Laerskool Louw Geldenhuys
Die Laerskool Louw Geldenhuys is ’n Afrikaansmediumskool in die Johannesburgse voorstad Linden.
Die skool is in 1902 in ’n skuur op die plaas van die welgestelde politikus en weldoener Lourens Geldenhuys met 40 leerlinge gestig. Aan die begin was die skool se voertaal Engels en het dit bekendgestaan as die Braamfontein Government School. Met die verskuiwing na Linden in 1916 het die naam verander na Linden Government School.
Vier jaar later is Afrikaans as onderrigmedium vir gr. 1 tot 4 ingestel. Teen die tyd dat die nuwe kompromislandsvlag op 31 Mei 1928 ook hier by die Lindense skool gehys is, was die buurt ’n gevestigde hoewegemeenskap waar veral met perskes geboer is.
Louw Geldenhuys is in 1929 oorlede en in 1936 is die skool ter nagedagtenis aan hom die Louw Geldenhuys-skool genoem. Eers in 1952 het dit ’n volwaardige Afrikaanse skool geword en die huidige naam gekry, die Laerskool Louw Geldenhuys. In 1965 het die skool sy huidige skoolgebou betrek, in 2002 sy eeufees gevier en in 2015 is nuwe geboue in gebruik geneem.
Bekende oudleerders
wysig- Regardt van den Bergh, akteur en regisseur
- Sybil Coetzee, aktrise
Bronne
wysig- (af) Die geskiedenis van die skool op sy webtuiste weergegee Geargiveer 8 Maart 2016 op Wayback Machine. URL besoek op 29 Februarie 2016.