Gaan na inhoud

Sargon van Akkad

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sargon van Akkad
Koning van Akkad, Kisj, Lagasj, Umma en Uruk, opperheer van Sumer, Elam, Mari en Jarmut
Sargon van Akkad op sy oorwinningstele, met sy titel links voor hom gegraveer.
Dinastie Huis van Sargon
Bewind c. 2334-2279 v.C.
Volle naam Šarru-kin ("die ware/wettige koning")
Gebore Onbekende datum
Azupiranu
Gesterf 2279 v.C.
Akkad, Mesopotamië
Opvolger Rimush
Gade van Tashlultum
Kinders Enheduanna, Rimush, Manishtushu, Ibarum, Abaish-Takal

Sargon van Akkad, ook bekend as Sargon die Grote (Akkadies: Šarru-kīnu, "die ware/wettige koning"),[1] was ’n Semitiese Akkadiese keiser wat bekend is vir sy verowering van Sumeriese stadstate in die 24ste en 23ste eeu v.C. Hy was die stigter van die dinastie van Akkad en het in die tweede laaste kwart van die 3de millennium v.C. regeer.

Volgens wigskrifbronne was hy die skinker van koning Ur-Zababa van Kisj. Hy het die koning volgens latere bronne vermoedelik vermoor en sy bewind oorgeneem voordat hy probeer het om die hele Mesopotamië te verower. Hy is aanvanklik "Sargon I" genoem, maar latere rekords het getoon daar was ook ’n Assiriese koning met die naam Sargon (na wie gewoonlik as "Sargon I" verwys word).[2]

Daar word geglo dat Sargon se ryk groot dele van Mesopotamië ingesluit het wat onder meer dele van die hedendaagse Iran, Klein-Asië en Sirië was. Sy hoofstad was die nuwe, maar tot nog toe onontdekte Akkad, wat hy volgens die Sumeriese koningslys óf laat bou óf laat restoureer het.[3] Hy word soms beskou as die eerste persoon in die bekende geskiedenis wat ’n multi-etniese, sentraal regeerde ryk geskep het, hoewel dié eer ook die Sumeriese Lugal-zage-si kan toekom. Sy dinastie het Mesopotamië sowat een en ’n half eeu lank beheer.[4]

Sargon kom as 'n legendariese figuur voor in die Nieu-Assiriese letterkunde van die 8ste tot 7de eeu v.C. Tablette met fragmente van 'n Sargon-geboortelegende is ook in die Biblioteek van Assurbanipal ontdek.[5][6][7]

"Koning Sargon" (𒊬𒊒𒄀 𒈗 Šar-ru-gi lugal) op die oorwinningstele van Sargon.[8][9][10]

Die Akkadiese naam word gewoonlik geskryf as Šarru-ukīn of Šarru-kēn. Die wigskrifspelling is onderskeidelik LUGAL-ú-kin, šar-ru-gen6, šar-ru-ki-in of šar-ru-um-ki-in.[11]

Op tablette uit die Ou Babilonië wat oor legendes van Sargon handel, word sy naam geskryf as 𒊬𒊒𒌝𒄀𒅔 (Šar-ru-um-ki-in).[12] In Laat Assiriese verwysings word die naam gewoonlik LUGAL-GI.NA of LUGAL-GIN gespel, nes dié van die Nieu-Assiriese koning Sargon II.[13] Die spelling "Sargon" kom van die enkele verwysing na die naam in die Ou Testament, in Jesaja 20:1.

Die eerste element van die naam is šarru, die Akkadiese woord vir "koning". Die tweede element is afgelei van die werkwoord kīnum "om te vestig, bevestig".[14] 'n Moontlike vertolking van die naam Šarru-ukīn is "die koning het (stabiliteit) gevestig" of "hy [die god] het die koning bevestig". Daar word gedebatteer of dit 'n aangenome troonnaam of 'n geboortenaam is.[15][16]

Chronologie

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van die omvang van die Akkadiese Ryk gedurende die bewind van Sargon se kleinseun, Naram-Sin.

Primêre bronne wat na Sargon verwys, is skaars. Die belangrikste verwysings na hom min of meer uit sy tyd is die verskillende weergawes van die Sumeriese koningslys. Hier word Sargon genoem as die seun van 'n tuinier en as die voormalige skinker van Ur-Zababa van Kisj. Hy het die koningskap van Uruk by Lugal-zage-si afgeneem en teruggekeer na sy eie stad, Akkad. Die Weidnerkroniek sê Sargon het direk ná Ur-Zababa regeer en noem Lugal-zage-si glad nie.[17] Verskillende weergawes van die koningslys gee die lengte van sy bewind aan as óf 40 óf 54-56 jaar.[18] Talle fragmente met verwysings na Sargon is ook bekend.[19]

In moderne tye sal sy bewind aangedui word as omstreeks 2334-2279 v.C. Sy opvolgers tot met die Goetese oorwinning van Sumer is ook bekend as die Sargondinastie en hulle bewind as die Sargontydperk van Mesopotamiese geskiedenis.[20]

Volgens Foster (1982) is Sargon se bewindstydperk van 55 jaar 'n verkeerde vertolking van die oorspronklike 37 jaar. 'n Ouer weergawe van die koningslys gee sy bewind aan as 40 jaar.[21]

Thorkild Jacobsen dui aan die betekenis van die woord "tuinier" as Sargon se pa is onseker.[22] Ur-Zababa en Lugal-zage-si word albei as konings gelys, maar word geskei deur verskeie heersers van Kisj, wat dalk net goewerneurs of vasalheersers onder die Akkadiese Ryk was.[23]

Die bewering dat Sargon die oorspronklike stigter van Akkad was, word ook in twyfel getrek nadat 'n inskripsie ontdek is waarin die plek en datum verwys na die bewind van Enshakushanna, wat feitlik vir seker voor Sargon regeer het.[24] In die Weidnerkroniek (ABC 19:51) word beweer Sargon het "Babilon voor Akkad gebou".[25][26] Ook volgens die Kroniek van Vroeë Konings (ABC 20:18-19) het Sargon Babilon gebou en toe Akkad.[26][27] Van de Mieroop stel voor albei kronieke verwys na die veel latere koning Sargon II van die Nieu-Assiriese Ryk.[28]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die oorwinningstele van Sargon wat 'n optog lei.
"Koning Sargon".
'n Fragment van Sargon se stele wys Sargon met 'n koninklike bolla en 'n koniklike mantel oor sy linkerskouer, gevolg deur 'n dienskneg met 'n sambreel (middel) en 'n optog van hoogwaardigheidsbekleërs met wapens.[9][29] Sargon se naam in wigskrif (𒊬𒊒𒄀 𒈗 Šar-ru-gi lugal "Koning Sargon")[8] verskyn dofweg voor sy gesig.[9][10]

Taal en teks op rekords

[wysig | wysig bron]

Dit lyk of Sargon die gebruik van Akkadies in inskripsies aangemoedig het. Hy noem homself dikwels "koning van Akkad" eerste, nadat hy blykbaar die stad Akkad gestig het. Dit lyk of hy in die een of ander stadium beheer van Kisj oorgeneem het en later 'n groot deel van Mesopotamië, want hy verwys na homself as "Koning van Akkad, meester van Inanna, koning van Kisj, gesalfde van Anoe, koning van die land Mesopotamië, goewerneur (ensi) van Enlil".[30]

Tydens Sargon se bewind is Oos-Semities gestandaardiseer en aangepas vir gebruik saam met die vorm van wigskrif wat voorheen in Sumeries gebruik is om te vorm wat nou as Akkadies bekend is.

'n Styl van kalligrafie is ontwikkel waarin teks op kleitablette en silinderseëls tussen mitologiese en rituele tonele gerangskik is.[31]

Jaarname

[wysig | wysig bron]

Terwyl verskeie afskrifte van die Sumeriese koningslys en latere Babiloniese kronieke bestaan waarvolgens Sargon 'n bewindstydperk van tussen 34 en 56 jaar het, is gedateerde dokumente vir net vier verskillende jaarname van sy bewind ontdek.

Die name van dié vier jaar beskryf sy veldtogte teen Elam, Mari, Simurrum en Uru'a.[32]

Nippurinskripsie

[wysig | wysig bron]
Gevangenes wat deur 'n soldaat begelei word, op 'n oorwinningstele van Sargon, omstreeks 2300 v.C.[33] Waarskynlik van die einde van Sargon se bewind.[34] Die haarstyl van die gevangenes (krullerig bo en kort aan die kante) is tipies van Sumeriërs.[35] (Louvre)

Onder die belangrikste bronne vir Sargon se bewind is 'n tablet van die Ou Babiloniese tydperk wat in die 1890's by Nippur ontdek is deur 'n ekspedisie van die Universiteit van Pennsilvanië. Die tablet is 'n afskrif van die inskripsies op die voetstuk van die standbeeld wat Sargon in die tempel van Enlil laat oprig het.[36]

Oorwinning van Sumer

[wysig | wysig bron]

In die inskripsie beskyf Sargon hom as Sargon, koning van Akkad, meester van Inanna, koning van Kisj, gesalfde van Anoe, koning van die land Mesopotamië, ensi van Enlil". Dit vier die oorwinning van Uruk en die onderwerping van Lugal-zage-si, wat Sargon "in 'n halsband na die poort van Enlil" gebring het.[37]

Sargon het Ur en E-Ninmar daarna verower en die gebied tussen Lagasj en die see "verwoes", waarna hy Umma verower en verwoes het.[38][38]

Sargon het die inwoners van die gebiede wat hy verower het, toegelaat om hulle plaaslike leiers en tradisies te behou. Hulle moes egter gehoorsaam aan hom wees en heffings betaal in ruil vir hulle veiligheid. Die mense was lojaal aan Sargon vanweë sy beleide, wat tot die handhawing van vrede gelei het. Hy het Akkadies as die ampstaal van die regering aangewys en vaste mates en gewigte ingestel.[39]

Verowering van Bo-Mesopotamië en Elam

[wysig | wysig bron]

Nadat hy hom onderwerp het aan die god Dagon van die Levant het Sargon gebiede van Bo-Mesopotamië en die Levant ingeneem, tot by die "Seder- en die Silwerberg", waarna hy van die "boonste see" (Middellandse See) tot die "onderste see" (Persiese Golf) regeer het.[40]

Sargon beweer ook in sy inskripsie hy is "Sargon, koning van die wêreld, veroweraar van Elam en Parahshum", die twee belangriste state oos van Sumer.[41] Hy noem ook verskeie heersers van die ooste wat hy oorwin het, soos Luh-uh-ish-an, seun van Hishibrasini, koning van Elam, generaal van Parahshum".[41]

Sargon het oor altesaam 34 stede geseëvier. Skepe van oral het in sy hoofstad, Akkad, voor anker gelê.[42] Hy het 'n leër van 5 400 man gehad wat "daagliks voor hom brood geëet het".[37]

Sargon-epos

[wysig | wysig bron]
'n Silinderseël van die skriba Kalki. Dit wys prins Ubil-Eshtar, moontlik Sargon se broer, saam met amptenare en 'n skriba regs wat 'n tablet vashou. Die inskripsie lui: "Ūbil-Aštar, broer van die koning: KAL-KI die skriba is sy dienskneg."[10][43]

'n Groep van vier Babiloniese tekste, wat die "Sargon-epos" of Res Gestae Sargonis genoem word, beskryf Sargon as 'n militêre bevelvoerder wat die raad van baie van sy ondergeskiktes vra voordat hy op veldtogte gaan.

Die verhaal van "Sargon, die oorwinnende held" speel af in Sargon se hof, in 'n krisissituasie. Sargon spreek sy vegters toe en prys die deug van heroïsme, en 'n howeling hou 'n toespraak oor die glorie wat die kampioen van 'n leër kry. Dit gaan oor 'n veldtog van Sargon na die verre land Uta-raspashtim en sluit 'n vertelling in oor die "son wat donker word" en die verowering van die land "Simurrum". Daarna praat Sargon en lys hy sy oorwinnings.[44]

'n Akkadiese amptenaar met 'n byl in Sargon se gevolg.

Die verhaal "Koning van Gevegte" gaan oor Sargon se veldtog teen die Anatoliese stad Purushanda om sy handelaars te beskerm. Weergawes van die verhaal in beide Hetities en Akkadies is ontdek. Van die Hetitiese weergawe het ses fragmente bewaar gebly en die Akkadiese weergawe is bekend uit verskeie manuskripte wat by Amarna, Assur en Ninevé ontdek is.[45] Die verhaal is tydrekenkundig onjuis en beeld Sargon in 'n 19de-eeuse milieu uit.[46] Dieselfde teks noem dat Sargon die See van die Weste (Middellandse See) oorgesteek en in "Kuppara" geëindig het, wat sommige skrywers vertolk as die Akkadiese woord vir Keftiu of Kaftor (die inwoners word Kaftorane genoem in Genesis 10:14), 'n antieke plek wat gewoonlik met Kreta of Siprus verbind word.[47]

Hongersnood en oorlog bedreig Sargon se ryk tydens die laaste jare van sy bewind. Die "Kroniek van Vroeë Konings" berig dat opstande in dié tyd uitgebreek het.

Toe hy oud was, het al die lande teen hom in opstand gekom, en hulle het hom in Akkad beleër; en Sargon het teen hulle geveg en hulle verslaan. Daarna het hy die land Subartu verslaan; en hy het hulle besittings na Akkad gebring. Maar weens die boosheid wat hy gepleeg het, was die god Mardoek kwaad en hy het sy volk met 'n hongersnood verwoes. Van die opkoms van die son tot die ondergang van die son het hulle hom teengestaan en hom geen rus gegun nie.[48] [verkort]

Kroniek van Vroeë Konings

[wysig | wysig bron]
'n Gevangene in 'n hok, moontlik Lugal-zage-si van Uruk, wat deur Sargon met 'n swaard oor die kop geslaan word.[49] Akkadian Empire victory stele circa 2300 BC. Louvre Museum.

Kort nadat hy Sumer verower het, het Sargon op 'n reeks veldtogte vertrek om die hele Vrugbare Halfmaan te onderwerp. Volgens die Kroniek van Vroeë Konings, 'n latere Babiloniese geskiedkundige geskrif, het Sargon nie 'n teenstander of 'n gelyke gehad nie. Hy het die lande van die weste verower, standbeelde daar opgerig en buit oor die waters vervoer. Hy het in samewerking met die volke van die lande regeer.[26]

In die ooste het Sargon vier leiers van Elam verslaan en hulle stede verwoes. Die goewerneurs, onderkonings en konings het vasals van Akkad geword.[50]

Legendes van Sargon se geboorte

[wysig | wysig bron]

Sargon het die onderwerp geword van legendes wat sy opkoms en nederige oorsprong beskryf, asook sy verowering van Mesopotamië in latere Assiriese en Babiloniese letterkunde. Benewens dié sekondêre en deels legendariese weergawes, is daar baie inskripsies deur Sargon self, hoewel die meeste daarvan net bekend is uit veel latere afskrifte.[51] Die Louvre het fragmente van twee oorwinningsteles van Sargon wat by Susa gekry is (waarheen hulle waarskynlik in die 12de eeu v.C. van Mesopotamië af vervoer is).[52]

Sumeriese legende

[wysig | wysig bron]

Die Sumeriese Sargonlegende bevat 'n legendariese weergawe van Sargon se magsopkoms. Dit is 'n ouer weergawe van die voorheen bekende Assiriese legende wat in 1974 by Nippur ontdek en in 1983 die eerste keer geredigeer is.[53]

Die fragmente is onvolledig, maar dié wat bewaar gebly het, noem La'ibum as Sargon se vader. Ná 'n gaping spring die teks na Ur-Zababa, koning van Kisj, wat ná 'n droom wakker word; die inhoud van die droom word nie in die oorblywende deel van die tablet onthul nie. Om onbekende redes stel Ur-Zababa vir Sargon as sy skinker aan. Kort hierna nooi die koning Sargon na sy kamers om met hom sy droom te bespreek. Die droom gaan oor die godin Inanna wat Ur-Zababa in 'n rivier van bloed verdrink.[54] Ur-Zababa is baie bang en gee opdrag dat Sargon vermoor word deur Beliš-tikal, die hoofsmit. Inanna verhoed dit en beveel Sargon om by die poorte te stop omdat hy "met bloed besmet is". Toe Sargon na Ur-Zababa terugkeer, word die koning weer bang en besluit hy om Sargon na koning Lugal-zage-si van Uruk te stuur met 'n boodskap op 'n kleitablet waarin dié gevra word om Sargon te vermoor.[55] Die legende eindig hier; in die res van die teks word waarskynlik beskryf hoe Sargon koning geword het.[56]

Die storie van Sargon se geboorte, vroeë 2de millennium v.C.[12]

Die deel van die vertolking van die koning se droom toon ooreenkomste met die Bybelse verhaal van Josef, en die deel van die brief met die doodsvonnis stem ooreen met die Griekse storie van Poseidon se seun Bellerofon en die Bybelse verhaal van Uria.[57]

Geboortelegende

[wysig | wysig bron]
'n Illustrasie uit die Assiriese Sargonlegende (1913): Die jong tuinier Sargon word besoek deur Isjtar, "omring deur 'n wolk duiwe".

'n Nieu-Assiriese teks uit die 7de eeu v.C. wat voorgee dit is Sargon se outobiografie, beweer die koning was die buite-egtelike kind van 'n priesteres. Net die eerste twee kolomme van die fragmente van drie tablette het bewaar gebly. Die eerste fragmente is omstreeks 1850 ontdek.[58] Sargon se geboorte word so beskryf:

My moeder was 'n hoëpriesteres; my vader het ek nie geken nie. My vader se broers was lief vir die heuwels. My stad is Azupiranu, wat aan die oewers van die Eufraat geleë is. My moeder die hoëpriesteres het my in die geheim gedra. Sy het my in 'n mandjie van biesies gesit waarvan die deksel met teer verseël is. Sy het my in die rivier gegooi. Die rivier het my na Akki die watertapper gedra. Akki die wapertapper het my as sy seun aangeneem en my grootgemaak. Akki die watertapper het my as sy tuinier aangestel. Terwyl ek 'n tuinier was, het Isjtar vir my haar liefde betoon, en vier en ... jaar lank was ek koning.

In sy boek van 1909 The Myth of the Birth of the Hero noem die psigoanalis Otto Rank ooreenkomste tussen die geboortelegende van Sargon en ander soortgelyke legendes, soos dié van Moses en Oidipus.[59] Ook Brian Lewis het die legende deeglik bestudeer en dit vergelyk met ander geboortemotiewe in Europese en Asiatiese volksverhale. Hy bespreek 'n moontlike argetipiese vorm, en skenk spesiale aandag aan die verhale van Sargon en Moses.[5] Ook Joseph Campbell het baie sulke vergelykings getref.[60]

Sargon is ook een van die baie voorstelle vir die identiteit van of inspirasie vir die Bybelse Nimrod. Ewing William (1910) het Sargon voorgestel gebaseer op sy vereniging van die Babiloniërs en die Nieu-Assiriese geboortelegende.[61] Yigal Levin (2002) het voorgestel Nimrod is 'n versameling van vehale oor Sargon en sy kleinseun, Naram-Sin, en dat die naam "Nimrod" van laasgenoemde afgelei is.[62]

Familie

[wysig | wysig bron]
Die stamboom van Sargon van Akkad.

Die naam van Sargon se hoofvrou, koningin Tashlultum, en dié van 'n paar van sy kinders is bekend.[63][64]

Sy dogter Enheduanna was 'n hoëpriesteres van die maangod in Ur en het rituele gesange gekomponeer.[65] Baie van haar werke, insluitende haar Verheerliking van Inanna, is eeue daarna nog gebruik.[66]

Sargon is opgevolg deur sy seun Rimush; daarna het nog 'n seun, Manishtushu, koning geword. Manishtushu is deur sy eie seun, Naram-Sin, opgevolg. Nog twee van Sargon se seuns, Shu-Enlil (Ibarum) en Ilaba'is-takal (Abaish-Takal), se name is bekend.[67]

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]
Enheduanna, dogter van Sargon.[68]

Sargon van Akkad word soms die eerste mens in die aangetekende geskiedenis genoem wat oor 'n ryk regeer het (in die sin van die sentrale regering van 'n veelvolkige gebied),[69][70][71] hoewel vroeëre Sumeriese heerers soos Lugal-zage-si 'n soortgelyke aanspraak kan hê.[72]

Sy bewind lui ook die geskiedenis van Semitiese ryke in die antieke Nabye Ooste in wat tot amper 15 eeue geduur het, tot met die Achaemenidiese verowering sedert 539 v.C. Vir sowat twee millenniums ná sy dood is Sargon deur Mesopotamiese konings as 'n rolmodel beskou.

Die Assiriese en Babiloniese konings wat hulle ryke in Mesopotamië gevestig het, het hulleself beskou as die erfgename van Sargon se ryk. Sargon het dalk wel die idee van "ryk" gevestig soos wat dit in die latere Assiriese tydperk bestaan het; in die Nieu-Assiriese Sargonteks, wat in die eerste persoon geskryf is, daag Sargon latere heersers uit om "oor die swarthaarvolk" (dus die inheemse bevolking van Mesopotamië) te heers soos wat hy gedoen het.[73]

Sargon het dieselfde naam gehad as twee latere Mesopotamiese konings. Sargon I was 'n koning in die Ou-Assiriese tydperk en is waarskynlik na Sargon van Akkad genoem. Sargon II was 'n Nieu-Assiriese koning wat na Sargon van Akkad genoem is; dit is dié koning wie se naam in die Bybel voorkom as Sargon (Jesaja 20:1).

Die Nieu-Babiloniese koning Nabonidus het groot belangstelling getoon in die geskiedenis van die dinastie van Sargon en het selfs uitgrawings laat doen van Sargon en sy opvolgers se paleise.[74]

In moderne kultuur

[wysig | wysig bron]
  • Die fantasiefliek The Scorpion King: Rise of a Warrior (2008) beeld Sargon van Akkad uit as 'n moorddadige weermagbevelvoerder wat swartmagie gebruik.[75]
  • Die 20ste episode van die tweede seisoen van Star Trek: The Original Series, "Return to Tomorrow", bevat 'n antieke, telepatiese buiteaardse wese met die naam Sargon wat eens oor 'n groot ryk regeer het.
  • Die Amerikaanse rockgroep They Might Be Giants verwys na Sargon van Akkad in die nommer "The Mesopotamians" op hulle album van 2007 The Else; hulle noem ook Hammurabi, Assurbanipal en Gilgamesj.
  • Carl Benjamin, 'n Britse, verregse YouTuber en politieke kommentator, gebruik die aanlyn skuilnaam "Sargon of Akkad" op sy YouTube-kanaal.
  • Die uitbreidingspak Return of Rome vir die videospeletjie Age of Empires II: Definitive Edition bevat 'n veldtog met die naam "Sargon of Akkad", wat sy oorwinning van Sumer en die opkoms van die Akkadiese Ryk uitbeeld.
Die sogenaamde "Masker van Sargon" in 1936, ná restourasie. Op die bronsborsbeeld is die gevlegte hare en koninklike bolla uit dié tydperk veral duidelik. Dit word nou beskou as waarskynliker 'n beeld van Sargon se kleinseun, Naram-Sin.[76]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Chavalas 2006
  2. Bromiley, Geoffrey (31 Desember 1996). The international standard Bible encyclopedia (Revised uitg.). William B Eerdmans. ISBN 978-0-8028-3784-4.
  3. Kramer 1963: 60–61
  4. Van de Mieroop 2006: 63
  5. 5,0 5,1 Westenholz, Joan Goodnick (Januarie 1984). "Review of The Sargon Legend: A Study of the Akkadian Text and the Tale of the Hero Who Was Exposed at Birth. Deur Brian Lewis". Journal of Near Eastern Studies. 43 (1): 73–79. doi:10.1086/373065. JSTOR 545065.
  6. Brian Edric Colless. "The Empire of Sargon". Besoek op 25 Mei 2013.
  7. King, L. W. (1907). Chronicles concerning early Babylonian kings. London, Luzac and co. pp. 87–96.
  8. 8,0 8,1 "Victory stele of Sargon". cdli.ucla.edu.
  9. 9,0 9,1 9,2 Foster, Benjamin R. (2015). The Age of Agade: Inventing Empire in Ancient Mesopotamia (in Engels). Routledge. p. 3. ISBN 978-1317415527.
  10. 10,0 10,1 10,2 Nigro, Lorenzo (1998). "The Two Steles of Sargon: Iconology and Visual Propaganda at the Beginning of Royal Akkadian Relief". Iraq. British Institute for the Study of Iraq. 60: 93–94. doi:10.2307/4200454. hdl:11573/109737. JSTOR 4200454. S2CID 193050892.
  11. "ETCSLsearch". etcsl.orinst.ox.ac.uk.
  12. 12,0 12,1 Cooper, Jerrold S.; Heimpel, Wolfgang (1983). "The Sumerian Sargon Legend". Journal of the American Oriental Society. 103 (1): 67–82. doi:10.2307/601860. ISSN 0003-0279. JSTOR 601860.
  13. Eckart Frahm, "Observations on the Name and Age of Sargon II and on Some Patterns of Assyrian Royal Onomastics", NABU 2005.2, 46–50.
  14. Strong's Concordance H3559 "to be erect (i.e. stand perpendicular); hence (causatively) to set up, in a great variety of applications, whether literal (establish, fix, prepare, apply), or figurative (appoint, render sure, proper or prosperous)"
  15. Lewis 1984: 277–292
  16. Sallaberger & Westenholz 1999: 34
  17. Drews, Robert. “Sargon, Cyrus and Mesopotamian Folk History.” Journal of Near Eastern Studies, vol. 33, no. 4, 1974, pp. 387–93
  18. Electronic Text Corpus of the Sumerian Language
  19. "CDLI-Found Texts". cdli.ucla.edu.
  20. Mari A. Gough, "Historical Perception in the Sargonic Literary Tradition: the Implications of Copied Texts" , Rosetta 1 (2006), 1–9. Douglas R. Frayne, "The Sargonic and Gutian Periods (2334–2113)", University of Toronto Press, 1993.
  21. Rebecca Hasselbach, Sargonic Akkadian: A Historical and Comparative Study of the Syllabic Texts (2005), p. 5 (fn 28).
  22. Jacobsen 1939: 111
  23. "Kingdoms of Mesopotamia – Kish / Kic". www.historyfiles.co.uk.
  24. Van de Mieroop 1999: 74–75
  25. Grayson 1975: 19:51
  26. 26,0 26,1 26,2 Chronicle of Early Kings at Livius.org. Geargiveer 16 April 2019 op Wayback Machine Translation adapted from Grayson 1975 and Glassner 2004
  27. Grayson 1975: 20:18–19
  28. Stephanie Dalley, Babylon as a Name for Other Cities Including Nineveh, in [1] Geargiveer 30 Julie 2012 op Wayback Machine Proceedings of the 51st Rencontre Assyriologique Internationale, Oriental Institute SAOC 62, pp. 25–33, 2005
  29. Nigro, Lorenzo (1998). "The Two Steles of Sargon: Iconology and Visual Propaganda at the Beginning of Royal Akkadian Relief". Iraq. British Institute for the Study of Iraq. 60: 92. doi:10.2307/4200454. hdl:11573/109737. JSTOR 4200454. S2CID 193050892.
  30. Paul-Alain Beaulieu, The Pantheon of Uruk During the Neo-Babylonian Period, Brill (2003), p. 106.
  31. Britannica
  32. "T2K1.htm". cdli.ucla.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Maart 2022. Besoek op 20 Mei 2019.
  33. Potts, D. T. (1999). The Archaeology of Elam: Formation and Transformation of an Ancient Iranian State (in Engels). Cambridge University Press. p. 104. ISBN 978-0521564960.
  34. McKeon, John F. X. (1970). "An Akkadian Victory Stele". Boston Museum Bulletin. 68 (354): 235. ISSN 0006-7997. JSTOR 4171539.
  35. Nigro, Lorenzo (1998). "The Two Steles of Sargon: Iconology and Visual Propaganda at the Beginning of Royal Akkadian Relief". Iraq. British Institute for the Study of Iraq. 60: 85–102. doi:10.2307/4200454. hdl:11573/109737. JSTOR 4200454. S2CID 193050892.
  36. Samuel Noah Kramer, The Sumerians: Their History, Culture, and Character, University of Chicago Press (1963), 59f
  37. 37,0 37,1 Mario Liverani, The Ancient Near East: History, Routledge (2013), p. 143. Kramer 1963 p. 324. Kuhrt, Amélie, The Ancient Near East: c. 3000–330 B.C., Routledge 1996 ISBN 978-0-415-16763-5, p. 49 [2]
  38. 38,0 38,1 Frayne, Douglas. Sargonic and Gutian Periods (in Engels). pp. 10–12.
  39. "1.5 Sargon Conquers Mesopotamia". NGLSync. Besoek op 16 Februarie 2023.{{cite web}}: AS1-onderhoud: url-status (link)
  40. A.H.Sayce, review of G. Contenau, Les Tablettes de Kerkouk (1926), Antiquity 1.4 (December 1927), 503ff
  41. 41,0 41,1 Frayne, Douglas. Sargonic and Gutian Periods (in Engels). p. 22.
  42. "MS 2814 – The Schoyen Collection". www.schoyencollection.com (in Engels (VK)).
  43. "CDLI-Archival View". cdli.ucla.edu.
  44. Joan Goodnick Westenholz, Legends of the Kings of Akkade: The Texts Eisenbrauns, 1997, p. 59.
  45. Joan Goodnick Westenholz, Legends of the Kings of Akkade: The Texts Eisenbrauns, 1997, p. 102.
  46. Studevent-Hickman, Benjamin; Morgan, Christopher (2006). "Old Akkadian Period Texts". In Chavalas, Mark William (red.). The ancient Near East: historical sources in translation. Wiley-Blackwell. pp. 24–27. ISBN 978-0-631-23580-4.
  47. Wainright, G.A. "Asiatic Keftiu." American Journal of Archaeology. Vol. 56, No. 4 (October 1952), pp. 196–212; Strange, John. "Caphtor/Keftiu: A New Investigation." Journal of the American Oriental Society, Vol. 102, No. 2 (April–June 1982), pp. 395–396; Vandersleyen, Claude. "Keftiu: A Cautionary Note." Oxford Journal of Archaeology. Vol. 22 Issue 2 p. 209 (2003).
  48. Botsforth 1912: 27–28
  49. Nigro, Lorenzo (1998). "The Two Steles of Sargon: Iconology and Visual Propaganda at the Beginning of Royal Akkadian Relief". Iraq. British Institute for the Study of Iraq. 60: 85–102. doi:10.2307/4200454. hdl:11573/109737. JSTOR 4200454. S2CID 193050892.
  50. Gershevitch, I. (1985). The Cambridge History of Iran (in Engels). Cambridge University Press. p. 8. ISBN 978-0-521-20091-2.
  51. Gwendolyn Leick, Who's Who in the Ancient Near East, Routledge (2002), p. 141.
  52. Lorenzo Nigro, "The Two Steles of Sargon: Iconology and Visual Propaganda at the Beginning of Royal Akkadian Relief" Iraq LX (1998); Louvre Sb1 (Stèle de victoire de Sargon, roi d'Akkad, Apportée à Suse, Iran, en butin de guerre au XIIe siècle avant J.-C. Fouilles, J. de Morgan).
  53. Cooper, J.S., en Heimpel, W., "The Sumerian Sargon Legend", Journal of the American Oriental Society 103 (1983), 67–82. Joan Goodnick Westenholz, Legends of the Kings of Akkade: The Texts (1997), p. 12.
  54. "Sargon and Ur-Zababa". ETCSL.
  55. "The Sargon Legend." The Electronic Text Corpus of Sumerian Literature. Oxford University, 2006
  56. Cooper & Heimpel 1983: 67–82
  57. Cynthia C. Polsley, "Views of Epic Transmission in Sargonic Tradition and the Bellerophon Saga" (2012). Bendt Alster, "A Note on the Uriah Letter in the Sumerian Sargon Legend", Zeitschrift für Assyriologie und Vorderasiatische Archäologie 77.2 (1987).
  58. Joan Goodnick Westenholz, Legends of the Kings of Akkade: The Texts (1997), 33–49.
  59. Otto Rank (1914). The myth of the birth of the hero: a psychological interpretation of mythology. Vertalers: drr. F. Robbins en Smith Ely Jelliffe. New York : The Journal of nervous and mental disease publishing company.
  60. Campbell, Joseph (1964). The Masks of God, Vol. 3: Occidental Mythology. p. 127.
  61. Ewing, William (1910). The Temple Dictionary of the Bible. London, J.M. Dent & sons ; New York, E.P. Dutton. p. 514.
  62. Levin, Yigal (2002). "Nimrod the Mighty, King of Kish, King of Sumer and Akkad". Vetus Testamentum. 52 (3): 350–356. doi:10.1163/156853302760197494.
  63. Tetlow, Elisabeth Meier (2004). Women, Crime, and Punishment in Ancient Law and Society: The ancient Near East. Continuum International Publishing Group. ISBN 978-0-8264-1628-5. Besoek op 29 Julie 2011.
  64. Michael Roaf (1992). Mesopotamia and the ancient Near East. Stonehenge Press. ISBN 978-0-86706-681-4. Besoek op 29 Julie 2011.
  65. Schomp 2005: 81
  66. Schomp 2005: 81; Kramer 1981: 351; Hallo, W. and J. J. A. Van Dijk. The Exaltation of Inanna. Yale Univ. Press, 1968.
  67. Frayne 1993: 3637
  68. "CDLI-Archival View". cdli.ucla.edu.
  69. Rattini, Kristin Baird (18 Junie 2019). "Meet the world's first emperor".
  70. Ersek, Vasile (7 Januarie 2019). "How Did the World's First Empire Collapse?". RealClearScience.
  71. Vitkus, Saul N. (September 1976). "Sargon Unseated". The Biblical Archaeologist. 39 (3): 114–117. doi:10.2307/3209401. JSTOR 3209401. S2CID 224791289.
  72. Postgate, J. N. (Februarie 1994). "In Search of the First Empires". Bulletin of the American Schools of Oriental Research. 293 (293): 1–6. doi:10.2307/1357273. JSTOR 1357273. S2CID 155687135.
  73. Barton 310, soos gemoderniseer by J. S. Arkenberg Geargiveer 22 Desember 2013 op Wayback Machine
  74. Oates, John. Babylon. Londen: Thames and Hudson, 1979, p. 162.
  75. "The Scorpion King 2: Rise of a Warrior synopsis". The Scorpion King. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 September 2004. Besoek op 27 Julie 2009.
  76. McKeon, John F. X. (1970). "An Akkadian Victory Stele". Boston Museum Bulletin. 68 (354): 237. ISSN 0006-7997. JSTOR 4171539.

Aangehaalde bronne

[wysig | wysig bron]
  • Chavalas, Mark William (29 Junie 2006). The ancient Near East: historical sources in translation. Wiley-Blackwell. p. 23. ISBN 978-0-631-23580-4.
  • Kramer, S. Noah. The Sumerians: Their History, Culture and Character, Chicago, 1963.
  • Van de Mieroop, Marc. A History of the Ancient Near East: ca. 3000–323 BC. Blackwell, 2006, ISBN 978-1-4051-4911-2.
  • Van de Mieroop, Marc., Cuneiform Texts and the Writing of History, Routledge, 1999.
  • Sallaberger, Walther; Westenholz, Aage (1999), Mesopotamien. Akkade-Zeit und Ur III-Zeit, Orbis Biblicus et Orientalis, 160/3, Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, ISBN 978-3-525-53325-3 
  • Grayson, Albert Kirk. Assyrian and Babylonian Chronicles. J. J. Augustin, 1975; Eisenbrauns, 2000.
  • Jacobsen, Thorkild, The Sumerian King List, Assyriological Studies, No. 11, Chicago: Oriental Institute, 1939.

Skakels

[wysig | wysig bron]