Suid-Tirol
| |||||
Ligging van Suid-Tirol in Italië | |||||
Kaart van Suid-Tirol | |||||
Amptelike tale (Sensus 2011) | Duits (62,3%), Ladinies (4,1%), Italiaans (23,4%) | ||||
Hoofstad | Bolzano (Bozen) | ||||
Grootste stad | Bolzano (Bozen) | ||||
Eerste Minister (Landeshauptmann) | Arno Kompatscher (SVP) | ||||
Oppervlakte - Totaal |
7 400 vk km | ||||
Bevolking - Totaal (31 Maart 2019) - Bevolkingsdigtheid |
531 342 71,8/vk km |
Suid-Tirol of Suid-Tirool (Duits: Südtirol, Italiaans: Alto Adige, Ladinies: Südtirol), amptelik Outonome Provinsie Bozen - Suid-Tirol (Duits: Autonome Provinz Bozen – Südtirol, Italiaans: Provincia Autonoma di Bolzano – Alto Adige, Ladinies: Provinzia Autonóma de Balsan/Bulsan) is 'n merendeels Duitssprekende streek in Noord-Italië waaraan in 1972 uitgebreide outonomie toegestaan is, geleë in die Alpebergreeks langs die belangrike Brennerroete. Dit grens aan Oostenryk in die noorde en Switserland in die noordweste.
Suid-Tirol se bevolking is op 31 Maart 2019 op 531 342 beraam. Die streek het 'n oppervlakte van 7 400 km². Die hoofstad en grootste stad is Bolzano. Die amptelike tale is Duits, Ladinies en Italiaans. Suid-Tirol het voor 1918 deel uitgemaak van Tirol in Oostenryk-Hongarye en ná die Eerste Wêreldoorlog onder Italiaanse bewind gekom. Suid-Tirol vorm saam met Trentino die outonome gewes Trentino-Suid-Tirol.
Suid-Tirol word deur 'n sterk streekskultuur gekenmerk wat sy historiese wortels in die kolonisasie deur Alperomaanse en Beierse setlaars en die historiese bande met die Duitssprekende taal- en kultuurgebied in die noorde, met name Oostenryk waarvan dit tot 1919 deel uitgemaak het. Die Europese proses van verreikende samewerking en vereniging het die noue samewerking met ander dele van die historiese gebied Tirol anderkant die Oostenrykse grens vergemaklik. Met die stigting van die sogenaamde Europastreek Tirol-Suid-Tirol-Trentino is eerste stappe in die rigting van institusionele samesluiting onderneem.
Die grootste deel van Suid-Tirol, wat onder die welvarendste streke in Italië en die hele Europese Unie gereken word, het 'n landelike karakter. Tradisioneel was landbou die belangrikste ekonomiese bedryf. Vanaf die middel van die 20ste eeu het dienstesektore soos handel, vervoer en toerisme 'n opswaai getoon.
Bevolking
[wysig | wysig bron]Suid-Tirol het 'n trikulturele bevolking van meer as 'n halfmiljoen, waarvan 69,1 persent Duitssprekende Tirolers, 26,5 persent Italiaans- en 4,4 persent Ladiniessprekendes (nasate van die oorspronklike Retoromaanse bevolking wat veral in die Dolomietevalleie saamgetrek is). Nedersettings met 'n oorwegend Italiaanssprekende bevolking sluit Bozen (Bolzano) en dorpe suid daarvan soos Leifers, Salurn, Branzoll en Pfatten in. 98 persent van die Suid-Tiroolse bevolking is lidmate van die Rooms-Katolieke Kerk.
Boukuns
[wysig | wysig bron]Naas 'n groot aantal historiese kerkgeboue, kloosters, kastele en groot plaashuise, wat die streek se wisselvallige geskiedenis weerspieël, het innovasies met 'n eietydse vormtaal, wat gebruik maak van inheemse boumateriale en die doelwit van harmoniese integrasie van geboue in die omliggende landskap nastreef, hul stempel op die Suid-Tiroolse boukuns afgedruk. Die manier, waarop argitekte en boumeesters die uitdagings van 'n Alpynse bergagtige terrein die hoof bied, wek internasionale belangstelling.
In 2004 is die Argitektuurstigting Suid-Tirol (Architekturstiftung Südtirol / Fondazione Architettura Alto Adige) in die lewe geroep wat hom vir die handhawing van 'n hoë gehalte in die plaaslike boukuns en die volhoubare ontwikkeling van stedelike en landelike gebiede beywer.[1]
Verwysings
[wysig | wysig bron]Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Argitektuur