Seepunt
Seepunt Sea Point | |
---|---|
Voorstad | |
Uitsig oor Seepunt. | |
Koördinate: 33°54′55″S 18°23′33″O / 33.91528°S 18.39250°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Metropolitaanse Munisipaliteit | Kaapstad |
Oppervlak | |
• Totaal | 1,58 km2 (0,61 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 13 332[1] |
• Digtheid | 8 400/km2 (22 000/vk. myl) |
Tydsone | UTC+2 (SAST) |
Poskode | 8005 |
Skakelkodes | 021 |
Seepunt is een van Kaapstad se oudste voorstede en ook een van die digs bevolkte. Die voorstad lê tussen die Atlantiese Oseaan en Vlaeberg en word begrens deur Groenpunt in die noorde en Fresnaye in die suide.
Seepunt is 'n kusvoorstad waar veelverdieping-woonstelblokke ontstaan het, en het tot 'n gewilde woonbuurt vir bewoners en beleggers ontwikkel. Voor die onlangse styging in eiendomspryse is Seepunt as 'n gevaarlike voorstad beskou, omdat enkele woonstelblokke deur hul eienaars verwaarloos is. Beleggers beskou egter Seepunt as 'n voorbeeld van stedelike herlewing en herstel. Baie woonstelle is deur buitelanders, soos Britse, Duitse en Nederlandse beleggers gekoop.
Geskiedenis
Toe die Seepunt-tremlyn in 1862 geopen is, het die gebied tot Kaapstad se eerste "slaapstad" vir pendelaars ontwikkel, alhoewel die lyn aanvanklik na Kampsbaai geloop het. Teen die vorige eeuwisseling is die tremlyn deur die Metropolitaanse en Voorstedelike Spoorwegmaatskappy uitgebrei tot die middestad.
Die 19de eeuse ontwikkeling van Seepunt is veral deur die invloed van sy bekendste inwoner, Saul Solomon, die liberale afgevaardigde vir Kaapstad, aangespoor. Solomon, wat bekendheid as die stigter van die Engelsmedium-dagblad Cape Argus en die land se invloedrykste liberale politikus verwerf het, was 'n uitgesproke teenstander van rasse-ongelykheid aan die Kaap.
Sy rondekerk, St John's, wat in 1878 ingewy is, het sy sinkretistiese benadering tot godsdiens weerspieël. Gemeentes van vier verskillende godsdienste is in die gebou gehuisves, wat in die volksmond as "Solomon se tempel" bekend gestaan het. Die kerk is volgens 'n besluit van die stadsraad in die 1930's afgebreek.
Skepe, wat Tafelbaai vanuit die ooskus van Afrika binnegevaar het, moet langs die kus by Seepunt maneuvreer. Baie skepe is deur die plaaslike riwwe gestrand. In Mei 1954 het die Basuto Coast, 'n skip van 246 ton, net enkele meter voor die betonmuur van Seepunt se promenade op rotse geloop.
In Julie 1966 het 'n groot vragskip, die S.A. Seafarer, enkele honderd meter voor Drieankerbaai se strand op rotse geloop. Die skip se gevaarlike vrag van vate met tetrametiel-lood en tetraetiel-lood, vlugtige en uiters giftige verbindings wat destyds as anti-pingelmiddel by petrol gemeng is, het 'n groot bedreiging vir die plaaslike ekosisteem ingehou. Die skip is gaandeweg deur sterk Atlantiese branders vernietig.
Vanaf die middel- tot die laat-1990's was misdaad in Seepunt aan die toeneem nadat dwelmhandelaars en prostituées hulle hier gevestig het. Die bestryding van misdaad is deur die destydse stadsraadslid Jean-Pierre Smith suksesvol georganiseer.
Wapen
Seepunt en Groenpunt het van 1839 tot 1913 hulle eie munisipaliteit gehad. Dir raad het in 1901 'n wapen in gebruik geneem. Die skild is gedeel en toon (1) die seinmaste op Seinheuwel (wat Groenpunt verteenwoordig) (2) 'n halwe goue leeu uitkomend uit die deellyn (wat Seepunt verteenwoordig). In die middel is 'n klein blou skildjie met drie ankers daarop (vir Drieankerbaai). Die wapenskild is met 'n koninklike kroon oortop.[2][3]
Demografie
Volgens die Groepsgebiedewet is Seepunt vroeër as blanke woonbuurt geklassifiseer. Ná die aftakeling van rasseskeiding het die demografiese samestelling verander, en vandag huisves die voorstad bewoners vanuit 'n verskeidenheid van kulturele agtergronde.
Sien ook
Verwysings
- ↑ Subplek Seepunt 2011-sensus
- ↑ Wes-Kaapse Argief : Groen- en Seepunt Munisipale Notules (10 Julie 1901).
- ↑ Die wapen maak deel van die Metropolitan Golf Club se embleem.