Gaan na inhoud

Zuid-Afrikaansche Republiek

Koördinate: 25°43′S 28°14′E / 25.717°S 28.233°O / -25.717; 28.233
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Transvaalse Republiek)
Zuid-Afrikaansche Republiek




1857 — 1877
1881 — 1902


Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Leuse: Eendragt maakt magt
Volkslied: Volkslied van Transvaal
Ligging of Zuid-Afrikaansche Republiek
Ligging of Zuid-Afrikaansche Republiek
Die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1890
Hoofstad Pretoria
25°43′S 28°14′E / 25.717°S 28.233°O / -25.717; 28.233
Taal/Tale Nederlands
Godsdiens Nederduits Hervormde Kerk (Staatskerk), Gereformeerde Kerk, Nederduits Gereformeerde Kerk
Regering Republiek
President
 - 1857–1860 Marthinus Wessel Pretorius
 - 1860 (waarnemend) Johannes Hermanus Grobler
 - 1860-1862 Stephanus Schoeman
 - 1863–1864 Willem Cornelis Janse van Rensburg
 - 1864–1871 Marthinus Wessel Pretorius
 - 1871–1877 Thomas Francois Burgers
 - 1883–1902 Paul Kruger
 - 1900–1902 (waarnemend) Schalk Willem Burger
Goewerneur
 - 1879 - 1880 Sir Garnet Joseph Wolseley
Administrateur
 - 1877 - 1879 Sir Theophilus Shepstone
 - 1879 - 1881 William Owen Lanyon
Wetgewer Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek
Geskiedenis
 - Sandrivierkonvensie 17 Januarie 1852
 - Gevestig 27 Junie 1857
 - Britse anneksasie van die Transvaal 12 April 1877
 - Eerste Vryheidsoorlog 16 Desember 188023 Maart 1881
 - Konvensie van Pretoria
 - Tweede Vryheidsoorlog 11 Oktober, 189931 Mei 1902
 - Verdrag van Vereeniging 31 Mei 1902
 - Transvaal Kolonie opgeneem in Unie van Suid-Afrika 31 Mei 1910
Oppervlakte
 - 1870[1] 191 789 km2
74 050 sq mi
Bevolking
 - 1870[1] skatting 120 000 
     Digtheid 0,6 /km² 
1,6 /sq mi
Geldeenheid Pond

Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ook Transvaal genoem) was 'n onafhanklike republiek wat deur die Voortrekkers noord van die Vaalrivier gestig is. Dit het vir net minder as 50 jaar bestaan en het in 1902 tot 'n einde gekom nadat Brittanje die republiek in die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Anglo-Boereoorlog) verslaan het. Goud is in 1886 op die Witwatersrand ontdek, wat gelei het tot die stigting van Johannesburg, ná dit vroeër reeds in ander areas soos Pelgrimsrus ontdek is.

In 1888 is Nederlands erken as die enigste amptelike taal van die land. Wet 10 van 1888 het die volgende bepaal: "De Hollandsche taal is de officieele taal des lands. Alle andere talen zijn vreemde talen". Die wet het verder ook bepaal dat alle amptelike dokumente, kennisgewings, diensbriewe "en andere schrifturen van ambtenaren" in Nederlands geskryf en opgestel sou moes wees. Verder is bepaal dat Nederlands in alle howe gebruik sou moes word. Ook moes alle markmeesters veilings in Nederlands hou, alhoewel hulle die reg sou hê om dit wat gesê is, daarna ook in 'n ander taal te herhaal.[2] Die Nederlandstalige "Volkslied van Transvaal" was vanaf 1875 tot en met 1902 amptelik in gebruik.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Stigting

[wysig | wysig bron]
Kaart van die Boererepublieke

Die Voortrekkers het die gebied oorkant die Vaalrivier en suid van die Limpoporivier in die 19de eeu Transvaal genoem. Hier het ook Voortrekkers gevestig wat teen die begin van die veertigerjare van die 19de eeu uit Natal verdryf is, wie klein onafhanklike republieke gestig het soos byvoorbeeld in Potchefstroom wat saam met Winburg die kortstondige Republiek Winburg-Potchefstroom gevorm het.

Met die ondertekening van 'n ooreenkoms tydens die Sandrivierkonvensie het die Britse koloniale owerhede in 1852 die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek, waarin 'n aantal kleiner Boererepublieke in die Transvaal-gebied verenig is, en twee jaar later ook die Oranje-Vrystaat erken. Potchefstroom is as die eerste administratiewe hoofstad van die ZAR gekies. In 1855 is 'n nuwe regeringsetel langs die Apiesrivier gestig en ter ere van die Voortrekkerleier Andries Pretorius Pretoria genoem.

In die tydperk tussen 1854 en 1872 is 'n aantal pogings onderneem om die ZAR en die Oranje-Vrystaat te verenig. Dit was egter weens politieke geskille nie suksesvol nie.

Die Transvalers het nie slegs 'n onafhanklike republiek gehad nie, maar het ook die Nederduitsch Hervormde Kerk (NH Kerk) gestig, wat onafhanklik was van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in die Kaapkolonie. Die Transvalers het vir jare lank probeer om predikante uit Holland te verkry, maar die pogings was tevergeefs. As gevolg hiervan het die NH Kerk uiteindelik besluit om weer aan te sluit by die Kaapse sinode van die NG Kerk. Die Kaapse sinode het hierdie versoek goedgekeur, maar net voordat die Transvalers ingestem het met die voorwaardes, het hulle berig gekry dat 'n proponent, ds. Dirk van der Hoff, op pad was na die Transvaal. Ds. Van der Hoff is gelegitimeer deur dr. Abraham Faure, namens die Kaapse kerk, en in Potchefstroom bevestig tot die amp deur 'n ouderling in die NH Kerk.

Die Nederduits Hervormde Kerk was die staatskerk van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Slegs lede van die NH Kerk mog dien in die volksraad, en die kerk het geldelike steun uit die staatskas verkry. Slegs ander kerke waarvan die leer ooreenkom met dié van die Heidelbergse Kategismus is toegelaat.

Die yl bevolkte Zuid-Afrikaansche Republiek en Oranje-Vrystaat was patriargale, plattelandse gebiede, wat afgesny was van die politieke en maatskaplike ontwikkelinge in Europa en slegs oor 'n rudimentêre infrastruktuur beskik het. In 1877 het die Britte die ZAR geannekseer omdat die republiek nie in staat sou wees om homself te regeer of die opstandige Swart stamme in bedwang te hou nie.

Britse Anneksasie en die Eerste Vryheidsoorlog

[wysig | wysig bron]

Op 16 Desember 1880 het die Eerste Vryheidsoorlog begin waarin die ZAR na slegs twee maande by die Slag van Majuba 'n oorwinning oor die Britte behaal het. Die republiek het aanvanklik weer selfregering gekry en later, in 1884, ook sy onafhanklikheid herwin. Vanaf 1880 is die Republiek deur die Driemanskap bestuur tot en met Paul Kruger se verkiesing as President van die ZAR in 1883.

Opbou van die republiek en aanloop tot die Tweede Vryheidsoorlog

[wysig | wysig bron]
President Paul Kruger

Met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886, het 'n groot aantal buitelanders as prospekteerders ("diggers") en fortuinsoekers na die gebied gestroom, en in dieselfde jaar is sowat vyftig kilometer suid van Pretoria die myndorp Johannesburg gestig. In die volgende dekade het die politieke spanning opgebou tussen die "uitlanders" in Johannesburg en die regering van die ZAR, wat nie bereid was om stemreg in die Republiek aan die oorwegend Engelssprekende bewoners van Johannesburg te verleen nie. Sowat een derde van die 200 000 Blanke inwoners in die ZAR was destyds buitelanders. Cecil Rhodes, die Eerste Minister van die Kaapkolonie, en President Paul Kruger was die groot politieke teenstaanders van hierdie tydperk.

Tweede Vryheidsoorlog

[wysig | wysig bron]
President Kruger tydens sy inhuldiging vir die vierde ampstermyn as president van die ZAR in 1898 in Pretoria

'n Grensvoorval, wat opsetlik deur Rhodes en sy medepligtiges veroorsaak is, het in 1899 aanleiding tot die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog gegee waarin 35 000 Afrikaners teen 'n oormag van 450 000 Britse soldate geveg het. Ondanks die hewige verset van die Afrikaners en die suksesvolle guerilla-taktiek van die Afrikaanse generale Christiaan de Wet en Koos de la Rey, wat destyds wêreldwyd vir opwinding gesorg het, het die Britte onder meer danksy hulle beleid van "verskroeide aarde" en die gebruik van konsentrasiekampe, waarin 26 000 vroue en kinders en 'n onbekende aantal Swart plaaswerkers omgekom het, daarin geslaag om die oorlog te wen. Met die Verdrag van Vereeniging, wat in 1902 gesluit is, is die Boererepublieke uiteindelik deur die Britse kroon geannekseer.

In 1910 word Transvaal een van die vier provinsies van die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika. Die politieke prys, wat die Engelstalige element van die Blanke bevolking destyds heel bereidwillig betaal het vir die politieke versoening met die Afrikaners, was die rassebeleid van Apartheid, wat uit die patriargale maatskaplike strukture van die Boererepublieke voortgespruit en daarna dekades lank die binnelandse beleid van Suid-Afrika oorheers het.

Regering

[wysig | wysig bron]
Sien: Lys van Staatspresidente van die Zuid-Afrikaansche Republiek

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Ivooruitvoere

[wysig | wysig bron]

Voor die ontginning van diamante en goud was ivoor by verre die belangrikste uitvoerproduk van die ZAR. In die tweede helfte van die 19de eeu is jaarliks duisende olifante in Afrika geskiet om in die Europese en Amerikaanse mark se vraag na ivoor te voorsien. Ivoor is voor die bekendstelling van plastiek algemeen gebruik om voorwerpe soos meshewwe, biljardballe en klaviertoetse te vervaardig.

Jaarlikse invoere het in Groot-Brittanje in die 1860's reeds 550 ton beloop. Totale ivoorinvoere uit Afrika het hul hoogtepunt tussen 1870 en 1890 bereik toe jaarliks tussen 60 000 en 70 000 olifante geskiet is. Invoere het eers daarna gaandeweg afgeneem, maar tot die Eerste Wêreldoorlog is jaarliks meer olifante geskiet as wat gebore is.[3]

Handelsbande

[wysig | wysig bron]

'n Afvaardiging uit die ZAR het 'n besoek aan Europa gebring in die 1880's om handelsbande aan te knoop. So is byvoorbeeld die Federale Raad van Switserland aangemoedig om 'n handelsooreenkoms met die ZAR te sluit wat in 1885 in Pretoria onderteken en in 1887 deur die Verenigde Koninkryk bekragtig is.[4]

Die belangrikste handelsvennoot naas die Verenigde Koninkryk en een van die vernaamste buitelandse beleggers was die Duitse Keiserryk. Omstreeks 1895 het die Duitse gemeenskap in die ZAR reeds meer as 5 000 siele getel, en Duitse ondernemings se beleggings in die ZAR se mynboubedryf het meer as 300 miljoen mark beloop.[5]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) Alexander Mackay (1870). Manual of modern geography, mathematical, physical, and political. p. 484.
  2. J.C. Steyn: Taalideologie en Taalbeleid in die Suid-Afrikaanse Geskiedenis - Oorwegings en Ampstaaldebat?, Acta Academia, Supplement 1,1-107, 1993, bl.31.
  3. (de) Jürgen Osterhammel: Die Verwandlung der Welt. Eine Geschichte des 19. Jahrhunderts. Spesiale uitgawe 2011. München: C.H. Beck 2011, bl. 555
  4. (de) Historisches Lexikon der Schweiz: Südafrika
  5. Denis Judd: Empire. The British Imperial Experience from 1765 to the Present. London & New York: I.B. Tauris 2012, bl. 158

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (en) Davenport, T.R.H. South Africa. A modern history, 1978
  • (en) Pakenham, Th. The Boer War, 1979
  • (en) Pakenham, Th. The scramble for Africa 1876-1912, London, Abacus 1991
  • (nl) Wesseling, H.L. Verdeel en heers. De deling van Africa 1880-1914, Amsterdam, Bert Bakker 1991
  • (en) Wilson, M. en L. eds. The Oxford history of South-Africa II: 1870-1966, Oxford, Clarendon 1971

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Hierdie artikel maak gebruik van feite en teks uit die Encyclopædia Britannica van 1911. Die bron is in die publieke domein.