Gaan na inhoud

Petrus Postma

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Petrus Postma
Dominee Petrus Postma
Petrus Postma

Naam Petrus Postma
Geboorte 21 Januarie 1854
Zwolle, Nederland
Sterfte 4 Oktober 1919 (op 65)
Heidelberg, Transvaal
Kerkverband Gereformeerde Kerk
Gemeente(s) Burgersdorp (1880–1882)
Pretoria (1882–1904)
Lichtenburg (1904–1906)
Heidelberg (1906–1919)
Jare aktief 1880–1919
Kweekskool Burgersdorp

Ds. Petrus Postma (Zwolle, Nederland, 21 Januarie 1854 - Heidelberg, Transvaal, 4 Oktober 1919) was ’n predikant in die Gereformeerde Kerk. Hy word veral daarvoor onthou dat hy tydens sy 22 jaar lange dienstyd as predikant van die Gereformeerde gemeente Pretoria pres. Paul Kruger, ook ’n Dopper uit die Noordoos-Kaap, se kapelaan en getroue raadgewer, veral oor godsdiens- en opvoedingsaangeleenthede, geword het en baie verrig het ter bevordering van Christelik-Nasionale Onderwys.

Kinderjare

[wysig | wysig bron]

Postma was die derde kind uit die derde huwelik van die grondlegger van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, ds. Dirk Postma, op 11 Februarie 1850 met Ida Sijpkens (†30 Maart 1857). Sy jonger broer, ds. Martinus Postma, was eweneens ’n Gereformeerde predikant. Hulle het Nederland saam met hul vader, wat toe ’n wewenaar was, op 22 April 1858 verlaat en sit op 9 Julie voet aan wal in Simonstad. Die vader en sy kinders bly net ’n kort ruk in Kaapstad, waarna hulle na Durban vertrek omdat die predikant se eintlike bestemming Transvaal was, waarheen die 1858-sinode van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Leiden hom gestuur het om ondersoek in te stel na die godsdienstige toestand van die Nederlanders se volksgenote in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Terwyl hul vader predikant is van die eerste Gereformeerde gemeente in Suid-Afrika, Rustenburg, trou hy met op 24 November 1859 met Susanna Lasea Kruger (†3 Oktober 1869). Die gesin bly op Rustenburg tot Petrus Postma ongeveer 12 jaar oud is toe sy vader ’n beroep na Burgersdorp in die Noordoos-Kaap aanvaar waar hy die moontlikheid van die stigting van ’n teologiese skool vir die jong kerkverband moes ondersoek. Die skool is op 29 November 1869 feestelik geopen in die buitegeboue van die pastorie en die eerste vyf studente ingeskryf.

Opleiding

[wysig | wysig bron]
Ds. Postma en sy eerste vrou, Maria Johanna Aletta Coetsee, gebore Venter. Sy was 17 jaar oud ten tyde van hul troue in 1877. Dié huwelik, soos ook sy volgende twee, was kinderloos. Sy is in 1908 oorlede.

Petrus en sy broer Martinus het van hul sewende jaar reeds lesse in Hebreeus, Latyn en Grieks by hul pa gekry. Sy skoolopleiding ontvang hy eers op Burgersdorp en daarna aan die Gill-kollege op Somerset-Oos, waar hy sy B.A.-graad verwerf. Hy keer terug na Burgersdorp waar hy hom as predikant bekwaam aan die Teologiese Skool en in 1879 sy proponentseksamen aflê. Sy vader was destyds rektor van die instelling. Petrus was van 1877 tot 1880 die eerste professor van letterkunde aan die Teologiese Skool. Dit gebeur nadat die Gereformeerde Kerk se sinode van 1876 besluit het op ingrypende veranderings aan die skool. Burgersdorp se kerkraad het ’n beskrywingspunt ingedien waarvolgens twee hoogleraars benoem sou word, vry van kerklike diens (tot in daardie stadium was die professore ook leraar van Burgersdorp se gemeente) sodat die gemeente weer voltyds die dienste van sy eie leraar kon geniet. Daar was ook ’n versoek dat die eksamen verander word en daar onderskei word tussen ’n literariese en ’n eindeksamen omdat die skool van die begin af nie net predikante nie, maar ook onderwysers opgelei het. In die literariese vakke moes die studente so onderrig word dat hulle hulle sou kon aanmeld vir die B.A.-graad, wat afgeneem sou word deur die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop. Nadat die sinode ds. Dirk Postma as professor in die teologie benoem en hy bedank, maar inwillig om waar te neem tot die volgende sinode, gaan die kuratore van die Teologiese Skool daartoe oor om Petrus Postma as eerste professor litterarum te benoem teen ’n salaris van £400 per jaar.

Professor op Burgersdorp

[wysig | wysig bron]

Vir die ses studente wat in 1877 aan die Teologiese Skool Burgersdorp verbonde was, was die ontvangs van die eerste voltydse professor ’n gebeurtenis van buitengewone betekenis. Die gemeente en studente gaan hom op 28 Januarie 1877 op die plaas Bottelfontein van die broers D. en F. Gerber tegemoet. Die skool pak die jaar 1877 met nuwe moed aan, want die bouer William Warner het die buitekamers in die agterplaas van die Gereformeerde pastorie waarin dit gehuisves, die jaar vantevore opgeknap. Die biblioteek is gehuisves in ’n voorkamer van die predikantswoning en die Sinode van 1876 het besluit om die bydrae van die skool van £10 tot £20 per honderd lidmate te verhoog. Prof. Postma moes ’n magdom vakke doseer: Latyn, Hollandse taal en letterkunde, aardrykskunde, Engelse taal en letterkunde, algemene geskiedenis, rekenkunde, algebra, geometrie, Grieks, kerkgeskiedenis en natuurkunde. Prof. Petrus Postma bedank aan die einde van 1879 om ’n beroep na Burgersdorp se Gereformeerde gemeente te aanvaar en word as professor in literariese studies opgevolg deur sy jonger broer, ds. Martinus Postma, indertyd hoof van die openbare skool op Aliwal-Noord.

Predikant

[wysig | wysig bron]
Ds. Postma se tweede huwelik, op 27 Julie 1909, was met Aafke Nienhuis (weduwee Oosterhuis). Ná haar dood was hy ook nog getroud met Cecilia Johanna Venter.
In dié kerk, opgerig in die gemeente se stigtingsjaar, 1860, die voorloper van die huidige wat in 1913 teen ’n koste van £13 000 opgerig is, het ds. Petrus Postma, nes sy vader van 1866 tot 1879, die Woord aan Gereformeerde lidmate van Burgersdorp bedien.
Ds. Postma en sy derde vrou, Cecilia Johanna Venter.

Op Burgersdorp dien ds. Petrus Postma net tot 1882. Nou volg nie een nie, maar drie beroepe na Pretoria omdat hy vir die eerste twee bedank het. Die eerste beroep was op 6 Oktober 1881 kort ná ds. J.S.L. Venter se “hartseer en oneervolle”[1] vertrek uit die gemeente. By die eerste beroep is die uitslag so bepaal dat hulle sy naam gestel het en as enigeen teen die beroep gekant was, moes hy bly staan. Die hele gemeente het bly sit. Reeds in dié beroeping het pres. Paul Kruger sterk na vore getree dat die versorging en vrye inwoning van die predikant gewaarborg moes word. Die gemeente het allerweë verwag ds. Postma sou die beroep aanvaar. Daarom het mev. Gezina Kruger in daardie tyd die kerkgebou en pastorie so te sê op eie houtjie skoongemaak en sover moontlik herstel. Die rekening wat die kerkraad van haar koste moes verhaal, was ’n groot som in daardie tyd. Die gemeente se teleurstelling was baie groot toe hulle op 20 Januarie 1882 verneem dat Petrus Postma nie die beroep aangeneem het nie. Hulle beroep hom toe ’n tweede keer en weer het Postma beswaar teen die beroep toe hy verneem dat daar geen amptelike stemming in die gemeente was nie. Op 8 April 1882 word daar vir die derde keer amptelik uit die gemeente ’n beroep op hom uitgebring. Nou aanvaar hy die beroep en word op 22 Julie 1882 bevestig deur ds. J.L. Maury, predikant van Potchefstroom, wat sedert ds. J.S.L. Venter se bedanking as konsulent moes instaan, dikwels onder baie moeilike omstandighede.[1]

Die Gereformeerde kerk Pretoria skryf oor ds. Postma se 22-jarige dienstyd dat dit in verskeie opsigte uitsonderlike jare was, veral gekenmerk deur die besonderse verhouding tussen hom en pres. Paul Kruger. Vir die president was hy ’n vriend en persoonlike raadgewer. Die predikant en president het hard gewerk om lidmate te vermaan dat hulle hul geldoffers na die huis van die Here moet bring. Albei ds. Postma se voorgangers, di. Swart en Venter, is juis in vele opsigte deur hulle geldelike “tekortkominge en nie goeie versorging van die gemeente in groot mate gedwing tot hulle vertrek wat nie by een van hulle ten volle eervol was nie”. Hierdie leemte is met groot sorg in die gemeente in die tyd van Postma aangespreek.

Die wye gebied wat bedien moes word (Middelburg, Lydenburg, Heidelberg (Transvaal)) het ook besonderse sorg vereis sonder dat hy wou toelaat dat enigiets in Pretoria agterweë bly. Daar is destyds met groot sorg aandag gegee aan goed beplande leesdiensroosters sodat die kerklike wiele kon bly rol al was die predikant uitstedig. Ds. Postma het ook die mense op die Dorslandtrek in besonder bearbei en hy het hard probeer om hulle van die plan te laat afsien, al was die plaaslike omstandighede baie moeilik. Tydens ds. Postma se tyd was dit gou duidelik die kerkgebou vergroot moes word. Dié taak is met groot sorg en goed beplande insette van G. Pierneef, as boumeester, en H. Dijksterhuis, as argitek, uitgevoer. Op 16 Oktober 1885 is die nuwe, vergrote kruiskerk in gebruik geneem.

Ds. Petrus Postma bly in Pretoria tot 1904. Hy is tydens die Tweede Vryheidsoorlog na Ceylon verban waar hy predikant was vir die Boerekrygsgevangenes. In dié tyd het diaken Hendrik Hermann die kerksake in ds. Postma se gemeente behartig. Later het ds. Postma ’n aktiewe rol gespeel in die bevordering van emigrasie uit Nederland.

Ná die oorlog dien hy eers die kombinasie-gemeente Zeerust-Lichtenburg van 1904 tot 1906 en toe die gemeente Heidelberg, eweneens in Transvaal, van 1906 af totdat hy, weens swak gesondheid, sy emeritaat moes aanvaar op 4 Oktober 1919. Hy is onverwags oorlede, enkele ure ná die kerkraadsveragdering wat dit aan hom toestaan het.

Gesinslewe

[wysig | wysig bron]

Ds. Postma is in 1877 getroud met Maria Johanna Aletta Venter van Philipstown, wat hom ná ’n kinderlose huwelik in 1908 ontval het. Op 27 Julie 1909 is hy met die weduwee Aafke Oosterhuis (1874–1914) van Heidelberg getroud, en ná haar dood met C. Johanna Venter. Dié huwelike was ook kinderloos.

Galery

[wysig | wysig bron]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]