Willem Venter
Willem Venter | |
Willem Venter
| |
Naam | Willem Frederik Venter |
---|---|
Geboorte | 23 Maart 1900 Distrik Burgersdorp |
Sterfte | 18 November 1985 (op 85) Pretoria |
Kerkverband | Gereformeerde Kerk |
Gemeente(s) | Krugersdorp/Die Moot (1930–1938) Krugersdorp (1938–1946) Louis Trichardt (1946–1949) Pretoria-Noord (1949–1966) |
Jare aktief | 1930–1966 |
Kweekskool | Potchefstroom |
Ds. Willem Frederik Venter (distrik Burgersdorp, Kaapkolonie, 23 Maart 1900 – 18 November 1985) was tussen 1930 en 1966 ’n predikant in drie gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, waarvan 16 en ’n half jaar in Krugersdorp.
Tydens Willem Venter se geboorte in die Noordoos-Kaap was dit die donker tyd waarin sogenaamde Kaapse Rebelle tot die dood veroordeel is vir sulke nietighede soos perdespore op hul werf. Kort ná die Driejarige Oorlog het W.F. Venter sr. met sy gesin verhuis na Venterstad, en hier het Willem sy hele skoolonderrig aan dieselfde skool ontvang. Aanvanklik het hy gemeen sy roeping is onderwyser. Hy het dan ook as sodanig gekwalifiseer aan die Bloemfonteinse Normaalkollege. Nadat hy ongeveer 18 maande onderwys gegee het, het die begeerte sterk by hom opgekom om predikant te word.
Einde 1921 het hy dan ook die onderwys vaarwel toegeroep en van die volgende jaar af aan die PUK vir CHO studeer. Ná ’n tweejarige onderbreking van sy studie (in watter tyd hy weer onderwys gegee en terselfdertyd verder studeer het) begin hy in 1926 met die teologiese kursus, en aan die end van 1929 lê hy die kandidaatseksamen af en word kort daarna beroep na Krugersdorp, waar hy in Februarie 1930 bevestig is. Gedurende sy eerste periode as onderwyser, naamlik in die distrik Bethulie in die Suid-Vrystaat, het hy ingewoon by J.J. Venter van Broekpoort, met wie se enigste dogter hy aan die end van 1929 getroud is.
In Krugersdorp, die gemeente van hul eerste liefde, arbei die Venters 16,5 jaar. Hulle het nie alleen die gemeente gesien groei nie maar ook hul eie huisgesin: vier seuns en een dogter. In Augustus 1946 verhuis die gesin na Louis Trichardt waar ds. Venter die kombinasie Louis Trichardt-Magalakwin bearbei, en ook al die tyd van sy bediening alhier as konsulent van Laeveld opgetree. Ná byna drie jaar in die noorde volg ds. Venter ’n beroep op na Pretoria-Noord, waar ds. en mev. Venter die daaropvolgende sowat 17 jaar sou bly tot hy sy emeritaat in 1966 aanvaar het. Daarna is hy nog ’n aftrede van amper 19 jaar gegun.
Ds. Venter was sedert 1950 lid van die kuratorium van die Teologiese Skool van omstreeks 1956 voorsitter.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Venter, H.J. 1959. Eeufeesgedenkalbum van die Gereformeerde kerke in die Klassis Waterberg 1859–1959. Potgietersrus: Deputaatskap vir die Gedenkalbum.