Afrikanernasionalisme
Die begrip Afrikanernasionalisme verwys na die gestalte wat volksnasionalisme aangeneem het onder die Afrikanervolk, soos vertolk deur sy politieke leiers in Suid-Afrika. Die begrip vat egter baie fasette van die Afrikaners se lewens- en wêreldbeskouing saam. Dit verwys onder andere ook na die kulturele groepsgebondenheid van die Afrikaners, sowel as na 'n bepaalde politieke opvatting. Om Afrikanernasionalisme reg te verstaan is dit nodig om die hele verloop van die Afrikanervolk se geskiedenis in oënskou te neem. In hierdie artikel word slegs enkele perspektiewe op die begrip Afrikanernasionalisme omskryf.
Opsommend gesien
[wysig | wysig bron]Die woord Afrikanernasionalisme word vandag hoofsaaklik gebruik om te verwys na die onderliggende politieke filosofie van Afrikaners in die twintigste eeu, en meer spesifiek na die uitlewing daarvan binne die Nasionale Party (NP) wat in 1914 tot stand gekom het en die daaropvolgende ontplooiing van die Afrikaners se politieke stryd teen Britse onderdrukking en oorheersing.
Afrikanernasionalisme was die drywende politieke mag wat die NP van generaal J.B.M. Hertzog in 1924 aan bewind gebring het.[1] Na die skeuring in die NP, tydens "koalisie" in 1933, is die gesuiwerde Nasionale Party gestig onder leiding van jonger leiers soos dr D.F. Malan in Kaapland, en adv. J.G. Strijdom in Transvaal. Weer eens groei Afrikanernasionalisme sterk in die politiek, en word die oorwinning by die stembus in 1948 behaal. Die Herenigde Nasionale Party (HNP) kom aan bewind onder leiding van dr DF Malan.
Deurentyd was die ideaal van 'n eie vrye republiek (die herstel van republikeinse vryheid wat tydens die Verdrag van Vereeniging in 1902 afgeteken is) een van die sterkste dryfvere in die Afrikaans-nasionale beweging. Dit verskaf die energie vir die stryd om Suid-Afrika 'n republiek te maak, los van Brittanje. Die ideaal word op 31 Mei 1961 verwesenlik.
In die algemeen word die begrip Afrikanernasionalisme verbind aan hierdie politieke geskiedenis, aan die oprig van die Republiek en die toepassing van die beleid van afsonderlike ontwikkeling onder die leiers van die NP na 1948. Die begrip strek egter wyer, en moet dus nie alleen gekoppel word aan die bestaan en lotgevalle van 'n politieke party nie.