Gaan na inhoud

NG gemeente Fordsburg

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Mej. Maria Kloppers, sendingwerkster op Fordsburg en later stigter van die kinderhawe in Observatory, Johannesburg.

Die NG gemeente Fordsburg was van 6 November 1896 tot 1988 ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die westelike kant van die Johannesburgse middestad in die gelyknamige voorstad.

Aanvoorwerk

[wysig | wysig bron]

Die Kaaplandse Vrouesendingbond (VSB) is in 1889 op Wellington gestig om vroue uit te stuur na verskeie velde om sending- en opheffingswerk te doen. In 1893 kon die VSB sy eerste werksters, onder wie mej. Maria Kloppers, na Johannesburg en na Fordsburg stuur. Die werk aan die Rand was besonder moeilik, veral in die “Brickyards” waar baie Afrikaanssprekendes in die allertreurigste omstandighede gewoon het. Hier het hulle bakstene gemaak wat gebruik is om die toenemende aantal geboue in die ontluikende Johannesburg op te rig. Die werksters moes dikwels eers die huise skoonmaak voordat hulle enige ernstige gesprek met die inwoners kon aanknoop.

Mej. Ferguson besoek die werksters in 1895 (toe daar reeds vyf was) in Johannesburg en Fordsburg. Sy het diep onder die indruk gekom van die selfopofferende en veeleisende werk wat hulle daar gedoen het, want behalwe huisbesoek, bidure, Sondagskole en Kinderkranse, moes hulle gedurig siekes verpleeg, elke dag die siekes en armes van kos voorsien en ook nog werkgeleentheid vir baie soek.

Later jare sou Kloppers vertel: “Toe ek in Johannesburg kom, was dit die eerste geslag van die Afrikanervolk wat gesink het.” Die agterbuurtes was die geboorteplek van die geweldige vraagstuk waarmee Afrikaners later moes worstel en wat honderdduisende rand gekos het, naamlik die armblankes, later armlastiges genoem en nog later minderbevoorregtes. Fordsburg was die middelpunt van die werkkring, want hier het die meeste van die arbeiders gewoon en hulle huise het gestrek tot by die baksteengroewe (“Brickfields” of “Brickyards”) waar die armste en mees verwaarloosde Afrikaners gewoon het. Hier was die huishuur klein en die lewenswyse goedkoop. Honderde en honderde het al dieper in ellende gesak. Die lone was klein en die lewensmiddele onbetaalbaar duur. Binne die grense van wat later die gemeentes Fordsburg en Vrededorp sou word, is die Armblankevraagstuk gebore. Kloppers was wakker en skerpsinnig en het alles in haar vermoë gedoen om die insinking te keer, maar die nood was te groot en die werkers te min. Die aantal gesinne wat in die diepste ellende verkeer, het steeds aangegroei.

In Fordsburg het blankes, bruines en swartes deurmekaar in armoede geleef. In dié toestand het die sendingwerksters met almal in aanraking gekom. Kloppers sien talle onversorgde kinders raak en bring hulle na die sendinghuis, waaruit later die Maria Kloppers-kinderhawe in Observatory sou ontstaan.

Fordsburg se eerste kerk is erg beskadig in die Braamfonteinse dinamietontploffing, skaars twee maande nadat dit in gebruik geneem is.
'n Foto van Fordsburg se eerste kerkie ná die ontploffing.
Ds. Abraham Kriel.

Fordsburg is in 1896 van Langlaagte afgestig met ds. A.P. Kriel as konsulent. Kort voor die afstigting het hy geld byeen gekry om ’n eenvoudige maar netjiese kerk in dié buurt te laat bou. Dit is Desember 1895 ingewy. Vir Kriel was dit ’n plesier om daar te gaan preek en die opkoms was altyd goed. Hy het gereken dat die kerkbesoek op Fordsburg die beste aan die Rand was.

Op Woensdagmiddag 19 Februarie 1896 het in Braamfontein, nie ver van Fordsburg nie, ’n verskriklike ontploffing gebeur. Later is vasgestel dat treinwaens vol dinamiet, bestem vir die myne, drie dae lank in die son op die stasie gestaan het en dat dit tot die geweldige ontploffing aanleiding gegee het. ’n Gat van by die vier verdiepings diep is in die grond uitgehol. Huise op Vrededorp, Fordsburg en oral omheen is in puin gelê en ander erg beskadig.

Maria Kloppers, indertyd ’n werkster van die Vrouesendingbond in Fordsburg en later stigter van die Kinderhawe in Observatory, Johannesburg, was net besig in die nuwe kerk om haar voor te berei op die biduur om drieuur toe daar ’n geweldige skok was en “die dak sak op my toe. Ek sukkel om uit te kom. ’n Wonder dat iemand lewendig kon uitkom! Die deure en balke onder die vloer uitgedruk. Iemand roep: ‘Mej. Kloppers, leef jy nog? Ag, kom tog hierheen!’ Verwoesting, geklaag, geween, gejammer!”

Lyke het oral rondgelê, in baie gevalle so erg vermink dat hulle heeltemal onherkenbaar was. Van die beseerdes was ook onherkenbaar, maar kon darem hulle naasbestaandes herken. In ’n skoolgebou het ’n ry van hoofde van kinders en grootmense gelê om geëien te word. Onder die puin was onder andere ook ’n menigte lede van die VSB se Sondagskool begrawe. Vier en twintig uur na die ontploffing is klein Francina (2) in ’n holte onder die puin van hul huis gevind, waar sy met ’n emmertjie gespeel het met die geraamte van ’n stoof oor haar. Sy was die eerste van dertien kinders wat na die VSB se sendinghuis gebring is. Hieruit is later die Kinderhawe in Observatory gebore.

Gou was ds. P. Meiring en eerw. Daneel op die plekke waar die verwoesting gesaai is. Die tentoonstellingsterrein is ingerig vir die gehawende mense waar hulle in een groot saal geëet het.

Kriel het tydens die eerste begrafnisdag 127 lyke begrawe. Kiste is op muilwaens aangery. In tien van die kiste was net stukkies van menseliggame. Tientalle het aan hulle beserings beswyk en daar was gedurig ’n begrafnisstoet op pad na die kerkhof. Die dag ná die eerste begrafnis het ds. Kriel in die studeerkamer van ds. J.N. Martins van Johannesburg vooroor gesit en soos ’n kind gesnik.

Eerste kerk herbou

[wysig | wysig bron]
Fordsburg het in 1940 afskeid geneem van dié kerkgebou, hier afgeneem in 1917.

Soos soveel ander geboue was die nuwe kerk op Fordsburg in puin. Net twee maande gelede is dit in gebruik geneem, maar nou het daarvan net die mure oorgebly. Een gewel was tot op die helfte weggeslaan. Die deure en vensters was verbrysel en die dak ingedruk binne die mure in. Die lidmate kon min doen om dit te help herstel, want hulle was self in ellende gedompel en moes hulle toespits op die herstel van hulle eie blyplek. Boonop was die meeste van hulle arm. ’n Tent is by die plek opgeslaan en daar is bidure gehou. Talle het om voorbidding kom vra. Mense was oral besig om na hulle dierbares te soek. Huise is in hospitale verander.

Kriel spring egter dadelik aan die werk, skryf lyste uit en gee dit aan betroubare persone sodat hulle geld kan insamel. Binne 'n kort tyd het die insamelaars £32 000 bymekaar gebring. Gratis reiskaartjies is aan mense voorsien wat na familie elders wou wegkom. Kriel kon staatmaak op die publiek se welwillendheid omdat lidmate hulle eie huis met uiterste moeite moes herstel – en selfs dít kon baie nie eens doen nie. Daarom kon die konsulent met vrymoedigheid by ander aanklop, nie net in Johannesburg nie, maar selfs so ver as Harrismith, waar hy in die kerk van ’n ou vriend gekollekteer het. In een van die dienste lê hy die saak uit. Onder die kollekte begin die orrelis speel, maar Kriel vra dat hy dit nie doen nie, sodat hy die gemeente verder oor die ramp kan inlig. En terwyl die gawes in die bordjies val, skets hy in lewende kleure wat alles op Fordsburg gebeur het.

Die geld is gevind, die kerk herbou en terselfdertyd vergroot. Eers op Sondag 28 April 1940 het die gemeente van dié gebou afskeid geneem en na Mayfair verhuis.

Vrededorp stig af

[wysig | wysig bron]
Ds. Johannes Stephanus Marais, die leraar van 1920 tot 1925, toe hy uit die bediening tree.

Reeds tydens die dienstyd van ds. J.S. Marais, leraar van 1920 tot 1925, het lidmate van Vrededorp en Brixton druk op die kerkraad van die moedergemeente begin uitoefen om hierdie wyke óf af te stig óf ’n hulpprediker aan te stel om hulle beter te bedien. Die kerkraad was geruime tyd sterk daarteen gekant. In 1921 het die skriba van die Ring van Johannesburg aan die kerkraad geskryf en hom versoek om die eerste stappe te doen tot die afstigting van Vrededorp. Die kerkraad het egter vasgeskop en aan die skriba laat weet “dat die kerkraad van Fordsburg weier om een enkel lid van sy gemeente af te staan” (Kerkraadsnotule, Februarie 1922).

Die Ring was egter vasberade dat Fordsburg te groot was vir 'n enkele predikant en het laat weet as die kerkraad nie bereid was om Vrededorp af te staan nie, moes hy minstens onderneem om ’n medewerker vir die plaaslike predikant aan te stel. Die kerkraad het meer geneig in die rigting van ’n hulpprediker, maar hulle was destyds uiters skaars, sodat ene ds. Venter eers aan die begin van 1924 kon begin werk en ook net uiteindelik drie maande lank. Daarna moes die gemeente weer enkele maande lank aansukkel tot ds. D.J.J. Rossouw as hulpprediker, veral met die oog op Vrededorp en Brixton, aangestel kon word. Hy het egter na ses maande vertrek en toe kon die kerkraad weer niks doen met betrekking tot die intensiewer bearbeiding van Vrededorp en Brixton nie. Ná ds. J.S. Marais gedwing is om te bedank, ds. J.C. Pauw bevestig is en die gemeente se sake reggeruk is, het die Ring weer die beter bearbeiding van die twee wyke onder die kerkraad se aandag gebring. Dit was veral in die lig van uitsprake deur die Transvaalse Sinode en Ringe ten gunste van kleiner gemeentes. Hulle het aangevoer ’n gemeente moes nie meer as duisend lidmate tel nie, waarna ’n hulpprediker aangestel of, nog beter, ’n gedeelte moes afgestig word.

In 1926 blyk dit op die sitting van die Ring van Johannesburg op Waterval dat Fordsburg tussen 1 500 en 1 600 lidmate tel en het die Ring die Ringskommissie gelas om weereens die kerkraad van Fordsburg te pols oor die afstigting van ’n deel van die gemeente of so nie die verkryging van ’n hulpprediker. Die Ringskommissie het die kerkraad in Oktober daardie jaar ontmoet en die saak broederlik met hom bespreek. Uiteindelik het Fordsburg se kerkraad ná ’n uitvoerige bespreking op ’n daaropvolgende vergadering ingestem om dié deel van Vrededorp wat aan die gemeente behoort, af te stig, veral vanweë die ervaring met hulppredikers. Die kerkraad het Vrederus se kerkraad toe genader om sy gedeelte van Vrededorp ook af te staan, sodat die hele voorstad as een enkele gemeente sou kon afstig. So stig die Ringskommissie Vrededorp op 26 Augustus 1927 af van Fordsburg én Vrederus, waarvan die naam toe Melville geword het om verwarring te voorkom.

Fordsburg weier afstigting

[wysig | wysig bron]
'n Begrafnis uit die ou kerk, iewers in die 1930's.

Skaars is Vrededorp afgestig of die Ringskommissie skryf weer aan Fordsburg dat die gemeente steeds te groot is vir een predikant en dat hy die kerkraad oor ’n verdere afstigting wil spreek. Die kerkraad het egter gevoel die kommissie is veels te haastig. Daarom moes Fordsburg se skriba die Ringskommissie inlig “dat daar onlangs ’n afstigting plaasgevind het en dat die kerkraad besig is (om) aan die nuutgestigte gemeente Vrededorp £7 10s. per maand te betaal vir twee jaar. Voordat daardie saak nie afgehandel is nie, sien die kerkraad nie kans om tot verdere afstigting oor te gaan nie” (Kerkraadsnotule, April 1928).

Twee jaar later, toe Fordsburg sy verpligting teenoor Vrededorp nagekom het, dring die Ringskommissie aan dat die kerkraad ten minste ’n hulpprediker vir Brixton moet aanstel. Uiteindelik slaag hy in Maart 1931 om die diens van prop. D.S. Lubbe te bekom, maar toe hy ’n maand of wat later vertrek, besluit die kerkraad “om vir eers nie weer ’n hulpprediker te bekom nie” (Kerkraadsnotule, Mei 1931). So duur die toestand meer as twee jaar voort totdat ouderling P.C.N. Jooste in die kerkraadsvergadering van Oktober 1933 opstaan en die mening lug “dat die gemeente te groot geword het vir een predikant . . . en dat die tyd aangebreek het om ’n deel van die gemeente af te stig of ’n hulpprediker te verkry” (Kerkraadsnotule, Oktober 1933).

Eiendom in Brixton aangekoop

[wysig | wysig bron]

Die kerkraad het nie kans gesien om weereens ’n hulpprediker aan te stel nie en so het die oortuiging al hoe meer posgevat dat Brixton en omstreke liewer afgestig moes word. Ter voorbereiding hiervoor het die kerkraad aan die einde van 1935 die Masonic-saal (met die aangrensende twee erwe) in Brixton teen £775 aangekoop. Hoewel dié saal meer met die oog op bidure, basaars en Sondagskoolbehoeftes as die hou van wyksdienste aangekoop is, het dit tog groot stukrag aan die afstigting van Brixton gegee. Trouens, die saal was skaars twee maande in gebruik toe die afstigting van Brixton en Mayfair-Wes in Fordsburg se kerkraadsvergadering ter sprake kom. In Februarie 1937 verwys die kerkraad dan ook die saak na ’n spesiale kommissie wat uit sy geledere aangestel is.

Brixton uiteindelik selfstandig

[wysig | wysig bron]

Tydens die kerkraadsvergadering van 27 April 1937 doen die kommissie verslag dat daar in Brixton en Mayfair-Wes 855 lidmate woon en beveel hy die afstigting van dié wyke aan. Die kerkraad aanvaar nou die aanbeveling en kom ooreen oor die moontlike grense van die te stigte gemeente. Op sy vergadering die maand daarna kom die kerkraad ook ooreen om die saal in Brixton en £750 aan die dogtergemeente te skenk indien tot afstigting oorgegaan sou word. Ds. Pauw word ongelukkig kort daarna ernstig siek en toe hy met siekteverlof gaan, moes die kerkraad die verdere voorbereiding op Brixton se afstigting staak.

Ná die leraar se dood in November 1937 het die kerkraad egter die afstigting hervat en op voorstel van ouderling De Kock besluit om die voltooide waarborglyste na die Ringskommissie deur te stuur, met die versoek dat die afstigting van Brixton (met Mayfair-Wes en Crosby) so gou moontlik deurgevoer moes word. Met die afstigting hangende, besluit die kerkraad ook om te wag met die beroep van ’n nuwe leraar totdat dit ’n voldonge feit was.

Nadat die kerkraad van Langlaagte ingestem het om die blok tussen St. Fillans- en St. Gothardlaan aan die te stigte gemeente af te staan, het die Ringskommissie op 20 April 1938 die afstigting deurgevoer en Brixton tot selfstandige gemeente verklaar.

Saal en pastorie in Mayfair

[wysig | wysig bron]

Met die oog op die vinnige uitbreiding in die rigting van Mayfair, het die kerkraad reeds in April 1927 besluit om om agt erwe in daardie wyk aan te koop. Tydens sy vergadering van Augustus 1928 besluit die kerkraad op aanbeveling van ds. Pauw om ’n spesiale kommissie aan te stel wat ondersoek moes instel na die bou van ’n nuwe saal en pastorie op dié erwe in Mayfair. Ná ’n grondige ondersoek lê hulle in Oktober daardie jaar hulle bevindings en aanbevelings voor die kerkraad, naamlik die bou van ’n saal van sowat £1200 en ’n pastorie van sowat £2000. Die kerkraad besluit om tot dié stap oor te gaan sodra die gemeente dit aanvaar op ’n algemene vergadering, wat dan ook die geval was op 13 November.

Die bouaannemer, ene Labuschagne, het die fondament in Mei 1929 begin lê en op 16 November daardie jaar is die nuwe saal en pastorie in Mayfair tydens ’n gemeentelike geselligheid feestelik ingewy. Die grond het £1 275 gekos en as ’n mens die koste van die rioolstelsel, wat in die jaar daarna aangelê is inreken, het die hele onderneming die gemeente £4 056 gekos. Hierna is die pastorie in Fordsburg self aan die koster verhuur, sodat ds. en mev. Pauw na Mayfair kon verhuis as eerste bewoners van die nuwe pastorie.

Kerkgebou ook uit Fordsburg na Mayfair

[wysig | wysig bron]
Die tweede kerkgebou van Fordsburg met sy meer as 600 sitplekke is op Maandag 29 April 1940 ingewy en het die gemeente meer as £7 700 gekos. (Die kerktoring is ongelukkig op die oorspronklike foto afgesny).
Die kerkgebou in 2017 nadat dit jare tevore reeds in 'n moskee omskep is.

Ds. Pauw is op 14 November 1937 in die Johannesburgse Algemene Hospitaal oorlede aan die gevolge van ’n akute nierkwaal en twee dae later uit die kerkgebou, waarin hy amper twaalf jaar lank die boodskap verkondig het, begrawe. Die kerk was so vol dat die verrigtinge per luidspreker na die groot menigte buite die kerk uitgesaai moes word. ’n Lang stoet van sowat 280 motors en twee munisipale busse het sy oorskot tot by die Brixtonse begraafplaas gevolg waar die skare om sy graf 19 leraars ingesluit het.

Tydens die daaropvolgende vakature het prop. C.J. Herold die gemeente tot Mei 1938 bly bedien. Die eerste en enigste beroep is op 23 April daardie jaar op prop. J.J. Louw van Benoni uitgebring en op 30 Junie bevestig die konsulent van die gemeente, ds. J.D. van Niekerk van Langlaagte, hom as vyfde predikant van die gemeente. Sy dienstyd was die korste van al die predikante tot op daardie tydstip, want reeds op 30 Maart 1941 neem hy afskeid om ’n beroep na Springs-Oos te aanvaar.

Waarskynlik die grootste gebeurtenis tydens ds. Louw se dienstyd is die bou van ’n nuwe kerkgebou in Mayfair, naasaan die saal en pastorie. Reeds voor 1920 het die kerkraad begin bekommerd raad raak oor die “snel-toenemende Indiër-indringing”[1] in Fordsburg. Die eerste stap om die middelpunt van die gemeente uit Fordsburg te verskuif, was die bou van die pastorie en saal in Mayfair in 1929, maar toe die ou kerkgebou in die jare dertig reeds “aan alle kante deur die Asiaat ingesluit was”, het dit ’n dringende saak geword.

Omdat daar nog skuld van sowat £2 000 op die nuwe geboue in Mayfair gerus het, het die kerkraad in Junie 1934 besluit om eers te wag met ’n voorstel van ’n ouderling dat die kerkgebou verskuif word, tot dié skuld gedelg is. In Oktober 1937 is die saak weer op ’n kerkraadsvergadering geopper en dié keer benoem hy ’n kommissie om die saak deeglik te ondersoek. In dié tyd is ds. Pauw oorlede en hoewel die kommissie in 1938 aanbeveel het dat die kerk op ’n oop stuk grond in Mayfair gebou moes word, het die kerkraad besluit om te wag totdat die volgende predikant eers bevestig was.

Ds. Louw was pas bevestig toe die kerkraad ’n boufonds in die lewe roep en die gemeente alles in die stryd begin werp om dit. Eers moes die gemeente egter sy kerkgebou in Fordsburg verkoop. Dié transaksie, waarby die ou pastorie ingesluit was, het uiteindelik £5 000 opgelewer, maar dit het die leraar en kerkraad heelwat hoofbrekens besorg. Toe die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 31 Mei 1895 grond aan Langlaagte skenk met die oog op die oprigting van kerklike geboue in Fordsburg, was dit met die voorwaarde dat, indien dit later ongeskik sou blyk te wees, die kerkraad dit sou kon verkoop, mits die opbrengs bestee sou word aan die bou van ’n kerk in die “standsdorp” waar die vorige kerk gestaan het, wat dus die moontlikheid van ’n verskuiwing na Mayfair uitgesluit het.

Die Registrateur van Aktes het die kerkraad ingelig dat die besluit van die Uitvoerende Raad eers gewysig sou moes word. Die kerkraad het dan ook dié wysiging aangevra en verkry, waarna die kerkraad in Junie 1939 besluit het om die ou pastorie en kerk in Fordsburg te verkoop en die nuwe kerkgebou in Mayfair op te rig teen £10 000.

Nuwe kerk gebou

[wysig | wysig bron]
Ds. Daniël Theron, eerste leraar, 1897–1914, later sendingsekretaris van die Transvaalse Kerk.
Die kerkgebou vorm nou deel van 'n moskee.
Ds. J.C. Pauw, vierde leraar, 1925–1937.
Ds. J.J. Louw, vyfde leraar, 1938–1941.
Ds. I.J. Haasbroek, sewende leraar, 1947–1950.
Ds. Z.A.N. van den Heever, 1951–1953, daarna eerste leraar van dogtergemeente Mayfair.
Ds. J.N. Botha was leraar hier van 1950 tot sy aftrede in 1976.

Die boukommissie is in Julie 1939 onder voorsitterskap van ds. Louw saamgestel, het ’n plan deur die argitekte Geers en Geers laat optrek en daarna tenders aangevra. Vroeg in Januarie 1940 is dié plan van George Beckett aanvaar.

Ds. Louw het die hoeksteen van die nuwe kerkgebou in Vierdelaan, Mayfair, op 2 Maart 1940, gelê. Sowat 250 belangstellendes, onder wie ds. Pauw se weduwee, besoekende predikante en stadsraadslede, het die geleentheid bygewoon. Louw se toespraak was na aanleiding van die steenskrif: “Hierdie klip sal ’n getuie teen ons wees” (Josua 24:27). Ná nog enkele toesprake het ’n offerlegging op die steen die bedrag van £60 opgelewer.

Die bouery het fluks gevorder en reeds op Maandag 29 April 1940 is die kerkgebou ingewy. Prof. dr. D.J. Keet van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria het die wydingsrede uitgespreek. Die kerk het 600 sitplekke gebied en het, orrel, horlosie, klok, meubels ens. ingesluit, £7 712 6s. 6d. gekos.

Veral bejaarde lidmate het swaar afskeid geneem van die kerkgebou en pastorie in Sentraalweg, Fordsburg, waar die gemeente meer as 40 jaar lank aanbid het. Die amptelike afskeid was op Sondag 28 April 1940, die dag voor die inwyding van die nuwe kerkgebou. Vir die laaste maal is die Nagmaal in die ou kerk gevier en die aand om seweuur is die plegtige afskeid gehou. Al was die weer ongunstig, was die ou kerk vir oulaas stampvol. Ds. A.P. Smit skryf: “Die atmosfeer was somber. Selfs opgewekte koorliedere kon die stemming nie verander nie. Meer as een traan is in stilte gestort, veral toe die koor onder die uitgaan van die kerkgangers aan die einde van die diens, met aangrypende erns die lied, Moet ek gaan met leë hande, gesing het.

“En so het die ou kerk en pastorie in vreemde hande oorgegaan. Dit is later gesloop en besigheidsplekke is daar opgerig.”[2]

Latere ontwikkelings

[wysig | wysig bron]

Die NG gemeente Mayfair (in die suidelike deel van die voorstad) het in 1953 van Fordsburg afgestig, maar is reeds in die sewentigerjare by die moedergemeente ingelyf.

Die gemeente se naam is in die tagtigerjare na Goudstad verander, waarna dit in 1988 ingelyf is by NG gemeente Langlaagte en dié saamgestelde gemeente se naam toe ’n kort rukkie Goudlaagte was. Voor die drie-in-een-gemeente ingelyf is by NG gemeente Vergesig (wat op sigself uit drie dele bestaan het en waarby Crosby-Wes ook later ingelyf is), is sy naam terug verander na Langlaagte. Fordsburg se toringkerk is na die gemeente se inlywing by Langlaagte omskep in die hoofkantoor van die Islamitiese Sultan Bahu-sentrum.[3]

Bitter min lidmate van die NG kerk bly oor in die gedeelte van die Vergesig-gemeente wat voorheen binne die grense van Fordsburg geval het.

Ligging

[wysig | wysig bron]

Die kerkgebou, nou ’n moskee, was geleë by Vierdelaan 44 in Fordsburg.[4]

Dogtergemeentes

[wysig | wysig bron]

Leraars

[wysig | wysig bron]
  • Daniël Theron, 1897–1914 (eerste leraar)
  • Barend Frederik van der Merwe, 1915–1920
  • Johannes Stephanus Marais, 1920–1925
  • Jacobus Cornelis Pauw, 1925 – 13 November 1937 (oorlede in die amp)
  • Jacobus Johannes Louw, 1938–1941
  • Francois Gerhardus Badenhorst, 1941–1948
  • Isak Johannes Haasbroek, 1947–1950
  • Johannes Nicolaas Botha, 1950 – 4 Januarie 1976 (emeriteer)
  • Zacharias Andreas Neethling (Sakkie) van den Heever, 1951–1953 (word eerste leraar van Mayfair)
  • Johannes Stefanus Krige, 4 Desember 1977–1982 (waarna Aucklandpark en van 1995 Johannesburg)
  • Theo Swart, 1982–1984 (word dosent in Islamkunde aan RAU)
  • Christo Naudé, 1984–1988 (laaste leraar)

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Smit, ds. A.P. (1948). Ons Kerk in die Goudstad (1887–1947). Kaapstad: Kerkrade van Johannesburg, Fordsburg, Johannesburg-Oos en Jeppestown. pp. bl. 198.
  2. Smit, ds. A.P. (1948). Ons Kerk in die Goudstad (1887–1947). Kaapstad: Kerkrade van Johannesburg, Fordsburg, Johannesburg-Oos en Jeppestown. pp. bl. 204.
  3. "Die Sultan Bahu Sentrum Kontakinligting" (in Engels). Sultan Bahu Centre. Geargiveer vanaf die oorspronklike (html) op 5 September 2012. Besoek op 14 Maart 2012.
  4. Vierdelaan 44, Fordsburg, Google Maps

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (af) Hofmeyr, F. (1950) Brandhout uit die vuur. Bloemfontein: Die Sondagskool-Boekhandel.
  • (af) Kestell, J.D. (1932) Abraham Paul Kriel – sy lewe en werk. Langlaagte: Die Abraham Kriel-Kinderhuis.
  • (af) Smit, ds. A.P. (1948) Ons Kerk in die Goudstad (1887–1947). Kaapstad: Kerkrade van Johannesburg, Fordsburg, Johannesburg-Oos en Jeppestown.
  • (af) Stals, prof. dr. E.L.P. (red.) (1986) Afrikaners in die Goudstad, deel 2, 1924–1961. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.
  • (af) Van Wijk, mev. A.J. (samesteller) (1964) Vroue-Sendingbond Kaapland na vyf-en-sewentig jaar 1889–1964. Kaapstad: Die Hoofbestuur van die Vroue-Sendingbond.