974 het hy aangekondig dat hy hom as 'n presidentskandidaat in die volgende verkiesing beskikbaar sou stel. Hy het dadelik met 'n groot veldtog begin. Twee jaar daarna het hy die verkiesing met 297 stemme teenoor president Gerald R. Ford se 241 gewen. In 1980 het hy egter die verkiesing verloor (een rede, wat hiervoor aangevoer word, was die daaglikse mediadekking van die Amerikaanse gyselaarsdrama in Teheran in die hoofnuus van televisienetwerke) en Ronald W. Reagan het hom opgevolg as die nuwe president van die VSA.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. "The Nobel Peace Prize 2002" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Julie 2018. Besoek op 6 Oktober 2017.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Wiki-webtuistes

Dokumentêre rolprente


Voorganger:

Gerald R. Ford

Presidente van die Verenigde State Opvolger:

Ronald Reagan