Gaan na inhoud

Thomas de Ridder

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Thomas en sy meisie op universiteit, Ilse Nolte.

Johannes Thomas de Ridder (noemnaam Thomas, Pretoria, 20 Februarie 1964 – Pretoria, 23 Oktober 1982) was ’n argitektuurstudent.[1]

Herkoms en skooljare

[wysig | wysig bron]
Thomas de Ridder as kleuter.

Johannes Thomas (Thomas) de Ridder is in die Eastwoodkraam-inrigting in Pretoria gebore as die jongste van die vier kinders van Johan en Suzette de Ridder. Hulle is in 1956 getroud. Die ander kinders was Johannes Andries (Johan, 1958, was getroud met Elizabeth Helena [Helene] van der Merwe en het drie seuns gehad; oorlede op 12 November 2012 aan breinkanker), Gertruida Anna Susanna (Trudy, 1959, was getroud met Nicholas Anthony [Nic] Borain) en Josephus Marthinus (Tienie) (1962).

Thomas het opgegroei te Herbert Bakerstraat 56, Groenkloof, Pretoria, en sy laerskooldae deurgebring aan die Laerskool Anton van Wouw, waarna hy sy skoolloopbaan voltooi het aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. In 1981 het hy matriek geslaag met onderskeiding in vier vakke. Hy het veral uitgeblink in kuns en vir drie jaar agtereenvolgens die hoogste punte in sy klas in hierdie vak behaal.

Universiteit

[wysig | wysig bron]

Begin 1982 het hy aangesluit by sy broer Tienie en met groot idealisme ingeskryf as student aan die Universiteit van die OVS vir die B.A. in Argitektuur. Hier het hy pragtig presteer en besonderse talent geopenbaar. As inwoner van Reitz-kamerwonings het hy deelgeneem aan die studentelewe en sy koshuis in die eerste waterpolospan, die tennisspan en muurbalspan verteenwoordig, asook vir die Kossakke gesing.

Buitemuurse aktiwiteite

[wysig | wysig bron]

Elf jaar lank was hy, wat ook ’n besondere belangstelling en liefde vir sy volk en vaderland gehad het, 'n aktiewe lid van die Voortrekkerbeweging en in die Dirkie Uys-kommando het hy ook sy leierseienskappe as spanleier getoon.

Etlike jare lank het hy klavierlesse geneem by Peter Cruse en daarna by mej. W. de Wijn, en ook op dié gebied aansienlik talent openbaar en met sy gevoelvolle klavierspel sy ouerhuis versier. Die laaste herinnering van hom, het sy ouers vertel, was die 5de klavierkonsert van Beethoven waarna hy enkele ure voor sy dood geluister het.

Waardering en dood

[wysig | wysig bron]

Sy ouers skryf in sy begrafnisbrief: “As ernstige en gelowige seun was hy 'n getroue kerkganger en lidmaat, eers van die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside en die laaste maande van sy lewe van die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Wes. Ook in die kerk het by 'n aktiewe bydrae gelewer as voorsitter van die JV.”

Hulle skryf: “As fyngevoelige en kunssinnige mens was hy 'n liefdevolle en dankbare kind vir sy ouers, 'n lojale en eerlike vriend vir baie en 'n opregte broer. Vir sy jong leeftyd het hy 'n besondere begrip getoon vir die lyding en beproewing van ander.”

Sy onverwagte en skielike heengaan in die vroeë oggendure van 23 Oktober 1982 in die ouderdom van 18 jaar en agt maande in 'n motorongeluk in Mainstraat, Pretoria, het 'n onherstelbare leemte in sy ouerhuis en vriendekring gelaat, maar veral ook by sy vriendin Ilse Nolte vir wie hy so lief was. Hy is op Woensdag 27 Oktober 1982 uit die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside begrawe.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (en) Sy begrafnisbrief, 27 Oktober 1982.

Verwysings

[wysig | wysig bron]