Gaan na inhoud

Groothertog Konstantyn Pawlowitsj van Rusland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Hierdie naam is volgens die Oos-Slawiese gebruik; die patroniem is Pawlowitsj en die van is Romanof.

Konstantyn Pawlowitsj
Groothertog

Huis Romanof
Vader Paul van Rusland
Moeder Sophia Dorothea Augusta Louisa van Württemberg
Gebore 8 Mei [O.S. 27 April] 1779,
Tsarskoje Selo, Russiese Ryk
Oorlede 27 Junie [O.S. 15 Junie] 1831,
Witebsk (nou in Belarus)
Eggenote Prinses Juliane van Sakse-Koburg-Saalfeld
Joanna Grudzińska
Kinders 3 (by minnaresse)

Konstantyn Pawlowitsj (Russies: Константи́н Па́влович; 8 Mei [O.S. 27 April] 1779 – 27 Junie [O.S. 15 Junie] 1831) was ’n groothertog en tsesarewitsj van Rusland en onderkoning van Kongres-Pole.

Jeug en agtergrond

[wysig | wysig bron]

Konstantyn was die tweede oudste seun van tsaar Paul van Rusland en Sophia Dorothea Augusta Louisa van Württemberg, in Rusland beter bekend as Maria Fjodorowna.

Hy is streng deur sy ouma keiserin Katharina die Grote grootgemaak. Dit was haar ambisie om hom op die troon van Griekeland te plaas. Katharina is in 1796 oorlede en is opgevolg deur Konstantyn se pa, Paul. Hy is egter in 1801 vermoor deur ’n groep offisiere wat Konstantyn se oudste broer, Aleksander I, op die troon wou hê. Toe Aleksander tsaar word, het Konstantyn die nuwe tsesarewitsj (troonopvolger) geword.

Loopbaan

[wysig | wysig bron]
Konstantyn by die Slag van Novi.

Konstantyn het in 1799 deelgeneem aan die Italiaanse veldtog teen Napoleon Bonaparte, waar hy hom onderskei het by die Slag van Novi.

Aleksander het hom in 1815 benoem as opperbevelvoerder en later as onderkoning in die Kongreskoninkryk Pole, wat in daardie jaar gestig is. Hy het die leër hervorm, maar het nie geweet hoe om steun te verwerf nie. Hy het met ’n ystervuis regeer, maar ná sy morganatiese huwelik met die Poolse gravin Joanna Grudzińska in 1820 het hy meer gewild geraak.

Ná die troue het hy in 1822 afstand gedoen van sy aanspraak op die Russiese troon. Dit is egter geheim gehou en ná die dood van Alexander I in 1825 het verwarring ontstaan oor die troonopvolging. Konstantyn is in sy aanwesigheid tot tsaar verklaar, maar is nooit gekroon nie. Toe sy jonger broer, Nikolaas I, na vore tree om tsaar te word, het ’n groep wat as die Dekabriste bekend was, in opstand gekom. Die opstand is deur die nuwe keiser Nikolaas I onderdruk, maar het tweespalt tussen die broers veroorsaak.

In 1830 het die Novemberopstand in Pole uitgebreek. Weens sy onbegrip en onbevoegdheid het Konstantyn beheer oor die weermag verloor en is ’n mislukte sluipmoordaanval op hom uitgevoer. Om te keer dat die opstand uitbrei, het hy en sy troepe Warskou inderhaas ontruim. Daarna het hy na Pole teruggekeer om dit te probeer onderdruk.

Dood en nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Kort daarna, op 27 Junie 1831, is hy in Witebsk (nou in Belarus) aan cholera dood. Hy het die keiserlike familie voortdurend uitgedaag en dit is in Rusland as dapper beskou,[1] maar in Pole is hy gesien as ’n tiran en wrede despoot[1][2] wat deur die soldate én die burgerlikes gehaat is.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 Maya Kucherskaya. "Deviant behavior of Grand Duke Constantine Pavlovich as the trigger of his success and failure (on materials of Russian and Polish literatures)" (in Engels). American Association of Teachers of Slavic and Eastern European Languages. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Oktober 2019.
  2. Konstanty Pawłowicz. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]