Ararat
Ararat | |
---|---|
Ligging | Provinsie Ağrı, Turkye; histories: Wes-Armenië |
Hoogte | 5 137 meter bo seevlak |
Reeks | Alleenstaande berg in die Ararathoogland |
Koördinate | 39°42′7″N 44°17′50″O / 39.70194°N 44.29722°O |
Bergtipe | Stratovulkaan |
Laaste uitbarsting | Julie 1840 (aardbewing) |
Eerste bestyging | 1829 |
Eerste bestyger(s) | Dr. J.J. Friedrich Parrot jun. |
Die berg Ararat (Turks: Ağrı Dağı, Armeens: Մասիս / Masis of Արարատ / Ararat, Grieks: Αραράτ, Hebreeus: אררט, Koerdies: Agirî, Persies: آرارات) is 'n alleenstaande berg in die uiterste noord-ooste van Turkye wat deur hoë vlaktes omring word. Die berg, wat nie ver van die grense met Armenië, Azerbeidjan en Iran geleë is nie, het twee vulkaniese pieke: Die sneeubedekte Groot Ararat (5 137 m) en Klein Ararat (3 914 m). Ararat is die hoogste bergpiek in Turkye en in die hele Armeense Hoogland. Die twee pieke maak sedert 2004 deel uit van 'n nasionale park.
Ararat is 'n slapende vulkaan, en alhoewel daar geen uitbarstings in historiese tye aangeteken is nie, neem navorsers aan dat die piek wél in die laaste 10 000 jaar uitgebars het. Aangesien die vulkaan veraf van enige tektoniese plaatgrens geleë is, is daar tans nog geen wetenskaplike verklarings vir Ararat se vulkaniese aktiwiteit nie.
Godsdienstige en mitologiese betekenis
Joods-Christelike tradisie
In die Joods-Christelike tradisie word die berg Ararat met die "Berge van Ararat" verbind, en dit is hier waar volgens mitologiese oorlewerings Noag se ark ná die groot sondvloed tot stilstand gekom het (Genesis 08, 04). Die Latynse Vulgata-Bybelvertaling verwys spesifiek na die montes Armeniae, dus die "Berge van Armenië", terwyl die teks in die Nova Vulgata gewysig is na die montes Ararat, of die "Berge van Ararat".
Daar is nogtans geen wetenskaplike bewyse wat hierdie oorlewerings staaf nie. Die Koran verskil van die Joods-Christelike oorlewerings en verwys na die Cudi Dağı, 'n berg in die Suidoos-Turkse provinsie Şırnak, as Noag se landingplek.
Ararat in die Armeense mitologie en heraldiek
In die Armeense mitologie word die berg Ararat as die woonplek van die gode beskou, vergelykbaar aan die Griekse berg Olimpus. Die berg word deur Armeniërs steeds as 'n simbool van hul nasionale identiteit vereer. Al is dit weens die Turkse grensblokkade nie regstreeks toeganklik vir Armeense burgers nie, is die berg nogtans ook vanaf 'n groter afstand in Armenië sigbaar en oorheers dit die hoofstad Jerewan se silhoeët.
As nasionale simbool van die Republiek van Armenië word die berg Ararat in die middel van die staatswapen uitgebeeld. Hierdie wapen, waarvan die vroegste weergawe in 1937 aangeneem is, het sy oorsprong in die wapen van die Armeense Sosialistiese Sowjetrepubliek waarop die berg naas die Sowjet-Russiese hamer-en-sekel-embleem en met 'n rooi ster in die agtergrond verskyn het. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie is 'n aangepaste weergawe van die Demokratiese Republiek van Armenië se wapen aangeneem wat steeds in gebruik is.
Ondanks die feit dat 'n groot persentasie Armeniërs tot 1915 in die ses Wes-Armeense provinsies van die Ottomaanse Ryk saamgetrek was, het Turkye protes teen die Armeense SSR se wapenontwerp aangeteken en daarna verwys dat die berg Ararat op Turkse staatsgebied geleë is en sodoende nie deur Armenië of die Sowjetunie in beslag geneem kon word nie. Die Sowjet-Russiese minister van buitelandse sake, Andrei Gromiko, het in reaksie hierop aangemerk dat Turkye 'n staatsvlag met die maansekel daarop voer, alhoewel nog die maan nog 'n deel daarvan deel uitmaak van Turkye.[1]
Die berg is op 'n verskeidenheid Armeense dram-banknote uitgebeeld wat tussen 1993 en 2001 uitgereik is, asook op die agterkant van 'n reeks Turkse 100 lira-banknote wat tussen 1972 en 1986 uitgegee is. Die berg Ararat staan ook sentraal in die Armeens-Kanadese rolprentmaker Atom Egoyan se simbolistiese film Ararat wat in 2002 ontstaan het.