Lambertsbaai
Lambertsbaai is 'n kusdorpie aan die Atlantiese Oseaan in die Weskus, Suid-Afrika. Dit is by die monding van die Jakkalsrivier geleë. Dit was vroeër slegs 'n visserdorpie maar groei tot 'n toerismetrekpleister. Van die belangrikste vangste is kreef, ansjovis, sardyne en snoek. Die dorp word met die buitewêreld verbind met die R364- en R365-streekroetes. Die twee roetes sluit hier by mekaar aan.
Lambertsbaai | |
---|---|
Dorp | |
Witmalgasse op Voëleiland in Lambertsbaai. | |
Koördinate: 32°5′0″S 18°18′0″O / 32.08333°S 18.30000°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Weskus |
Munisipaliteit | Cederberg |
Oppervlak | |
• Totaal | 45,73 km2 (17,66 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 6 120 |
• Digtheid | 130/km2 (300/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 15.9% |
• Indiërs/Asiërs | 0.2% |
• Bruin mense | 74.5% |
• Swart mense | 9.0% |
• Ander | 0.4% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 90.9% |
• Xhosa | 5.8% |
• Engels | 1.7% |
• Ander | 1.6% |
Poskode (strate) | 8130 |
Poskode (posbusse) | 8130 |
Skakelkode | 027 |
Webwerf | http://www.lambertsbay.co.za |
Geskiedenis
wysigDie dorpie is gestig op die plaas Otterdam wat deur Johann Stephan besit was. Die Kaapse regering het die grond gekoop en die eerste erwe is in 1913 verkoop. Die dorp is vernoem na sir Robert Lambert, die bevelvoerder van die Britse vlootbasis aan die Kaap in 1820, wat opmetings van die see in die gebied gedoen het.
Tweede Vryheidsoorlog
wysigTydens die Tweede Vryheidsoorlog het generaal Barry Hertzog Vanrhynsdorp op 19 Januarie 1901 beset. Hy stuur toe 'n paar burgers na Lambertsbaai om verkenningswerk te doen. Hulle kom die Britse oorlogskip HMS Sybille teë wat in die baai voor anker lê. Nadat hulle die skip met verkykers beloer het, skiet hulle met hul gewere op die skip. Die bemanning van die skip het geskrik, kom tot verhaal en skiet terug. Geen party het skade gely nie en die burgers keer terug na Vanrhynsdorp. Dit was die eerste seeslag van die Tweede Vryheidsoorlog.[2]
Wapen
wysigLambertsbaai se munisipale raad het in 1982 'n wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer: Gedeel van silwer en blou, 'n keper aan weerskante vergesel van 'n tandrat en in die skildvoet van 'n regopgeplaaste wulkskulp, alles van die een in die ander; op 'n golwende rooi skildhoof 'n swemmende Kaapse snoek van goud. Die helmteken was 'n Kaapse malgas en die wapenspreuk "Porta maris portus salutis".[3]
Ekonomie
wysig'n Kreef-inmaakfabriek is in 1918 deur Axel Lindstrom geopen.[4] Die fabriek word egter nie meer gebruik vir die inmaak van kreef nie. Die aartappelskyfiebedryf het een van die fabrieke oorgeneem en vervaardig nou aartappelskyfies vir groothandelaars, kleinhandelaars en restaurante.[5]
Met die uitputting van visbronne aan die Weskus het die aktiwiteite by die Lambertsbaaihawe afgeneem. Die hawe word nou slegs gebruik word deur klein vissersbote, en 'n paar diamantbote wat gebruik word vir baggerwerk en duikbedrywighede in die diamantvelde na die noorde.[6]
Voëleiland
wysigVoëleiland is 'n gewilde besoekplek vir toeriste. Die eiland is 'n broeiplek van die witmalgas. Hier word ook jaarliks ghwano verwyder.
Sien ook
wysig- Lys van dorpe in Suid-Afrika
- Nag van die negentiende, rolprent wat hier verfilm is.
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 1,2 1,3 "Hoofplek Lambertsbaai". Sensus 2011.
- ↑ The War Reporter. J.E.H. Grobler. Jonathan Ball Publishers. 2004. ISBN 978-1-86842-186-2
- ↑ National Archives of South Africa : Data of the Bureau of Heraldry.
- ↑ "Lambert's Bay in South Africa" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2018. Besoek op 3 Januarie 2017.
- ↑ "Creamer Media's Engineering News: Famous Brands buys Western Cape potato processor" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Januarie 2017. Besoek op 3 Januarie 2017.
- ↑ "Coastal and Marine Eco-Tourism Corporation: Lambert's Bay". Besoek op 3 Januarie 2017.[dooie skakel]
Bronne
wysig- Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. ISBN 1-86842-026-4
- Padlangs deur Suid-Afrika. 2010 ISBN 978-1-77007-751-5