Ásatrú
Ásatrú [auːsatruː] (die Yslandse en Nynorsk-woord vir die Nordiese term Æsir "vertroue, geloof"; Noors Åsatru, Sweeds Asatro, Deens Asetro) is 'n politeïstiese en rekonstruksionistiese religieuse beweging wat daarop gemik is om die Voor-Christelike Nordiese religie van die Wiking-tydperk, soos beskryf in die Eddas, te laat herleef.
Ásatrú is in die 1960's en vroeë 1970's deur die Yslandse organisasie Íslenska Ásatrúarfélagið en sy stigter Sveinbjörn Beinteinsson in die lewe geroep en word deur die regerings van Ysland (sedert 1973), Noorweë (sedert 1994), Denemarke (sedert 2003), Swede (sedert 2007) en Spanje (sedert 2007 as 'n minderheidsgeloof) amptelik erken. Die Verenigde State, wat geen religieuse organisasies amptelik erken nie, het nogtans reeds in die 1970's die nie-winsgewende status van talle plaaslike Ásatrú-groepe erken.[1]
Etimologie
[wysig | wysig bron]Ásatrú is 'n Oud-Nordies-Yslandse neologisme wat uit ása, die genitief van die Oud-Nordiese áss of "godheid" en trú "geloof, trou" gevorm is. Ásatrú beteken dus letterlik die "geloof aan die Oud-Germanse godhede, die Ase en Wane. Ásatrú is 'n leenvertaling van die Deense term asetro wat in 1870 deur die Noorse komponis Edvard Grieg in sy onvoltooide opera Olaf Tryggvason gebruik is om na die ou heidense geloof van die Skandinawiërs te verwys. Die Yslandse spelling is vir die eerste keer in 1945 deur Ólafur Briem in sy werk Heiðinn siður á Íslandi ("Heidense sedes op Ysland") gebruik. Die term kom egter – as twee woorde geskryf – al in die Yslandse saga Snorra-Edda voor.
Forn Siðr
[wysig | wysig bron]'n Ander term vir die heidense geloof, wat dikwels as 'n sinoniem vir Ásatrú gebruik word, is Forn Siðr, 'n Oud-Nordies-Yslandse uitdrukking wat "Ou Sede" of letterlik "Firne-Sede" beteken. Die term is 'n samestelling uit die Oud-Nordiese forn ("oud", "lank gelede"; vergelyk die Duitse woord Firn(schnee) wat "sneeu wat al jare lank lê" of "ewige sneeu" beteken) en siðr ("sede").
Aanhangers van die "Ou Sedes" bewaar dus die sedes en tradisies wat hulle oorsprong in die afgelope eon, die eon van die heidense godhede, het. Die geloof in en trou teenoor die Germaanse gode word as 'n deel van die Ou Sedes beskou. Hierdie Ou Sedes sluit byvoorbeeld die aansteek van die vuurrad tydens Kersfees, Perchten-optogte in die Alpegebied, die aansteek van Paasvure en die viering van die Midsomerfees.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Ásatrú het gedurende 'n herlewing van Germaanse paganisme in die 1960's en vroeë 1970's ontstaan. Die Íslenska Ásatrúarfélagið (Yslandse Ásatrú-vereniging) is op Somer-Sonstilstand 1972 gestig en veral danksy die inisiatief van Sveinbjörn Beinteinsson reeds in 1973 deur die Yslandse regering amptelik as godsdiens erken.
In die Verenigde State het Stephen McNallen, 'n voormalige Airborne Ranger in die Amerikaanse leër, op dieselfde tydstip begin om 'n nuusbrief met die titel The Runestone uit te gee. McNallen is ook die stigter van 'n godsdienstige organisasie, die Ásatrú Free Assembly, wat later tot Ásatrú Folk Assembly hernoem is. 'n Ander organisasie, Else Christensen se Odinisme, het in dieselfde periode ontstaan. 'n Ander groep, die Ásatrú Alliance, het van McNallen se organisasie afgestig. Sy voorsitter, Valgard Murray, gee sy eie nuusbrief, Vor Tru, uit.
Die beweging het ook na ander Europese lande versprei, en ander Skandinawiese regerings het die Yslandse voorbeeld gevolg en Neopagaanse Germaanse bewegings in die 1990's amptelik as religieuse bewegings erken. Bekende organisasies sluit Sveriges asatrosamfund (Swede, 1994), Åsatrufellesskapet Bifrost en Foreningen Forn Sed (Noorweë, 1996 en 1999) en Forn Siðr (Denemarke, gestig in 1997, amptelik erken in 2003) in.[2] 'n Spaanse vereniging, Comunidad Odinista de España-Asatru, is in Junie 2007 deur die plaaslike regering amptelik erken.
Soortgelyke groeperings en aanhangers van Nieu-Heidense Germaanse godsdienste word ook in Oostenryk, Switserland, die Verenigde Koninkryk, Nederland, België, Frankryk, Italië, Portugal, Rusland, Australië, Nieu-Seeland, Mexiko, Argentinië, Brasilië en Chili aangetref.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Linzie, Bil: Well of Mímir (2000). Aanlyn beskikbaar: Drinking at the Well of Mímir Geargiveer 16 Junie 2007 op Wayback Machine
- ↑ "Forklaring til Forn Siðr´s ansøgning om godkendelse som trossamfund". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2015. Besoek op 30 Januarie 2008.