Gaan na inhoud

Nebukadnesar II

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Nabû-kudurri-uṣur
Koning van Babilon
Koning van Sumerië en Akkadië
Koning van die Heelal
'n Gravering met 'n koninklike inskripsie van Nebukadnesar II. Anton Nyström, 1901.[1]
Koning van die Nieu-Babiloniese Ryk
HeerskappyOmstreeks 605-562 v.C.
VoorgangerNabopolassar
OpvolgerAmel-Marduk
GeboreOmstreeks 634 v.C.
Uruk (?)
OorledeOmstreeks 562 v.C.
(71-72 jaar oud)
Babilon
EggenootAmitis van Medië
VaderNabopolassar

Nebukadnesar II[nota 1] (ook bekend as Nebukadrésar II;[2] Babiloniese wigskrif: , Nabû-kudurri-uṣur, "O god Nabu, bewaar my erfgenaam"; Bybelse Hebreeus: נְבוּכַדְנֶאצַּר) was die tweede koning van die Nieu-Babiloniese Ryk. Hy het regeer van sy vader, Nabopolassar, se dood in 605 v.C. tot met sy eie dood in 562 v.C. Hy is histories bekend as Nebukadnesar die Grote[3][4] en word algemeen beskou as die ryk se grootste monarg.[5][6][7]

Nebukadnesar is steeds bekend vir sy militêre veldtogte in die Levant, vir sy bouprojekte in sy hoofstad, Babilon, insluitende die Hangende Tuine van Babilon, en vir sy rol in die Joodse geskiedenis.[5] Hy het 43 jaar lank regeer, die langste in die Babiloniese dinastie. Teen die tyd van sy dood was hy een van die magtigste heersers in die wêreld.[6]

Hy is waarskynlik genoem na sy oupa met dieselfde naam of na Nebukadnesar I (bewind: omstreeks 1125-'04 v.C.), een van Babilonië se grootste antieke vegter-konings. Nebukadnesar II het reeds tydens sy vader se bewind naam gemaak deur leërs aan te voer in die Babiloniese verowering van die Assiriese Ryk. By die Slag van Karkemis in 605 v.C. het Nebukadnesar die Egiptiese leër van farao Necho II oortuigend verslaan en verseker dat die Nieu-Babiloniese Ryk die Nieu-Assiriese Ryk sou opvolg as die oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste. Kort ná dié oorwinning het Nabopolassar gesterf en Nebukadnesar koning geword.

Ondanks sy suksesvolle militêre loopbaan tydens sy vader se bewind, het Nebukadnesar in sowat die eerste derde van sy eie bewind geen groot militêre prestasies behaal nie, maar wel 'n rampspoedige mislukking toe hy Egipte probeer inneem het. In dié tyd het sommige van Babilonië se vasals, veral in die Levant, begin om Babilon se mag in twyfel te trek omdat dit nie op die vlak van die Assiriese Ryk was nie. Die situasie het so ernstig geword dat mense in Babilonië self ongehoorsaam aan die koning begin word het. Sommige het selfs in opstand gekom teen sy heerskappy.

Hierna het Nebukadnesar beter sukses behaal. In die 580's v.C. was hy betrokke in 'n reeks militêre optredes in die Levant teen die vasalstate wat daar in opstand was, moontlik met die uiteindelike doel om die Egiptiese invloed in die streek aan bande te lê. In 587 v.C. het Nebukadnesar die Koninkryk Juda en sy hoofstad, Jerusalem, verwoes. In die verowering van Jerusalem is die stad se inwoners en mense van die omringende grondgebied gevange geneem en na Babilon gedeporteer. Hy was die Jode se grootste vyand tot op daardie punt. Die Bybelboek Jeremia skilder Nebukadnesar as 'n wrede vyand, maar ook as God se aangestelde heerser van die wêreld en 'n goddelike instrument om ongehoorsaamheid te straf.

Met die vernietiging van Jerusalem, die verowering van die rebelse Fenisiese stad Tirus en ander veldtogte in die Levant het Nebukadnesar die Nieu-Babiloniese Ryk se transformasie in die nuwe groot mag van die antieke Nabye Ooste voltooi.

Benewens vir sy militêre veldtogte word Nebukadnesar onthou as 'n groot bouer-koning. Die rykdom wat met sy oorloë versamel is, het hom in staat gestel om groot bouprojekte in Babilon en elders in Mesopotamië aan te pak. Die moderne beeld van Babilon is grootliks van die stad soos dit was ná Nebukadnesar se projekte. Hy het onder meer die stad se godsdiensgeboue herbou, die huidige paleis herstel en 'n nuwe paleis laat bou. Hy het ook die seremoniële middestad mooigemaak deur restourasiewerk aan die Prosessiestraat en Isjtarpoort. Omdat die meeste van Nebukadnesar se inskripsies handel oor sy bouprojekte en nie sy militêre suksesse nie, is hy histories lank beskou as 'n bouer eerder as 'n vegter.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
'n Gebakte moddersteen van Babilon, gestempel met die naam en titels van Nebukadnesar II.

Nebukadnesar II se naam in Akkadies was Nabû-kudurri-uṣur,[8] wat beteken "Nabu, bewaar my erfgenaam".[5] Die naam is vroeër vertolk as "Nabu, bewaar die grens", omdat die woord kudurru ook "grens" of "lyn" kan beteken.[9]

In Hebreeus is die naam gewoonlik geskryf as נְבוּכַדְנֶאצַּר (Nəḇūḵaḏneʾṣṣar) en in Grieks as Ναβουχοδονόσορ (Nabouchodonosor). Sommige geleerdes, soos Donald Wiseman, verkies die vorm "Nebukadresar", met 'n "r" in plaas van 'n "n", na aanleiding van die aanname dat "Nebukadnesar" 'n latere, verkeerde vorm van die kontemporêre Nabû-kudurri-uṣur is. Die naam Nebukadnesar is soos dit in die Afrikaanse Bybel (1983-vertaling) gespel word.

Nebukadnesar II se naam, Nabû-kudurri-uṣur, is dieselfde as dié van een van sy voorgangers, Nebukadnesar I (bewind: omstreeks 1125-'04 v.C.), wat meer se vyf eeue voor hom regeer het.[8] Nes Nebukadnesar II was Nebukadnesar I 'n vegter-koning, wat regeer het in 'n tyd van politieke onrus en wat die magte van Babilon se vyande verslaan het (in sy geval die Elamiete).[10]

As Jursa se teorie oor Nabopolassar se oorsprong reg is, is dit ook moontlik dat Nebukadnesar II na sy oupa met dieselfde naam genoem is, want die Babiloniërs het patronieme gebruik, eerder as om iemand na 'n vorige koning te noem.[11][12]

Stamboom

[wysig | wysig bron]
Die bewaarde deel van die Eannatempel by Uruk. Nebukadnesar was van 626/'25-617 v.C. hoëpriester van die tempel.

Nebukadnesar was die oudste seun van Nabopolassar (bewind: 626-605 v.C.), die stigter van die Nieu-Babiloniese Ryk. Dit word bevestig deur Nabopolassar se inskripsie, wat eksplisiet noem dat Nebukadnesar sy oudste seun is, sowel as inskripsies uit Nebukadnesar se bewind, wat na hom verwys as "eerste seun" van Nabopolassar en as Nabopolassar se "ware" of "wettige erfgenaam".[13] Die Nieu-Babiloniese Ryk is gestig ná Nabopolassar se rebellie en latere oorlog teen die Nieu-Assiriese Ryk. Dit het Babilonië bevry van byna 'n eeu van Assiriese beheer. In die oorlog is Assirië heeltemal verwoes.[14] Die Nieu-Babiloniese Ryk, wat in sy plek ontstaan het, was magtig, maar oorhaastig opgebou en polities onstandvastig.[15]

Omdat Nabopolassar nooit sy stamboom in enige inskripsies duidelik gemaak het nie, is sy oorsprong onseker. Latere historici het hom dus geïdentifiseer as óf Galdees[16][17][18] óf Assiries[19] óf Babilonies.[20] Hoewel geen bewyse die feit bevestig dat hy Galdees was nie, word die term "Galdese dinastie" dikwels deur moderne historici gebruik vir die koninklike familie wat hy gevestig het, en die term "Galdese Ryk" is histories 'n alternatiewe naam vir die Nieu-Babiloniese Ryk.[16]

Dit lyk of Nabopolassar, ondanks sy etniese oorsprong, sterk verbind is met die stad Uruk,[18][21] suid van Babilon. Dit is moontlik dat hy lid van die stad se regerende elite was voordat hy koning geword het.[18] Daar is al hoe meer bewyse dat Uruk sy familie se stad van oorsprong was, byvoorbeeld omdat sy dogters in Uruk gewoon het.[22]

Nebukadnesar II word reeds vroeg in sy vader se bewind genoem. Hy was van 626/'25 tot 617 v.C. hoëpriester van die Eannatempel in Uruk.[23][24] Hy moes op 'n baie jong ouderdom hoëpriester geword het, veral as 'n mens in ag neem dat sy sterwensjaar, 562 v.C., 64 jaar ná 626 v.C. was.[25]

Kroonprins

[wysig | wysig bron]
Die Slag van Karkemis, soos uitgebeeld in Hutchinson's Story of the Nations (1900).
Die sogenaamde "Kroniek van Nabopolassar". Die inskripsies in wigskrif vertel die kroniek van die jare 608-605 v.C.

Nebukadnesar se militêre loopbaan het tydens die bewind van sy vader begin, hoewel min inligting bewaar gebly het. Geskoei op 'n brief wat aan die administrasie van die Eannatempel gestuur is, lyk dit of Nebukadnesar deelgeneem het aan sy vader se veldtog om die stad Harran in 610 v.C. te verower.[26] Harran was die setel van Assur-uballit II, wat die oorblyfsels van die Assiriese weermag bymekaargemaak en oor die Nieu-Assiriese oorskotstaat regeer het.[27] Die Babiloniese oorwinning in die Harranveldtog en die nederlaag van Assur-uballit in 609 v.C. was die einde van die Assiriese monargie, en dit sou nooit weer herstel nie.[28]

In Assirië se oorlog teen die Babiloniërs en die Mede het Assirië 'n bondgenootskap met farao Psamtik I van die 26ste Dinastie van Egipte gesluit. Psamtik wou hê Assirië moes voortbestaan sodat dit 'n bufferstaat tussen Egipte en die Babiloniese en die Mediese koninkryk kon bly.[29] Ná die val van Harran het sy opvolger, farao Necho II, persoonlik 'n leër na die voormalige Assiriese grondgebied gelei om die gang van die oorlog om te keer en die Nieu-Assiriese Ryk te herstel.[30] Dit was egter 'n verlore saak, want Assirie het reeds geval.[31] Terwyl Nabopolassar teen Urartu in die noorde geveg het, het die Egiptenare beheer oor die Levant oorgeneem en gebiede tot so ver noord as Karkemis in Sirië sonder weerstand ingeneem. In Karkemis het Necho die basis vir sy operasies gevestig.[32]

Nebukadnesar se grootste oorwinning in sy tyd as kroonprins was by die Slag van Karkemis in 605 v.C.,[26] waarin die Egiptenare oortuigend verslaan is en wat 'n einde gebring het aan Necho se veldtog in die Levant.[33][31] Nebukadnesar het die leër alleen aangevoer, terwyl sy vader in Babilon gebly het,[14] dalk omdat hy siek was.[32] Necho se magte is heeltemal deur Nebukadnesar se leër uitgewis. Volgens Babiloniese bronne het nie 'n enkele Egiptenaar oorleef nie.[34][26]

Die storie oor Nebukadnesar se oorwinning by Karkemis het deur die geskiedenis weerklink en is talle kere oorvertel, insluitende in die Bybelboeke Jeremia en Konings. Dit is moontlik om af te lei dat die oorwinning daartoe gelei het dat die hele Sirië en Israel onder beheer van die Nieu-Babiloniese Ryk gekom het, iets wat die Assiriërs onder Tiglat-Pileser III (bewind: 745-727 v.C.) eers reggekry het ná vyf jaar van uitgerekte militêre veldtogte.[26] Die nederlaag van die Egiptenare by Karkemis het verseker dat die Nieu-Babiloniese Ryk die oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste en die onbetwiste opvolger van die Nieu-Assiiese Ryk sou word.[14][35]

Bewind

[wysig | wysig bron]

Vroeë veldtogte

[wysig | wysig bron]
'n Kleisilinder van Nabopolassar van Babilon.
Tekste soos dié kleitablet van Babilon besing Nebukadnesar se deugde en vertel watter groot leier hy is.

Nabopolassar is dood 'n paar weke ná Nebukadnesar se oorwinning by Karkemis.[26] Nebukadnesar was steeds op sy veldtog, maar het hom teruggehaas na Babilon,[34] waar hy tot koning verklaar is.[36] Een van sy eerste dade as koning was om sy vader te begrawe. Nebukadnesar het dadelik daarna na Sirië teruggekeer en sy veldtog hervat. Hy het ná 'n paar maande weer na Babilon teruggekeer.[36] Hoewel 'n sekere hoeveelheid buit in die Siriese veldtog geplunder is, het dit nie Nebukadnesar se houvas in die streek gevestig nie. Nie een van die westelike state in die Levant het aan hom trou belowe of heffings betaal nie.[7]

Hoewel min ligting oor sy vroeë veldtogte bewaar gebly het, bevat die Babiloniese Kroniek kort weergawes van sy veldtogte in sy eerste 11 jaar as koning. In 604 v.C. het Nebukadnesar weer 'n veldtog in die Levant gevoer en die stad Askalon verower.[36] Voor dit het 'n veldtog in Sirië gelei tot 'n belofte van trou deur die heersers van Fenisië.[7]

'n Kaart van die Nieu-Bbailoniese Ryk onder Nebukadnesar.

In 603 v.C. het Nebukadnesar 'n veldtog gevoer in 'n land waarvan die naam nie bekend is nie en 'n onbekende stad beleër. In beide 602 en 601 v.C. was daar weer veldtogte in die Levant, maar min is daaroor bekend.[36] Die kroniek verwys in die inskrywing vir 602 v.C. na Nabu-sum-lisir, Nebukadnesar se jonger broer, maar die konteks is onduidelik. Dit is moontlik dat hy 'n opstand teen Nebukadnesar gelei het in 'n poging om die troon oor te neem, want hy word ná 602 v.C. nie weer in enige bronne genoem nie.[37]

Statue probably depicting Pharaoh Necho II
'n Standbeeld wat moontlik van Necho II van Egipte is.

In die veldtog van 601 v.C. is Nebukadnesar van die Levant na Egipte om dit binne te val. Ondanks die Egiptiese nederlaag by Karkemis in 605 v.V., het Egipte nog baie invloed in die Levant gehad, hoewel die streek onder Babiloniese heerskappy was. 'n Veldtog teen Egipte was dus logies as Babilonië sy oorheersing wou afdwing, maar dit was ook riskant en ambisieus. Die inval het misluk, met baie soldate wat aan albei kante gesneuwel het.[38] Necho II het egter wel sy ambisies in die Levant laat vaar en sy invloed in die streek het afgeneem.[39] In 599 v.C. het Nebukadnesar die Levant binnemarsjeer en die Arabiere in die Siriese woestyn aangeval. Hoewel dit blykbaar geslaag was, is min daaroor bekend.[38]

In 598 v.C. het Nebukadnesar 'n veldtog gevoer teen die Koninkryk Juda en die stad Jerusalem verower.[40] Juda was 'n gesogte teiken vir Babilonië omdat dit die middelpunt van mededinging tussen Babilon en Egipte was. Teen 601 v.C. het Juda se koning, Jojakim, begin om Babilonië se mag openlik uit te daag, met die verwagting dat Egipte hom sou help. Nebukadnesar se eerste aanval op Jerusalem, in 598-597 v.C., word in die Bybel genoem en ook in die Babiloniese Kroniek.[41]

Jojakim is tydens Nebukadnesar se beleg van die stad dood en is deur sy seun Jojagin vervang. Dié is gevange geneem en na Babilon geneem, en sy oom Sedekia is in sy plek tot koning van Juda verklaar. Daar word in rekords genoem dat Jojagin daarna lewend was. Hy is tot so laat as 592 of 591 v.C. gelys as onder die ontvangers van kos in Nebukadnesar se paleis, en is steeds die "koning van die land Juda" genoem.[41]

In 595 v.C. het Nebukadnesar 'n rebellie tuis onderdruk. Hy het tot in 594 v.C. nog minstens twee keer in die Levant veldtogte gevoer.[40] Daarna volg verskeie jare waarin daar geen noemenswaardige militêre optrede was nie. Dit lyk dus of hy min militêre suksesse gehad het ná sy mislukte inval in Egipte. Nebukadnesar se swak militêre rekord het groot geopolitieke gevolge ingehou. Volgens die Bybel het die konings van Ammon, Edom, Moab, Sidon en Tirus in Sedekia se vierde bewindsjaar (594 v.C.) in Jerusalem byeengekom om die moontlikheid te bespreek om van Babiloniese beheer ontslae te raak.[42] Daar is ook in kontemporêre Babiloniese rekords bewyse dat die land se beheer besig was om uit te rafel, soos die genoemde rebellie in Babilonië self.

Verwoesting van Jerusalem

[wysig | wysig bron]
Dié skildery deur James Tissot uit die 19de of 20ste eeu wys hoe die Babiloniese magte Jerusalem verwoes.

Van sy aanstelling as koning van Juda het Sedekia vir die regte oomblik gewag om van Babiloniese beheer ontslae te raak. Ná farao Necho II se dood in 595 v.C. het Egipte onder sy opvolgers Psamtik II (bewind: 595-589 v.C.) en Apriës (bewind: 589-570 v.C.) al hoe meer begin inmeng in die sake van die Levant. Albei farao's het rebellies teen Babilonië aangevuur.[41] Sedekia het openlik teen Nebukadnesar se gesag in opstand gekom.[41] Ongelukkig het geen inskripsies in wigskrif uit dié tyd bewaar gebly nie en die enigste weergawe van die val van Juda is die een in die Bybel.[41][43]

Die verwoesting van Jerusalem en gevangeneming van sy inwoners op 'n Bybelillustrasie, 20ste eeu.

In 589 v.C. het Sedekia geweier om heffings aan Nebukadnesar te betaal. Sy voorbeeld is gevolg deur Etbaäl III, koning van Tirus.[44] Uit reaksie op Sedekia se opstand[41] het Nebukadnesar die Koninkryk Juda in 586 v.C. verower en verwoes.[41][43] Dit was een van die groot suksesse van sy bewind.[41][43] Die gevolg van die veldtog, wat waarskynlik in die somer van 586 v.C. geëindig het, was die plundering en verwoesting van Jerusalem, die permanente einde van Juda en die gevangenskap en deportering van die Jode na Babilon.[41] Argeologiese uitgrawings bevestig dat Jerusalem en die omringende gebied verwoes en ontvolk is. Dit is moontlik dat iets soos 'n verskroeideaardebeleid in Jerusalem en elders in die Levant gevolg is om te keer dat Egipte 'n vastrapplek daar kry.[45]

Volgens die Bybel en die 1ste-eeuse Joodse historikus Flavius Josephus het Sedekia probeer vlug, maar hy is in Jerigo gevange geneem. Nebukadnesar wou 'n voorbeeld van hom maak omdat Sedekia 'n vasal was wat regstreeks deur Nebukadnesar aangestel is. Sedekia is na bewering na Ribla in Noord-Sirië geneem waar hy moes kyk hoe sy seuns tereggestel word voordat sy oë uitgesteek en hy as gevangene na Babilon geneem is.[46]

Latere militêre veldtogte

[wysig | wysig bron]
Tirus word beleër deur Nebukadnesar van Babilon, deur Stanley Llewellyn Wood (1915).

Dit is moontlik dat Egipte die feit uitgebuit het dat die Babiloniërs besig was om Jerusalem te beset. Herodotos beskryf hoe farao Apriës 'n veldtog in die Levant gevoer, die stad Sidon verower en teen Tirus geveg het. Dit dui op 'n hernude Egiptiese inval in die Levant.[44] Apriës was egter nie baie suksesvol nie.[46] Tirus het omtrent dieselfde tyd as Juda gerebelleer, en Nebukadnesar het ná sy verwoesting van Jerusalem teen Tirus opgetrek.[46]

Die Bybelboek Esegiël beskryf Tirus in 571 v.C. asof dit kort tevore deur Babilonië oorgeneem is.[47] Die beweerde duur van die beleg, 13 jaar,[48] word net deur Josephus genoem en moderne geleerdes debatteer daaroor.[45] Op die ou end is die beleg beëindig sonder 'n geveg en daarom is Tirus nie verower nie.[45][49] Dit lyk of Nebukadnesar en Tirus se koning tot 'n vergelyk gekom het dat Tirus steeds deur 'n vasalkoning regeer sou word, maar moontlik onder groter Babiloniese beheer as tevore. Dokumente uit Tirus teen die einde van Nebukadnesar se bewind wys die stad het 'n sentrum vir Babiloniese militêre bedrywighede in die streek geword.[45] Volgens latere Joodse tradisie is dit moontlik dat koning Etbaäl III afgesit en as gevangene na Babilon weggevoer is, terwyl Nebukadnesar 'n ander koning, Baäl II, in sy plek aangestel het.[50]

Nebukadnesar se veldtogte in die Levant, veral dié teen Jerusalem en Tirus, het die Nieu-Babiloniese transformasie voltooi van 'n oorskotstaat van die Nieu-Assiriese Ryk in die nuwe oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste.[45] 'n Vraagteken hang egter oor Nebukadnesar se militêre suksesse,[7] want die grense van sy ryk was teen die einde van sy bewind nie veel groter nie en hy kon nie Egipte verower nie. Selfs ná 'n bewind van verskeie dekades is Nebukadnesar se grootste oorwinning die een oor die Egiptenare in 605 v.C. in Karkemis, voordat hy koning geword het.[51]

Bybelse weergawe

[wysig | wysig bron]
Daniël lê die droom van Nebukadnesar uit.

Die gevangenskap van die Jode in Babilon het tot 'n einde gekom met die val van Babilon onder die Achaemenidiese koning Kores die Grote in 539 v.C. Binne 'n jaar nadat hulle vrygelaat is, het sommige Jode na hulle vaderland teruggekeer. Die Joodse letterkunde verseker dat die moeilike tye wat hulle deurgemaak het, asook die monarg wat daarvoor verantwoordelik was, vir altyd onthou word.[8] Die Bybelboek Jeremia noem Nebukadnesar 'n "leeu" en "vernietiger van die nasies".[52] (Jesaja 4:7)

Die Bybel vertel hoe Nebukadnesar die Koninkryk Juda verwoes en Jerusalem beleër, geplunder en vernietig het, asook hoe hy die Jode in gevangenskap weggevoer het. Hy word uitgebeeld as 'n wrede vyand van die Joodse volk.[53]

Die Bybel beeld Nebukadnesar verder uit as die wettige heerser van alle nasies wat deur God aangestel is om die wêreld te regeer. Dit was dus Juda se goddelike plig om Nebukadnesar te gehoorsaam en hulle moes nie gerebelleer het nie. Nebukadnesar het volgens die Bybel doodsvonnisse voltrek wat deur God uitgespreek is, en het twee vals profete doodgemaak. Nebukadnesar se veltogte teen ander nasies word beskou as ooreenstemmend met God se wil dat Nebukadnesar die wêreld oorheers.[54]

Nebukadnesar se aanval op Juda word in Jeremia geregverdig op grond van die bevolking se "ongehoorsaamheid" aan God en die koning word genoem "Nebukadnesar die koning van Babilon, my dienskneg". Nebukadnesar word drie keer in dié boek "my dienskneg" genoem. Klaas A.D. Smelik het in 2004 geskryf: "Daar is in die Hebreeuse Bybel geen beter geselskap nie; terselfdertyd is daar geen onwaarskynliker kandidaat vir dié eretitel as die Babiloniese koning Nebukadnesar nie."[55]

Nebukadnesar word in die Ou Testamentiese boek Daniël as 'n belangrike karakter uitgebeeld.[56] Daniël 1 noem Nebukadnesar as die koning wat Daniël en ander Hebreeuse jeugdiges in ballingskap na Babilon weggevoer het. In Nebukadnesar se tweede regeringsjaar lê Daniël die koning se droom uit nadat die towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers dit nie kon doen nie. Die geheim is in 'n nagtelike visioen aan Daniël geopenbaar.

Bouprojekte

[wysig | wysig bron]
'n Bou-inskripsie van koning Nebukadnesar II by die Isjtarpoort. 'n Verkorte uittreksel lui: Ek het die fondament van die poorte tot by die grondwatervlak gelê en dit gebou uit suiwer blou klip. Teen die mure in die binnekamer van die poort is bulle en drake en daarom versier ek hulle met luukse prag sodat die ganse mensdom dit met ontsag kan aanskou.

Die koning van Babilon was tradisioneel 'n bouer en restoureerder. Grootskaalse bouprojekte was dus belangrik as wettigingsfakor van die Babiloniese heersers.[57] Nebukadnesar het sy hoofstad, Babilon, aansienlik uitgebrei en herbou, en die meeste moderne historiese en argeologiese vertolkings van die stad weerspieël hoe dit gelyk het ná Nebukadnesar se bouprojekte.[45] Die projekte is moontlik gemaak deur die vooruitstrewende ekonomie tydens Nebukadnesar se bewind, wat danksy sy oorwinnings was.[58] Sy bou-inskripsies vertel van werk aan verskeie tempels, veral die restourasie van die Esagila, die hooftempel van Babilon se nasionale god, Mardoek, en die voltooiing van die Etemenanki, 'n groot ziggoerat wat aan Mardoek gewy is.[45]

Babilon se Isjtarpoort, Pergamonmuseum, Berlyn.

Uitgebreide werk is ook gedoen aan militêre en burgerlike strukture. Die indrukwekkendste was die herbouing van die stad se noordelike seremoniële ingang, die Isjtarpoort. Nebukadnesar se projekte sluit in herstelwerk aan die Suidelike Paleis, binne die stadsmure, die bou van 'n nuwe Noordelike Paleis, bouwerk aan die ander kant van die mure by die Isjtarpoort en Prosessiestraat, wat deur die poort loop.[58]

Die gerestoureerde Isjtarpoort is versier met blou en geel geglaseerde stene en beeld bulle (die simbool van die god Hadad) en drake (die simbool van die god Mardoek) uit. Soortgelyke stene is gebruik vir die mure om Prosessiestraat wat ook leeus (die simbool van die godin Isjtar) uitbeeld.[58]

Babilon se Prosessiestraat, die enigste sodanige straat wat in Mesopotamië uitgegrawe is, het aan die oostemure van die Suidelike Paleis verbygeloop, die stad se binnemure by die Isjtarpoort verlaat en verby die Noordelike Paleis geloop. In die suide het die straat na Etemenanki geloop, wes gedraai en oor 'n brug geloop wat in óf Nabopolassar óf Nebukadnesar se bewind gebou is. Van die stene van Prosessiestraat bevat die naam van die Nieu-Assiriese koning Sanherib (bewind: 705-681 v.C.) aan die onderkant, wat dalk aandui dit is in sy tyd begin bou, maar die bokant van die stene bevat Nebukadnesar se naam, waarskynlik omdat dit in sy tyd voltooi is.[59]

Van sy talle ander bouprojekte sluit in 'n kanaal om water van die Eufraat na die stad Sippar te vervoer en 'n groot muur om Babilon teen invalle uit die noorde te beskerm.[60] Hy het ook die mure van noordelike stede soos Borsippa en Kisj versterk.[61]

Dood en opvolging

[wysig | wysig bron]

Nebukadnesar is in 562 v.C. in Babilon dood.[6] Hy het 43 jaar lank regeer; sy bewind was die langste in sy dinastie.[10] Hy is deur sy seun Amel-Marduk opgevolg.

Dit lyk of Amel-Marduk se opvolging nie glad verloop het nie.[62] Hy was nie Nebukadnesar se oudste oorlewende seun nie en dit is nie bekend hoekom hy as kroonprins gekies is nie.[63][64] Dit is veral vreemd in die lig daarvan dat die verhouding tussen vader en seun besonder swak was. Dit lyk ook asof Amel-Marduk in die een of ander stadium deur sy vader in die tronk gestop is, moontlik omdat die Babiloniese outokrasie hom as koning uitgeroep het terwyl Nebukadnesar weg was.[65] Dit is ook moontlik dat Nebukadnesar van plan was om Amel-Marduk met 'n ander seun as erfenaam te vervang, maar dood is voordat hy dit kon doen.[66]

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Weens die min bronne het historici se beoordeling van Nebukadnesar se karakter en die aard van sy bewind aansienlik deur die jare verskil.[67] Hy word gewoonlik beskou as die grootste en pretigerykste koning van die Nieu-Babiloniese Ryk.[5][6][7]

Nie veel van sy militêre aktiwiteite word in sy inskripsies beskryf nie, in sterk kontras met sy voorgangers s'n. Van die sowat 50 inskripsies van die koning handel net een oor militêre aktiwiteit, en net oor kleinskaalse konflikte in die Libanonstreek. Baie Assirioloë, soos Wolfram von Soden in 1954, het dus aanvanklik aangeneem Nebukadnesar was hoofsaaklik 'n bouer-koning, wat sy energie daaraan gewy het om geboue op te rig en sy land te restoureer. 'n Groot verandering in die evaluasie van Nebukadnesar het plaasgevind met die publisering van die tablette van die Babiloniese Kroniek in 1956 deur Donald Wiseman, wat die geopolitieke gebeure van Nebukadnesar se eerste 11 jaar as koning dek. Hierna het die meeste historici Nebukadnesar as 'n groot vegter beskou en spesiale aandag aan sy militêre suksesse geskenk.[67]

Die historikus Josette Elayi het in 2018 geskryf Nebukadnesar is effens moeilik om te karakteriseer vanweë die min Babiloniese bronmateriaal. Elayi skryf: "Hy was 'n veroweraar, hoewel twyfel bestaan oor sy militêre vermoëns. Daar is geen gebrek aan eienskappe van 'n staatsman nie. Hy was 'n groot bouer, wat sy land gerestoueer het wat oor 'n lang tyd deur oorlog verwoes is. Dit is rofweg al wat ons oor hom weet, want die Babiloniese Kroniek en ander tekste vertel min oor sy persoonlikheid."[7]

Notas

[wysig | wysig bron]
  1. Spelling in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Anton Nyström, Allmän kulturhistoria eller det mänskliga lifvet i dess utveckling, bd 2 (1901)
  2. Asimov, I. (1968) The Near East, Boston: Houghton Mifflin Co., p. 62
  3. Wallis Budge 1884, p. 116.
  4. Sack 2004, p. 41.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 Saggs 1998.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 Mark 2018.
  7. 7,0 7,1 7,2 7,3 7,4 7,5 Elayi 2018, p. 190.
  8. 8,0 8,1 8,2 Sack 2004, p. 1.
  9. Wiseman 1983, p. 3.
  10. 10,0 10,1 Sack 2004, p. 2.
  11. Nielsen 2015, pp. 61–62.
  12. Jursa 2007, pp. 127–133.
  13. Wiseman 1983, p. 5.
  14. 14,0 14,1 14,2 Sack 2004, p. 8.
  15. Beaulieu 1989, p. xiii.
  16. 16,0 16,1 Beaulieu 2016, p. 4.
  17. Johnston 1901, p. 20.
  18. 18,0 18,1 18,2 Bedford 2016, p. 56.
  19. The British Museum 1908, p. 10.
  20. Melville 2011, p. 16.
  21. Da Riva 2017, p. 78.
  22. Beaulieu 1998, p. 198.
  23. Jursa 2007, pp. 127–134.
  24. Popova 2015, p. 402.
  25. Popova 2015, p. 403.
  26. 26,0 26,1 26,2 26,3 26,4 Ephʿal 2003, p. 179.
  27. Melville 2011, p. 20.
  28. Radner 2019, p. 141.
  29. Lipschits 2005, p. 16.
  30. Rowton 1951, p. 128.
  31. 31,0 31,1 Sack 2004, p. 7.
  32. 32,0 32,1 Wiseman 1991, p. 182.
  33. Lipschits 2005, p. 20.
  34. 34,0 34,1 Wiseman 1991, p. 230.
  35. Wiseman 1991, p. 183.
  36. 36,0 36,1 36,2 36,3 Ephʿal 2003, p. 180.
  37. Da Riva 2013, p. 198.
  38. 38,0 38,1 Ephʿal 2003, pp. 180–181.
  39. Elayi 2018, p. 191.
  40. 40,0 40,1 Ephʿal 2003, p. 181.
  41. 41,0 41,1 41,2 41,3 41,4 41,5 41,6 41,7 41,8 Beaulieu 2018, p. 228.
  42. "Bible Gateway passage: Jeremiah 27:1-7 - New International Version". Bible Gateway (in Engels). Besoek op 16 Oktober 2022.
  43. 43,0 43,1 43,2 Ephʿal 2003, p. 183.
  44. 44,0 44,1 Elayi 2018, p. 195.
  45. 45,0 45,1 45,2 45,3 45,4 45,5 45,6 Beaulieu 2018, p. 229.
  46. 46,0 46,1 46,2 Elayi 2018, p. 196.
  47. Ephʿal 2003, p. 184.
  48. Ephʿal 2003, p. 186.
  49. Ephʿal 2003, p. 187.
  50. Elayi 2018, p. 200.
  51. Ephʿal 2003, p. 189.
  52. Shapiro 1982, p. 328.
  53. Smelik 2014, p. 110.
  54. Smelik 2014, pp. 123–124.
  55. Smelik 2014, pp. 110–12.
  56. Collins 2002.
  57. Porter 1993, p. 66.
  58. 58,0 58,1 58,2 Beaulieu 2018, p. 230.
  59. Baker 2012, p. 925.
  60. Beaulieu 2018, p. 232.
  61. Baker 2012, p. 926.
  62. Ayali-Darshan 2012, p. 26.
  63. Ayali-Darshan 2012, p. 27.
  64. Abraham 2012, p. 124.
  65. Weiershäuser & Novotny 2020, p. 1.
  66. Ayali-Darshan 2012, p. 29.
  67. 67,0 67,1 Ephʿal 2003, p. 178.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]