’n Reeksmoordenaar maai bekendes op ’n streep af. En Kassie en Rooi moet hom vastrek. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Die moordtonele is smetloos, met slegs bisarre boodskappe by die lyke. Die slagoffers se hoë profiele veroorsaak ook ’n ongekende mediaherrie, wat bykomende druk op die ondersoekspan plaas. Die Spesiale Spookeenheid se elite-speurspan tas behoorlik in die donker rond. Het hulle dié keer hulle meerdere teëgekom?
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.
Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.
In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg), en word opgevoer by al die groot Afrikaanse kunstefeeste. Die Begrafnis verskyn ook in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.
Sy debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.
Hy skilder ook die afgelope 26 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.
Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.
Ek sukkel altyd so bietjie om in 'n Kassie in te kom, dis asof die reeks se boeke my nooit onmiddellik gryp nie. Ek wens ook dat ons bietjie groei in die hoofdkarakters kan sien. Maar dit bly altyd lekker om Afrikaans te lees en ek het die storielyn geniet toe dit eers aan die gang kom.
Die Grimm-broers se “Hansie en Grietjie” is ʼn handige verduideliking wanneer iemand vra wat die onderskeid tussen ʼn speurverhaal en ʼn riller is. ‘n Speurverhaal fokus op die broodkrummels as leidraad, en ‘n riller fokus op die vrees van die karakter wat weet hy gaan opgevreet word. ‘n Hercule Poirot-ontknoping is dikwels onbevredigend, want sommige krummels word doelbewus van die leser weerhou, net om triomfantlik aan die einde uitgestal te word. Die meesterlike speurverhaal deel net genoeg van die krummelspoor om die spanning op te bou, en te handhaaf.
Kassie en Rooi, as ondersoekers, is geen onbekendes vir die skrywer se gereelde lesers nie. Kassie worstel nog met sy aanpassing by die getroude lewe en het spesiaal verlof ingesit om ‘n seëluitstalling by te woon, toe die slegte nuus tref: ‘n Reeksmoordenaar maai onder bekendes. En dis ‘n koelbloedige knaap wat klinies en kalm in die proloog aan die leser vertel hoe hy sy slagoffers verwurg. Asof arme Rooi se kleuter wat hom deurnag wakker hou met sy nommer twee-doeke nie erg genoeg is nie, word hy boonop as hoofondersoekbeampte by ‘n ander moordsaak wat hom by die onderwêreld van onwettige mynaktiwiteite betrek, aangestel.
Die krummelspoor is ‘n leesfees. Die leser, anders as Kassie en Rooi, is bewus van ‘n agtergrondverhaal oor twee jong nefies wat in 1990 afskop. Dis duidelik dat een van hulle waarskynlik die latere reeksmoordenaar is, maar watter een dit is, en hoekom dit gebeur, word doelbewus baie subtiel ontbloot. ‘n Ewe vernuftige tegniek word aangewend om die twee moordondersoeke te vervleg deur laag vir laag verbindingslyne tussen newekarakters te onthul.
Die psige van ‘n reeksmoordenaar word ondersoek deur verwysings na werklike gevalle in die kriminele geskiedenis, soos Ted Bundy, Jeffrey Dahmer, BTK, en Son of Sam, en die kultusaanhang wat in sommige gevalle geniet word. Die rol wat die media daarin kan speel, kom pertinent onder die soeklig.
‘n Realistiese tussenspel is die moordenaar se aanwending van beurtkragskedules tot sy eie voordeel, dis ‘n eg Suid-Afrikaanse uitdaging wat ongetwyfeld met lesers sal resoneer. En daar is ‘n bonus vir almal wat nog altyd gewonder het hoe Kassie nou eintlik lyk, naamlik dat hy nogal na Frank Opperman trek. (138)
Die enigste punt van kritiek is dat daar meer detail aangaande die uiteindelike sneller tot die reeksmoorde verskaf kon gewees het. Die motiewe is duidelik, maar waarom dit op ‘n bepaalde stadium tot aksie oorgegaan het, bly ontwykend. “Gebooie” is nietemin ‘n wenperd in die speurromanstal waarop geld met ‘n geruste hart geplaas kan word.
Skink vir jou ‘n yskoue Creme Soda, trek gemaklik aan (‘n rooi windjekker, as jy het), skakel boeremusiek aan, hersien Eksodus 20, en begin lees. ⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek
'n Reeksmoordenaar maai bekendes op 'n streep af. En Kassie en Rooi moet hom vastrek. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Die moordtonele is smetloos, met slegs bisarre boodskappe by die lyke. Die slagoffers se hoë profiele veroorsaak ook 'n ongekende mediaherrie, wat bykomende druk op die ondersoekspan plaas. Die Spesiale Spookeenheid se elite-speurspan tas behoorlik in die donker rond. Het hulle dié keer hulle meerdere teëgekom?
Hierdie was my eerste ontmoeting met Kassie en Rooi, maar gaan beslis nie my laaste wees nie.
Die blik in die psige van die reeksmoordenaar was ongelooflik interessant. Hoekom doen hy wat hy doen? Wat wil hy daarmee bereik?
Rudie van Rensburg het 'n manier om die leser so te boei dat jy aan niks anders kan dink voor jy nie die boek klaar gelees het nie.
Aan my mede lesers: Sê asseblief ek was nie die enigste een wat nie dadelik die geheime kode taal kon ontsyfer nie? 🤣 Ek dink ek het meer nota's as Kassie en Rooi saam gemaak om self die moorde te probeer oplos.
Ek sal hierdie boek beslis vir enige krimi-liefhebber voorstel!
Ek het nog altyd die Kassie boeke geniet maar voel al hoe meer gefurstreerd soos die reeks aanstap.
Keer op keer word n storie punt herhaal as of die leser nie gaan snap wat aangaan nie. Dis soos iemand wat n grappie verduidelik nadat die gehoor klaar gelag het daaroor.
Daar is geen verraasssings wat wag nie, dis baie duidelik wie skuldig is aan wat, vroeg in die storie.
Een goeie ding van hierdie reeks is dat jy kry presies wat jy verwag so as jy van die vorige boeke gehou het sal jy definitief hierdie ook geniet.
Dit was my eerste kennismaking met Rudie van Rensburg se werk. Ek was aanvanklik bekommerd dat ek nie die hoofkarakters, Kassie en Rooi, en hulle agtergrond goed genoeg sou ken nie, aangesien hulle al in verskeie boeke verskyn het. Tot my groot verligting het ek egter onmiddellik in die storie ingeval en geen probleme gehad om op te vang nie. Hierdie boek kan dus gerus as ‘n losstaande storie gelees word, sonder om die vorige boeke te ken.
Die spanningsvlakke in die boek is uitstekend gebalanseerd. Ek het sekere storielyne reg voorspel, maar dit het glad nie die spanning verminder nie. Inteendeel, die afwagting om te sien hoe die storie sou ontvou, het my aan die boek laat vasklou. Rudie van Rensburg het daarin geslaag om 'n meesterlike speurverhaal te skryf wat slim gestruktureer is en boeiend bly van begin tot einde.
Die reeksmoordenaar in die verhaal is slinks en koelbloedig, wat die storie 'n donker en onheilspellende atmosfeer gee. Van Rensburg gebruik vernuftige tegnieke om die leser aan die raai te hou oor die moordenaar se volgende stap. Die rol van die media word ook duidelik uitgelig in die storie, wat bydra tot die realisme en relevansie van die verhaal.
Een van die besonderse elemente van die boek is hoe die beurtkrag skedules 'n invloed op die storie het. Dit voeg 'n ekstra laag van realisme en herkenbaarheid by, veral vir Suid-Afrikaanse lesers wat met beurtkrag worstel. Hierdie tipe detail maak die storie lewendig en tasbaar.
Ek moet ook die skrywer se skryfstyl komplimenteer. Van Rensburg se taalgebruik en narratief is vernuftig en hou die leser se aandag vas. Die manier waarop hy die karakters en hul verhoudings uitbeeld, maak hulle geloofwaardig en maklik om mee te identifiseer.
Gebooie 'n uitstekende speurverhaal wat ek met vrymoedigheid aan enigeen sou aanbeveel. Ek sal beslis graag meer van hierdie reeks wil lees. Rudie van Rensburg se skryfstyl het my geboei en ek sien uit na die volgende avontuur met Kassie en Rooi.
AD PR-Product – dankie aan Exclusive Books, Tandem Collective Global vir hierdie saamlees geleentheid.