Gaan na inhoud

Majas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die historiese beskawing, sien Maja, vir hul taal, sien Majaans, en vir die taalfamilie, sien Majatale.
Majas

Hedendaagse Majas in Yucatán, Meksiko, 2007
Totale bevolking: ca. 6 miljoen (2002)
Voor-Colombiaans: 5–10 miljoen[1][2]
Belangrike bevolkings  in: Dele van die huidige lande Belize, El Salvador, Guatemala, Honduras, Meksiko en die Verenigde State
Taal: Majatale (Majaans), Spaans, Engels en Kreools
Geloofsoortuiging: Christendom (Katolisisme en Protestantisme), Majageloof, Islam
Verwante etniese groepe: Indiane en Mestizo

Die Majas (Majaans: maaya'ob, Spaans: mayas) is 'n etniese groep van inheemse mense in Meso-Amerika. Hulle bewoon die suidelike Meksiko en die noordelike Sentraal-Amerika (Guatemala, Belize, El Salvador en Honduras). Die oorkoepelende term "Maja" is 'n kollektiewe benaming wat na 29 inheemse volke van die streek verwys wat 'n graad van kulturele en taalkundige erfenis deel; die term omvat egter baie verskillende bevolkingsgroepe, samelewings en etniese groepe waarvan elkeen oor sy eie tradisies, kulturele en historiese identiteit beskik.

Jong Majavroue in tradisionele klere, Antigua, Department Sacatepéquez, Guatemala
Verspreiding van Majatale in Sentraal-Amerika

Volgens ramings aan die begin van die 21ste eeu bly sowat ses miljoen Majas in die streek.[1][2] Guatemala, Suid-Meksiko met die Yucatán-skiereiland, Belize, El Salvador en Wes-Honduras het daarin geslaag om talle oorblyfsels van hul antieke kulturele erfenis in stand te hou. Sommige is redelik in die meerderheid van hispaniseerde mestizo-kulture van hul tuislande geïntegreerd, terwyl ander voortgaan met 'n meer tradisionele, kultureel onderskeie lewe en dikwels een van die Majatale as 'n moedertaal praat. Hedendaags is die meeste Majas tweetalig met Spaans as tweede taal.

Die grootste bevolkings van hedendaagse Majas bly in Guatemala, Belize, en die westelike dele van Honduras eb El Salvador, asook in die Meksikaanse deelstate Yucatán, Campeche, Quintana Roo, Tabasco en Chiapas. In die Verenigde State en die noorde van Meksiko bestaan relatief groot emigrantegemeenskappe.

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
'n Majaman in Sololá, Guatemala

Baie Majas sukkel met probleme omdat hulle enersyds van die moderne wêreld se voordele wil profiteer, maar gelyktydig probeer hulle om hul eie identiteit te bewaar. Gedurende die 20ste eeu was die Majas nie net slagoffers van ondergeskiktheid en veronregting nie, maar ook van vervolging en massamoord.

Meer as 80% van die 200 000 slagoffers van die Guatemalteekse burgeroorlog (1960–1996) was Majas. In die 1980's, onder die presidente Romeo Lucas García (1978–1982) en Efraín Ríos Montt (1982–1983), het in Guatemala 'n volksmoord aan die Majabevolking plaasgevind. Die Rooms-Katolieke Kerk van Guatemala het die dikwels gruwelike misdade uitvoerig gedokumenteer, wat 'n biskop van die aartsbisdom, Juan Gerardi, die lewe gekos het. Iemand wat aan die Majakant teen aanhoudende wetteloosheid veg is Rigoberta Menchú (1992-Nobelprys vir Vrede-wenner). Onder internasionale druk is in onlangse jare meer en meer regte aan die groot Majabevolking toegeken. Veral die tweetalige onderwys word internasionaal geprys. In Meksiko het die spanninge in 1994 tot die Chiapas-konflik teen die Meksikaanse regering gelei.

In Meksiko is in 1976 Francisco Luna Kan as eerste Maja tot goewerneur van Yucatán verkies en in verskillende middelgroot stede van Guatemala het in onlangse jare vir die eerste keer Majas as burgemeesters gedien. Tog is Majas – ten spyte van hul persentasie van die bevolking – nog steeds polities onderverteenwoordig.

Religie

[wysig | wysig bron]
Die oudste oorblywende afskrif van die Popol Vuh (ms. 1701 deur Francisco Ximénez, O.P.)

Vanaf die 1970's het baie Majas die Protestantisme aangeneem. Onder die Majas van Guatemala en Chiapa is daar intussen meer Protestante as Rooms-Katolieke. Veral die Evangelikale Christendom en die Pinksterkerke is gewild onder Majas. Hierdie godsdienstige oorskakeling is nie onomstrede nie. Ten tye van die "gewelddadighede" (die violencia) is altyd die werk van Noord-Amerikaanse Protestantse sendelinge deur 'n moorddadige Guatemalteekse owerheid bevoordeel, terwyl Progressiewe Rooms-Katolieke priesters juis vervolg is. Baie ou (gemeenskap)tradisies sou onder invloed van die anti-ritualistiese Protestantisme verdwyn, al het dit weer die voordeel dat Protestantse Majas dan die vaak dure gemeenskapspligte nie meer moet vervul nie en sodoende tot 'n ekonomiese ontwikkeling in Westerse sin kon kom.[verwysing benodig]

Ook vir die stryd teen alkoholisme blyk die omskakeling na Protestantisme van baie Majas 'n positiewe uitwerking te hê. Op sommige plekke was daar gewelddadige uitbarstings tussen Rooms-Katolieke en Protestantse Majas. Kombinasies van die Rooms-Katolieke geloof met die tradisionele Majageloof kan ook gevind word.

Popol Vuh

[wysig | wysig bron]

Die Popol Vuh is die heilige boek van die Majas. Die eerste deel beskryf die skepping van die wêreld en die lewe van die helde. Die tweede deel beskryf die geskiedenis van die volk. Nadat die Rooms-Katolieke Spanjaarde probeer het om die "siel van die Indiane" uit te doof[3] het padre Francisco Ximenez, wat in 1688 Guatemala bereik het, 'n oorgeblewe teks getrou gekopieer en aan die besitters teruggee. Dit is noemenswaardig, want dit moes – volgens die eertydse wette – aan die Inkwisisie oorgedra en vernietig word. Danksy hierdie boek kan wetenskaplikes meer oor die beskawing van die Majas te wete kom.

Kleding

[wysig | wysig bron]
Guatemalteekse meisies in die kleredrag van Santa Catharina Palopo

Die Majas is veral bekend vir hul helderkleurige soorte tekstiel, gemaak van gare. Hierdie tekstiel word geweef en dikwels verder geborduur in onder meer kappies, (oor)hemde en rompe. Elke dorp het sy eie kenmerkende patroon. Die foto regs toon twee vroue uit Santa Catharina Palopo, 'n dorpie by die Atitlan-meer. Die Majas se damesklere bestaan tradisioneel uit 'n bloes (kappie) en 'n lang romp.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 (es) Lorenzo Ochoa; Patricia Martel(dir.) (2002). Lengua y cultura mayas. UNAM. p. 170. ISBN 9703200893.
  2. 2,0 2,1 (en) Nations, James D. (1 Januarie 2010). The Maya Tropical Forest: People, Parks, and Ancient Cities. University of Texas Press. ISBN 978-0-292-77877-1.
  3. (nl) Popol Vuh, het boek van de raad, Wolfgang Cordan, 1977, Ankh Hermes, bl. 10

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • (en) Voss, Alexander (2006). "Astronomy and Mathematics". In Nikolai Grube (red.). Maya: Divine Kings of the Rain Forest. Eva Eggebrecht and Matthias Seidel (assistant). Cologne: Könemann. pp. 130–143. ISBN 3-8331-1957-8. OCLC 71165439.
  • (en) Wagner, Elizabeth (2006). "Maya Creation Myths and Cosmography". In Nikolai Grube; Eva Eggebrecht; Matthias Seidel (reds.). Maya: Divine Kings of the Rain Forest. Cologne: Könemann. pp. 280–293. ISBN 3-8331-1957-8. OCLC 71165439.
  • (nl) Elvira van Rijn: Maya wijsheid voor je levenspad (2011), ISBN 9789077408896
  • (nl) Wolfgang Cordan: Popol Vuh, het boek van de raad, Mythe en geschiedenis van de Maya's (1977), ISBN 90-202-4856-1

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.