Gaan na inhoud

Spookvoël

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Spookvoël
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Spesie:
M. blanchoti
Binomiale naam
Malaconotus blanchoti
Stephens, 1826

Die spookvoël (Malaconotus blanchoti) is 'n sangvoëlspesie in die voëlfamilie Malaconotidae, die boslaksmans. Die spesie het 'n wye verspreiding in die sub-Sahara, alhoewel hulle betreklik afwesig in Sentraal-Afrika en die binneland van Suider-Afrika is. Dit is die mees wydverspreide spesie in die genus, wat bestaan uit groot boslaksmans met kragtige snawels en klaende fluitroepe. Die spesie kom ylverspreid en gelokaliseerd tot redelik algemeen in 'n verskeidenheid van boomryke habitats voor, alhoewel tipies in digterbegroeide dele van droë of vogtige savanne. Die monogame pare verkies areas wat genoegsame skuiling in sodanige bos- en boomveld bied. Hulle is standvoëls wat beperkte nomadiese bewegings buite die broeityd onderneem.[2] In Engels staan dit as die grey-headed bushshrike bekend.

Subspesies

[wysig | wysig bron]

Ses[2] of sewe[3] subspesies word erken. Die tropiese subspesies toon wye oorvleueling,[4] en is plek-plek nie van mekaar onderskeibaar nie.

  • M. b. blanchoti Stephens, 1826 — subtropiese Wes-Afrika tot subtropiese Kameroen
  • M. b. catharoxanthus Neumann, 1899 — subtropiese Kameroen tot tropiese Oos-Afrika
  • M. b. interpositus E.Hartert, 1911 — Angola en westelike Zambië, ooswaarts minder onderskeibaar[4]
  • M. b. citrinipectus Meise, 1968 — noordwestelike Namibië, insluitend die Kuneneriviervallei
  • M. b. approximans (Cabanis, 1869)Horing van Afrika tot noordelike Tanzanië
  • M. b. hypopyrrhus Hartlaub, 1844Rwanda, suidwaarts tot noordelike Suid-Afrika
  • M. b. extremus Clancey, 1957Oos-Kaap in Suid-Afrika

Die subspesies word hoofsaaklik aan die verskille in die kleure van hul veredos onderskei. M. b. approximans het 'n wisselende mate van kastaiing oor die bors en sye, wat by M. b. catharoxanthus, eens as 'n aparte spesie beskou,[5] afwesig is.[6] Kleure van die nominaatsubspesie se onderlangse veredos is tussen die vorige twee.[5] Subspesie M. b. extremus (extremus = verste buite, wat verspreiding betref) het bo- sowel as onderlangs 'n donkerder verekleed as die wydverspreide M. b. hypopyrrhus (hypopyrrhus = rooi onder), maar is andersins soortgelyk. M. b. citrinipectus het lemmetjie-geel keelvere tot aan die bokant van die bors.[2]

Beskrywing

[wysig | wysig bron]

Die genders lyk eenders.[5] Hulle weeg sowat 77 gram en hul lengte wissel van 22,6 tot 25,2 cm (snawel tot stert). Die kombinasie van formidabele swart snawel en ryk geel iris verleen 'n kenmerkende fasie.[6] By naverwante boslaksmanspesies sluit die wit wangvere (tussen oog en snawel) by 'n streep aan wat verby hul wit oë loop.[7] Onvolwassenes is oorwegend bleker geveerd,[6] terwyl jongvoëls bleekgeel borsvere het, en bruin dwarsbande of 'n geskimmelde patroon oor die kroon.[7] Jongvoëls word verder onderskei aan hul bruin oë en bruin horingkleurige snawels.[6] Die spesie word in simpatrie met die oranjeborsboslaksman gevind, wat soortgelyk geveerd is,[8] maar 'n kleiner bou en fyner gelaatstrekke het.

Verspreiding en habitat

[wysig | wysig bron]

In die subtrope is dit aanwesig in digthede van 1 paar per 200 ha, en 'n broeipaar het 'n hougebied van sowat 50 ha.[8] In Zimbabwe toon dit 'n sterk assosiasie met miombo-boomveld, terwyl dit meer sporadies in semi-dorre savanne verspreid is.[9] Dit is ook aanwesig in rivierbos en aanliggende hoëboom-doringveld, benewens laagliggende immergroenwoud en -ruigtes, en die dieptes van oewer- en laelandbos op hoë watertafels.[9]

Dit word van seevlak tot 1 500 meter gevind,[8] tot hoogtes van 1 600 meters in Zimbabwe,[9] en in die trope lokaal tot 3 000 meter.[6] Dit vermy areas met 'n jaarlikse neerslag van minder as 500 mm.[8] In suidelike Afrika is dit afwesig van Kalahari-boomveld, en word grootliks deur die oranjeborsboslaksman in die Okavangodelta vervang.[8] In etlike areas word dit egter in simpatrie met die vorige spesie aangetref, en lokaal ook sy aan sy met etlike ander boslaksmanspesies.[9] Dit word selde in uitheemse plantasies gevind, maar is seisoenaal algemeen in tuine,[8] waar hulle aanwesigheid meestal slegs deur hul gereelde roepnote verraai word.

Gedrag en ekologie

[wysig | wysig bron]

Voedsel

[wysig | wysig bron]

Hul voedsel bestaan hoofsaaklik uit insekte, maar hulle prooi ook op muise (wat heel ingesluk word),[5] voëltjies, slange,[10] akkedisse en verkleurmannetjies.

Vokalisasies

[wysig | wysig bron]
Duet: uitgerekte raspernote deur die wyfie, beantwoord met 'n fluitroep deur die mannetjie[11]
Waarskuwingsgedrag (bv. tussen opponerende mannetjies) – snawelgekletter met fluitroep[11]

Die bekendste roep is die mannetjie se weemoedig- en meganies-klinkende reeks fluitnote, wat veral in aanloop tot die broeityd[8] gereeld herhaal word.[10] Die uitgerekte sessies van afgemete, eentonige note kan vir 'n uur of meer voortduur.[6] Hierdie roepe word van 'n hoë sangpos geuiter, en word soms deur 'n kluk-[10] of tikgeluide voorafgegaan.[7] Die mannetjie se roepery eindig wanneer die wyfie begin inkubeer, en hy begin dan om haar van voedselitems te voorsien.[12] Op kort afstand kan etlike ander sagter klanke onderskei word, benewens 'n verskeidenheid van klik-, tik- of metaalklinkende geluide.[6] 'n Kras en skel alarmnoot en 'n duetroep is ook bekend.[6]

Broeigedrag

[wysig | wysig bron]

Spookvoëls broei in die lente[9] en somer.[8] Die broeipaar bou hul nes in 10 dae,[12] en dié word in die mid- tot boonste stratum van 'n boom geplaas, waar dit goed tussen digter lower, rankplante of voëlent verskuil is.[12] Die nes lyk nogal na dié van 'n klein roofvoël, wie se ou neste ook by tye deur spookvoëls betrek word.[12] 'n Legsel bestaan uit 2 tot 4 langwerpige (29 x 21 mm),[12] roomkleurige eiers, wat onreëlmatig grys en bruin gevlek is,[10] om 'n effense kroon rondom die dikker end te vorm.[5] Die legsel word deur die wyfie alleen oor 'n tydperk van 17 dae uitgebroei. Die kuikens word ook deur die wyfie grootgemaak en dié verlaat die nes na drie weke.[12]

Fotogalery

[wysig | wysig bron]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. BirdLife International (2012). "Malaconotus blanchoti". IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2012.1. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 16 Julie 2012. {{cite web}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
  2. 2,0 2,1 2,2 Chittenden, H.; et al. (2012). Roberts geographic variation of southern African birds. Kaapstad: JVBBF. pp. 110–111. ISBN 978-1-920602-00-0.
  3. Lepage, Denis (10 Januarie 2022). "Grey-headed Bushshrike Malaconotus blanchoti Stephens, 1826". Avibase. The World Bird Database. Besoek op 10 Januarie 2022.
  4. 4,0 4,1 Britton, P. L., red. (1980). Birds of East Africa: their habitat, status and distribution. Nairobi: East Africa Natural History Society. p. 112.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 5,4 Stark, Arthur Cowell; Sclater, William Lutley (1901). "Laniarius starki, Southern Grey-headed Bush-shrike". The Birds of South Africa. Vol. II. Londen: R. H. Porter. pp. 41–42. ISBN 1172744203.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 6,4 6,5 6,6 6,7 Zimmerman, Dale A.; et al. (1999). Birds of Kenya and Northern Tanzania. Princeton University Press. pp. 218–219, 614–615. ISBN 0691010226.
  7. 7,0 7,1 7,2 Sinclair, Ian; Ryan, Peter (2010). Birds of Africa south of the Sahara (2de uitg.). Kaapstad: Struik Nature. pp. 594–595. ISBN 9781770076235.
  8. 8,0 8,1 8,2 8,3 8,4 8,5 8,6 8,7 Parker, Vincent (1997). Grey-headed Bush Shrike (PDF). South African Bird Atlas Project (SABAP). p. 440.
  9. 9,0 9,1 9,2 9,3 9,4 Irwin, M. P. S. (1981). The Birds of Zimbabwe. Salisbury: Quest Publishing. p. 352. ISBN 086-9251-554.
  10. 10,0 10,1 10,2 10,3 Gill, E. Leonard; Winterbottom, J. M. (hersien) (1975). A first guide to South African birds (7de uitg.). Kaapstad: Maskew Miller. p. 50. ISBN 0623005964.
  11. 11,0 11,1 Harris, Tony; Franklin, Kim (2000). Shrikes and bush-shrikes: including wood-shrikes, helmet-shrikes, flycatcher-shrikes, philentomas, batises, and wattle-eyes. Princeton, N.J.: Princeton University Press. pp. 82–83, 217–220. ISBN 0691070369.
  12. 12,0 12,1 12,2 12,3 12,4 12,5 Tarboton, Warwick (2001). A Guide to the Nests and Eggs of Southern African Birds. Kaapstad: Struik. p. 141. ISBN 1-86872-616-9.