Gaan na inhoud

Ciskei

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Ciskei
iRiphabliki ye Ciskei

1981 – 1994
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Leuse: Siyakunqandwa Ziinkwenkwezi
Volkslied: Nkosi sikelel'i Afrika
Ligging of Ciskei
Ligging of Ciskei
Ligging van Ciskei in Suid-Afrika
Hoofstad Bhisho
Taal/Tale Xhosa
Regering Republiek
Hoofminister Thandatha Jongilizwe Mabandla (1972–1973)
Lennox Sebe (1973–1990)
Oupa Gqozo (1990–1994)
Wetgewer Parlement
Historiese tydperk Apartheid
 - Stigting 1 Augustus 1981
 - Weer ingelyf in Suid-Afrika 27 April 1994
Oppervlakte
 - 1994 8 100 km2
3 127 sq mi
Bevolking
 - 1994 skatting 1 088 476 
     Digtheid 134,4 /km² 
348 /sq mi
Geldeenheid Suid-Afrikaanse Rand

Die Ciskei is 'n voormalige gebied in die provinsie Oos-Kaap van Suid-Afrika met 'n oppervlak van 8 500 vierkante kilometer, wat van 1981 tot 1994 as een van die tuislande 'n onafhanklike status geken het. Net soos die Transkei is Ciskei al eeue lank deur Xhosa-stamme bewoon.

'n Landelike gebied in die ou Ciskei

Ciskei het 'n gematigde klimaat met somerreën en droë winters. 'n Aantal groot riviere word hier aangetref, soos die Groot-Visrivier, die Buffelsrivier en Keiskammarivier. Die gebied beskik oor verruklike natuurskoon in die Amatholeberge en langs sy kuslyn met die Indiese Oseaan, wat met lang sandstrande en inheemse woude spog. Die Tsolwana-wildreservaat aan die oewer van die Swart-Keirivier is die belangrikste natuurbewaringsgebied, wat in 1979 gestig is. Dit beslaan 'n oppervlak van 10 000 hektaar.

Bekende besienswaardighede is die slagvelde van die Hintsas-oorlog, die Duitse Setlaarskerk en die Ntaba Kandoda-monument, wat aan Ciskei se Xhosa-stamhoofde gewy is. Dis ook die tuiste van die Universiteit van Fort Hare in Alice (eDikeni).

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Topografiese kaart van die Ciskei

In die Britse tyd was die gebied die strydtoneel van die Xhosa-oorloë en talle forte soos Fort Fordyce, Fort Hare, Fort Beaufort, Fort Peddie en so meer word daar gebou. Om die gebied onder Britse gesag te bring word daar Mfengu en Duitse koloniste gevestig.

Ciskei het op 1 Augustus 1981 onafhanklik geword, met Bhisho as hoofstad, alhoewel die nuwe staat nie deur ander lande behalwe Suid-Afrika erken is nie. Die grootste stad is Mdantsane met meer as 156 000 inwoners. Die onafhanklikheid het die laaste blankes uit die gebied verdryf, veral na Fort Beaufort. Blanke wetenskaplikes wat aan die Universiteit van Fort Hare werk moes twee keer per dag die grens oorsteek.

Die Ciskei word onafhanklik onder Lennox Sebe. Aanvanklik het sy jonger broer Charles verantwoordelikheid aanvaar vir die Ciskei Intelligence Sevice. In 1984 word hy uit die pos verwyder omrede Lennox hom nie meer vertrou nie. Daar ontstaan onenigheid met Transkei se leier Matanzima wat probeer om 'n staatsgreep op Sebe te organiseer. Transkeise agente bevry Charles Sebe uit die tronk en ontvoer Lennox se enigste seun, maar die Transkeiers word in 'n militêre slag by die presidensiële paleis verslaan en die Sebe-regering behou sy mag.[1]

In 1985 probeer Sebe sy land tot ekonomiese sukses lei deur dit 'n ekonomiese vryhawe vir buitelandse beleggers te maak. Dit was op Hongkong se model gebaseer. Hy kry genoeg beleggings uit Israel en Taiwan dat daar inderdaad van 'n ekonomiese oplewing gepraat kan word. Sebe geniet daardeur 'n mate van aansien in die Ciskei, wie die ANC as 'n bedreiging met hul anti-bantustan-politiek sien. Op 2 Maart 1990 egter, net 'n maand ná die vrylating van Mandela, is Sebe op besoek in die Verre Ooste. Brigadier Oupa Gqozo maak van sy afwesigheid gebruik om die mag oor te neem.[2]

Die UDF/ANC-alliansie verwelkom aanvanklik hierdie oorname in die veronderstelling dat hulle 'struggle' en proteste nou resultate sal lewer. Aanvanklik doen Oupa Gqozo hom voor as 'n demokraat en hy soek toenadering tot die ANC. Dit duur egter nie lank voor hy sy onderdrukkende kant toon en die ANC hom daarvan verdink dat hy 'n handlanger van Pretoria se regering is nie. Gqozo klou tot die bitter einde aan die mag en dit lei in 1992 tot die Bisho-slagting waar sy veiligheidsmagte op 'n pro-ANC-betoging vuur en 29 mense doodskiet. Uiteindelik word hy in 1994 gedwing om Ciskei weer by Suid-Afrika in te lyf.[1]

Na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 is die tuisland weer by die Republiek van Suid-Afrika ingelyf, en wel op 12 Augustus 1994. Sedertdien maak dit in sy geheel deel uit van die provinsie Oos-Kaap.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 The Implications of Freedom: The Changing Role of Land Sector NGOs in a Transforming South Africa, Uitgawe 6 van Politics and economics in Africa Wiebe Nauta, 2004 ISBN 3-8258-7798-1, ISBN 978-3-8258-7798-9
  2. Third World, Issues 24-26, Third World Editors (Association), Tricontinental Editôra, 1990

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • Wikimedia Commons logo Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Ciskei.
  • (en) "Ciskei". Encyclopædia Britannica. Besoek op 24 Junie 2019.