Verkrampte en verligte
Verkrampte en verligte was benamings veral in die ou Suid-Afrika vir meesal wit mense en in die besonder Afrikaners met 'n politieke bewustheid wat óf konserwatief/behoudend [1] óf liberaal/progressief[2] was.
Dit was Willem de Klerk, latere redakteur van die dagblad Die Transvaler, wat in 1966 vir die eerste keer dié benamings gebruik het.[3] Hy was toe in die oog van die storm nadat hy met die benamings "verlig" en "verkramp" vorendag gekom het tydens 'n toespraak voor die SABRA-jeugkongres op Warmbad. Hy het albei soort Afrikaners bygekom en die gematigde voorgehou as die positiewe, ideale Afrikaner. Die toespraak het by die koerante uitgekom en De Klerk is as liberalis uitgeskel. In 1997 het hy verkramptheid as volg saamgevat: "Die wese van die destydse verkramptheid was: dat die verlede sover moontlik gekontinueer moet word; dat nuwe denke en nuwe spronge in politiek en kultuur teëgestaan moet word met 'n georkestreerde verdagmakery teen alles en almal wat kritiese probleme oopdink en ooppraat; en dat die enigste verweer teen die Totale Aanslag 'n vasbyt in verweerde en uitgediende tradisionele denke is." [4]
Die Transvaler onder Carel Nöffke was een van die platforms vir sy verguising. In Die Vaderland het A.M. van Schoor in 'n hoofartikel 'n gek van De Klerk probeer maak deur hom as die "nuwe verlosser" voor te stel - die wyse man en redder wat deur sy nek praat en Afrikanerskap beledig. Hierna is hy oorval deur uitnodigings om toesprake te lewer en sodoende het die derde begrip - die ideale Afrikaner - heeltemal verdwyn weens die bohaai oor "verlig" en "verkramp".
J.H.P. Serfontein bou in sy boek Die verkrampte aanslag (1970) De Klerk se begrippe verder uit. Diegene binne die Nasionale Party, wat gekant was teen afsonderlike ontwikkeling (en 'n "baasskap"-rassebeleid aangehang het), en ook gekant was teen 'n Suid-Afrikanisme met noue samewerking met die Engelssprekende, maar ook anderskleurige en anderstalige landgenote (en daarteenoor etnosentries Afrikaneridenteitsbewus en isolasionisties is), veranderde sportbeleid en uitruil van swart diplomate, word deur die skrywer (asook die destydse Nasionale Pers-koerante) beskou as verkramp.[5]
Die sogenaamde verkrampte Hertzog-groepie, wat verskeie frontorganisasies gestig het om, volgens Serfontein, van binne die N.P.-Party die mag en beeld van Eerste Minister John Vorster te ondermyn en self die party te beïnvloed, sou later gedwing word om van die N.P. weg te skeur om die Herstigte Nasionale Party te vorm. Maar waar daar onder die Nasionale Party verkramptes was (maar tog beweeglikheid), beskou Serfontein die Verenigde Party en Progressiewe Party asook die Engelse media geheel en al as gestolde monolitiese granietblokke.[6]
Nie alleen is daar geen "broedertwis" onder die Engelse koerante te bespeur wat op dinamiese gesonde oop gesprek dui nie, maar eerder wel op verstarde denke ("die totaalindruk is dié van ongeïnteresseerdheid, vaalheid, eenvormigheid, en 'n feitlik dodelike voorafbepaalbaarheid van wat die Engelse pers se standpunt oor 'n bepaalde saak gaan wees [anti-nasionalisties]")[7], maar ook die Verenigde Party se 19de-eeuse beleid van leierskap ("blanke leierskap oor 'n onverdeelde Suid-Afrika"[8]) stem op 'n druppel water ooreen met die verkrampte Herstigte Nasionale Party se "baasskap"-model[9]. 'n Jaarlange poging in 1966 deur 'n spesiale komitee binne die Verenigde Party om 'n vernuwende rassebeleid op te trek, is eenvoudig deur die leiding van sir De Villiers Graaff geveto.[10] Ook die Progressiewe Party het met die skrywe van Die verkrampte aanslag (23 Februarie 1970)[11] sedert sy stigtingsjaar in 1959 absoluut geen beleidsverandering aangebring nie. Serfontein beskuldig ook die opposisie (met vernaamlik Engelssprekende kiesers) dat, as feitlik geen belangstelling in Afrikanernasionalisme of -politiek in die hede getoon word nie (laat staan nog sy taal), diegene skynbaar nog minder sal weet wat Swart Nasionalisme behels (of hoe om dit met hul Westminster-gees te temper) wat aan die opmars is.[12]
Serfontein vergelyk in sy slotwoorde die verskil tussen verkramp en verlig met die Jodedom:[13]
De Klerk se broer, oudpres. F.W. de Klerk, het "verligte" politiek tot by sy logiese uiteinde gevoer met die afskaffing van die mees striemende apartheidswette, die ontperking van verbode organisasies en die begin van onderhandelinge wat tot die koms van die demokrasie in Suid-Afrika gelei het.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Giliomee, Hermann en Mbenga, Bernard (reds.). 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.
- (af) Richard, Dirk. 1985. Moedswillig die uwe. Perspersoonlikhede in die Noorde. Johannesburg: Perskor.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) The Free Dictionary. URL besoek op 14 Februarie 2014.
- ↑ (en) The Free Dictionary. URL besoek op 14 Februarie.
- ↑ (af) "Verligte rebel in die binnekring", Beeld, 11 Augustus 2009.
- ↑ Verligtes en verkramptes steeds met ons, Beeld, 6 Junie 1997.
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 15
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 243
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 243
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 247
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 249
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 250
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 236
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 254
- ↑ Serfontein, J.H.P. 1970. Die verkrampte aanslag. Kaapstad: Human & Rousseau, p. 268